Voorstelle oor UP-taalbeleid ‘ook nie dié van senaat’

Een van Tuks se ikoniese geboue, "Die Skip" Foto: Mike Prins, Wikimedia Commons

Een van Tuks se ikoniese geboue, “Die Skip” Foto: Mike Prins, Wikimedia Commons

Die voorgestelde wysigings aan die Universiteit van Pretoria (UP) se taalbeleid, waarvolgens Engels die primêre onderrigtaal sal wees, is nie die voorstelle van die taalbeleid-taakspan óf die senaat, soos die UP beweer nie.

ʼn Senior professor aan UP en lid van die senaat, wat anoniem wil bly, het gesê die wysigings wat deur die rektor deurgegee is, is nie die voorstelle van die taakspan of wysigings van die senaat nie.

Maroela Media het vroeër berig prof. Cheryl de la Rey, rektor, het per e-pos aan personeel, alumni en ander belanghebbendes gesê die taakspan het voorgestel Engels moet die primêre onderrigtaal by die universiteit wees en Afrikaans en Pedi sal gebruik word om bykomende steun aan studente te gee.

Verskeie lede van die taakspan het intussen aan Maroela Media bevestig dit is nie die geval nie. Die taakspan het veeltaligheid voorgestel en dat Afrikaans en Engels as voertale moet bly.

Prof. Norman Duncan, UP se viserektor: akademies, het in korrespondensie, wat Maroela Media onder oë gehad het, erken die voorstelle is nie dié van die taakspan nie, “maar eerder dié van die senaat”.

Volgens die senior professor, wat ʼn lid is van die senaat, is dit egter nie die geval nie. “Die senaat het ook gesê meertaligheid en Afrikaans en Engels moet bly. ʼn Konsultasieproses van ses maande is voorgestel. ʼn Taakspan vergader vir meer as ʼn jaar hieroor en dan word die besluit eensydig en outokraties verander. Dit veroorsaak ʼn vetrouensbreuk onder personeel. Dosente is te bang om hul opinies te lug as hulle pro-Afrikaans is. UP is ʼn nasionale bate en word tans van binne en buite aangeval, maar dit is die moeite werd om daarvoor te veg.”

Maroela Media het reeds vroeër ʼn versoek om kommentaar aan prof Duncan, wat tans in die buiteland is, gerig. Geen terugvoer is ontvang nie en nog ʼn versoek om kommentaar oor die nuutste verwikkelinge is aan die universiteit gerig.

Anna-Retha Bouwer, woordvoerder van die universiteit, het intussen bevestig ʼn spesiale spitsberaad is Woensdag gehou waar verskeie organisasies, waaronder lede van die ANC, die Solidariteit Beweging en studentegroepe, vergader het om ʼn ooreenkoms op te stel. ʼn Aankondiging sal na verwagting oor die naweek hieroor gedoen word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

14 Kommentare

tamboti ·

Nog mense wat D.klrk toertjies trek, op hul eie handel en se; nee almal dink so! Vat jy hulle vas reken hulle hul standpunt is verkeerd ge-interpreteer.

jaco ·

Dis jammer Afrikaans is besig om te verdwyn. Afrikaanssprekendes moet egter bly wees Engels, wat ‘n wit Europese taal is en wyd bekend is en gebruik word, word nou op hulle afgedwing. Dink het hoe sou ons gesukkel het as Zulu of Xhosa of Tswana op ons afgedwing was.
Afrikaans is blykbaar taboe omdat dit die taal van die vorige onderdrukker is. Dit bly interessant dat Engels dan in die plek van Afrikaans gestel word, want dwarsoor die ou British Empire was Engels die taal van onderdrukking en was daar in talle kolonies sogenaamde “liberation struggles” teen die Engelssprekende Britte. As daar geen onderdrukking was nie, waarom bestaan hierdie Empire dan nie meer nie?
In Angola en Mosambiek was Protugees die taal van die onderdrukker. In elkeen van die kolonies was daar ‘n lang en bloedige liberation struggle. Duisende inheemse Angolese en Mosambiekers is dood. Maar tog is die Portugese taal daar behou na suksesvolle afloop van hulle liberation struggles. As hulle wakker genoeg kon wees, waarom is die freedom fighters wat nou die SA regering is dan so dom om teen Afrikaans te diskrimineer EN dit met maar net ‘n ander wit Europese taal te vervang?

