Voorstelle ingedien sodat gesonde persone kan terugkeer werk toe

Mediese professionele persone van Kuba kom in Suid-Afrika aan (Foto: Elmond Jiyane/GCIS)

Solidariteit het Maandag voorstelle gemaak waarin gevra word dat alle werknemers wat gesond kan werk, toegelaat moet word om terug te keer werk toe waar moontlik.

“Ons loop die risiko dat die ekonomie onherstelbaar beskadig word deur ’n lomp inperking, wat ons vermoë om die stryd teen Covid-19 te voer, ernstig sal belemmer,” het dr Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit, gesê. “Daarom is dit kritiek dat ons slim handel met die inperking – dat ons so ver as moontlik gesonde werk toelaat en aanmoedig.”

Solidariteit vra dat die onus skuif van inperking van bo na ondernemings wat kan bewys dat hulle gesond kan werk en kliënte gesond kan hou.

“Daar moet eerder ’n sterk vooroordeel vir werk wees – met alle besighede wat gesond kan werk, toegelaat word. Regulasies kan dan die uitsonderings wat nie kan werk nie uitlig, eerder as wat dit die uitsonderings wat toegelaat word om te werk uitlig. Dit is tog ondenkbaar dat ’n minister doeltreffend sal kan besluit wie aan vereistes voldoen en wie nie. ’n Vertrouensooreenkoms is nodig tussen die regering en sy burgers. Ons is saam in die stryd – daarom moet die regering vertrou dat sy burgers nie net die nodige opofferings sal maak nie, maar ook die nodige omsigtigheid sal gebruik om die krisis aan te spreek,” het Hermann verduidelik.

Volgens Solidariteit moet alle ondernemings aan streng gesondheidsregulasies voldoen om die risiko van Covid-19 te bestuur. Indien hulle aan die regulasies kan voldoen moet hulle met hul werksaamhede kan voortgaan.

Solidariteit het ’n omvattende goeie praktykskode vir gesonde werk opgestel wat presies uiteensit hoe feitlik alle besighede kan heropen gegewe voldoende gesondheidsmaatreëls. Van die voorstelle sluit in dat besigheidsure verleng word en maatskappye sodoende vol kapasiteit kan tref terwyl die hoeveelheid mense op ’n perseel beperk word.

“Hierdie praktykskode behoort die basis te vorm vir regulasies vir gesonde werk, gesonde werkplekke en ’n gesonde ekonomie. Die fokus moet nou skuif na die balans tussen ekonomie en gesondheid – ons kan beide aanspreek deur gesond te werk,” het Hermann voorts gesê.

Hierdie voorstelle van Solidariteit is deel van die insette wat die regering oor die inperkings gevra het wat vandag om 12:00 gesluit het.

Solidariteit stel verder voor dat die inperking van mense se beweging veel eerder gedesentraliseerd moet plaasvind.

“Uit die regering se data is dit duidelik dat nie alle distrikte in die land ewe hard gebuk gaan onder die virus nie – ’n slim inperking wat burgers toelaat om vrylik te beweeg en in lae-risiko distrikte te werk, en beweging eerder strenger in hoë-risiko distrikte in te perk is nodig,” het Hermann aangevoer.

“Hierdie is ’n ongekende krisis, en ons reaksie hierop moet ongekend buigbaar en dinamies wees. ’n Lomp inperking wat mense nie toelaat om gesond te werk nie, gaan meer sleg as goed doen,” het Hermann afgesluit.

Wil jy op die hoogte bly van alle nuus oor Covid-19 op Maroela Media? Klik hier om in te teken op ʼn daaglikse nuusbrief.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

14 Kommentare

PH ·

Solidariteit se benadering sal sinvol wees, maar ongelukkig mens kry die indruk dat onse ministers geniet hulle hef-in-die-hand mag te veel as om liewers produktiwiteit te ondersteun

Susan ·

Ek stem saam met Solidariteit. Laat ons werk toe gaan voor als ten gronde gaan. Wil hulle nou he ons moet lockdown he tot di einde van di jaar? Mense gee ni gehoor om tuis te bly ni en ons moet verder ingeperk word deur hulle stupidity. Elke dag word meer mens geinfekteer. Want geen maskers word gedra ni????????

Barbara ·

Ek stem. As alle besighede nie kan begin bedryf gaan baie van ons besighede toe maak. Dis moet die plig van elke klein sake eienaar wees om seker te maak sy personeel voldoen aan alle maatreëls en is veilig, as hy sy besigheid wil red.

Die Wolf ·

Word in elk geval deur beroepsgesonheid en veligheid wetgewing voorgeskryf.

Chris ·

Uitstekende voorstel maar daar is geen manier die die magsbehepte ANC regering daartoe sal instemnie. Bloot weens die feit dat die voorstel nie deur een van die groot kanonne van die ANC gemaak is nie.

Gawie ·

Baie goeie voorstelle. Kom ons gee die regering kans om te reageer voor ons hulle afskiet. Nie een van ons wil op hierdie stadium in hulle skoene wees nie, want maak nie saak wát hulle besluit nie, iemand gaan ongelukkig wees.

Fedup ·

I actually agree with solidarity for once. Healthy people wearing masks, keeping a safe distance and using 70/80% alcohol spray at their work place should be allowed to go back to work. All of us need the income to survive. Now. This is for the little troll trailing a few of us here. We all have the right to our own opinions. If you don’t like it, don’t read it. Snide comments are for children and that thumbs down button is not something we share in this sand pit.

Johan ·

Moenie ophou om raad te gee en voorstelle te maak nie. Bid sonder ophou dat iemand sal luister en positief reageer.

Emily ·

Ek wil ook so graag teruggaan werk toe, Maar ek maak gebruik van busse. Maar ons busse word so oorlaai, jy staan bors teen bors met die mense. Hoop hulle kan daar plan maak.

Genis ·

Die Ministrie en staats amptenare kry geld, hulle is min gepla, want dit raak hulle nie… Al die ANC kaders is skatryk, so hulle salaris sny, beteken nie veel nie.. Ek dink dis ook n manier om die wittes te verlam..

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.