Voorstelle van Internasionale Ondersoekspan by NWU belemmer multi-kulturele inslag

Potch-320x227Volgens AfriForum Jeug is die bevindings en voorstelle in die evaluasieverslag wat die Internasionale Ondersoekspan insake die Noordwes-Universiteit gemaak het, kortsigtig en stel dit ’n tree agteruit voor vir dié Universiteit se toekoms en transformasieproses. Dié jeugorganisasie is ook van mening dat die buitelandse lede van die ondersoekspan nie ervare genoeg in Suid-Afrika se unieke situasie is nie, en dat hulle nie-lewensvatbare voorstelle maak, wat onstabiliteit juis sal verhoog op die NWU se drie kampusse.

“Die NWU roem nog altyd op volhoubare transformasie wat op meriete en ’n noue band met die Grondwet geskoei is.  Die voorstel dat Afrikaans se belangrikheid as akademiese taal by die Universiteit verminder moet word, is ’n tree agteruit wat nasionale, maar spesifiek NWU-verbonde transformasie betref.  As ons onsself internasionaal as ‘n reënboognasie bemark, moet ons eie regering sekerlik verstaan dat daar meer as een kultuur en taal binne hierdie reënboogruimte opgeneem is.  Juis hierdie multi-kulturele inslag word deur die paneel misgekyk. Een taal hoef nie benadeel te word om ‘n ander te bevoordeel of selfs te bevorder nie,” het Paul Maritz, voorsitter van AfriForum Jeug op die NWU-Potchefstroomkampus gesê.

Die New Age-koerant het berig dat die belangrikheid van die verslag beklemtoon word deur die skielike uittrede van die voormalige visiekanselier, dr. Theuns Eloff, sowel as vermeende rassistiese praktyke op die Potchefstroomkampus.

“Die belangrikheid van moedertaalonderrig op alle vlakke was die afgelope 20 jaar ’n groot besprekingspunt in Suid-Afrika. Dit is teleurstellend dat die ondersoekspan jare se navorsing en kennis op hierdie gebied eenvoudig oorgesien het.  Hulle meld dat die NWU finansieël en op bestuursvlak vooruitstrewend is, maar op geen punt word die moontlikheid oorweeg dat die taalbeleid ten sterkste tot hierdie stabiliteit en groei bygedra het nie,” het Maritz afgesluit.

AfriForum Jeug sal onverpoos veg vir moedertaalonderrig in Suid-Afrika.

Lees ook:
NWU-verslag beïnvloed deur onlangse Puk-debakel, meen talle
Puk: Engels moet gelyk met Afrikaans, sê verslag

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.