corlie ·

En boonop is Afrikaans ‘n Afrika taal, die enigste taal in Afrika wat in naam ‘n Afrika konneksie het! Afrikaans het hier op eie bodem sy bestaan, en is een van die jongste tale op aarde. Nou moet die taal geboelie word en ‘n Europese taal word aanvaar? Maar nou-ja, dis seker as die kop by die stert sit en die stert by die kop!

Loeis ·

Ons moet nie “bly” wees oor Engels nie, Jaco. Hulle wil ons taal van ons wegvat, en dit is niks om oor bly te wees nie.

Wat jy oor die “Empire” geskryf het, is 100% in die kol.

Ben ·

Ek weier om Engels te praat. As Afrikaans die taal van die onderdrukker is/was. Wat noem ons Engels wat die taal is/was van die mense wat veroorsaak het dat my ouma, ooms en tannies en 25,000 ander volksgenote in konsentrasie kampe soos diere aangehou is en gesterf het van honger en die haglike omstandighede. Van hulle is verkrag en vermoor. Dit wat die sogenaamde onderdrukker gedoen het was nie ‘n “patch” teen die volksmoord in die konsentrasiekampe nie. ( Die Duitsers het ook baie goed by die Engelse geleer.) Lank lewe my taal!!!

Loeis ·

Baie goeie punt. Daar het ook tydens daardie selfde oorlog ongeveer 13000 swartes in Britse konsentrasiekampe gesterf.

Die Britte het die taal van die onderdukker gepraat. Dit is die taal waarvoor swartes (en ‘n paar selfveragtende blanke Afrikaanssprekendes) vandag veg. Is dit nie ironies nie.

anna ·

Weet hierdie geleerdes nie wat in hulle Universiteit aangaan nie? Hulle is totaal pateties of het Cheryl haar eie “slim” koppie gebruik?

Flippie ·

Kan ‘n rektor so lief? Is die profesore so bang dat hulle nie standpunt kan inneem nie. As akademie se perspneel te bang is om eerlike opinies te lug en om stanfpunt in te neem dan is ons tersiere inrigtings gedoem.

Tersiëre inrigtings se ruggraat was nog altyd gebou op akademici wat standpunte kom inneem en wat ook gedien as voorbeelde vir die studente.Manne en vroue wat uitstaande leiers moet wees.

Dit lyn my die universiteite is nou plekke waar slim en geleerde slapgatte kongrueer.

Roojan ·

Flippie ek wou eers met jou saamstem, maar toe besef ek, ek staan in ń glashuis, ek durf nie my eie naam gebruik om kommentaar te lewer nie want my werkgewer sal my afdank en met twee kinders op universiteit kan ek dit nie bekostig nie. Hulle is ook maar net mense wat ń bestaan moet maak en in vandag se Suid Afrika moet jy jou woorde ter ondersteuning van Afrikaans in die algemeen en die Afrikaner in die besonder baie versigtig omdraai as jy nie jou werk wil verloor nie. Ek is net bly sommige van die senior personeel is darem bereid om iets te sê en doen al is dit op voorwaarde van anonimiteit.

anna ·

carel ek wens ek het geweet. ek wonder of die lot ons kommentaar lees dan sal hulle weet hoe ons voel maar verder weet ek nie. enige voorstelle?

Poplap ·

jy moet hoop dat ‘hulle’ nie hierdie kommentare te lese kry nie. Ge-oordeel aan die spelling en sinskonstruksie, sal die ‘lot’ hul nie aan wat wie ookal hier te sê het, steur nie.

jan ·

slegte sinkonstruksie veroorsaak gelukkig nie betogings en terrorisme nie. of wat praat anna alles? stem jy saam poplap?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.