Voortbestaan van Afrikaner-kultuurorganisasies bespreek

fak-leierskapkonferensie-2017-04

Prof. Danie Goosen, voorsitter van die FAK, by die gedenkplaat wat in die tuin van die NG-gemeente Lyttelton in Centurion onthul is ter herdenking van Reformasie 500. Foto: Verskaf.

Skole, kerke en die gemeenskap is onontbeerlik vir die voortbestaan van ʼn kultuur, maar as gesinne nie gesond is nie kan nie een van hierdie aspekte werklik bly voortbestaan nie.

Dit was van die stellings wat deurentyd as tema opgeduik het by die FAK se leierskapskonferensie wat Dinsdag in Lyttelton net buite Pretoria gehou is. ʼn Uitgesoekte groep Afrikaner-kultuurorganisasies het tydens die konferensie saam besin oor die toekoms van dié kultuur.

Dr. Callie Opperman, emeritus predikant van die Gereformeerde Kerk Windhoek-Suid, het ʼn interessante kykie gee na die Afrikanergemeenskap in Namibië.

Volgens Opperman is alle steun vir Afrikaans en Afrikanerbewegings byna onmiddellik onttrek nadat Namibië in 1990 onafhanklik geword het. Daar is ook besluit om Afrikaner-kultuurorganisasies met Suid-Afrikaanse verbintenis “nek om te draai”.

Indien daar nog ʼn groot genoeg groep leerders was kon jonger kinders in hulle moedertaal onderrig word, maar van gr. 4 tot matriek is die staatskole in die land ook heeltemal verengels.

“Skielik het ons niemand in die regering gehad nie en niemand het meer simpatie vir Afrikaans gehad nie. Dit was ʼn skok vir die kultuur in Namibië want ons was eintlik voorheen bederf.

“Die positiewe wat daaruit gespruit het, is dat daar ouers na vore gekom het wat gesê het hulle kinders moet in Afrikaans onderrig word. Mense het skole begin stig en op sommige plekke het skooltjies van 20 tot 30 kinders ontstaan. Uiteindelik was daar 5 000 kinders in Afrikaanse private skole. Jong mense het ook in kleiner dorpies gaan woon waar hulle kinders van gr.1 tot matriek kan skool gaan en so het die gemeenskap nie net verouder nie.

Die individueel gestigte skole kon egter nie net op hulle eie in Namibië bly voortbestaan nie. So is ʼn vereniging vir Christelike Afrikaanse onderwys gestig. Volgens Opperman is dit ʼn forum wat vir skole geleentheid bied om te kan beplan.

Hy het gesê 27 jaar ná onafhanklikwording is daar opnuut in die land sterk belangstelling in moedertaalonderrig, en is daar ʼn nuwe ontvanklikheid daarvoor.

Opperman het boonop nog ʼn suksesverhaal, die Netwerk vir Afrikanerbelange, met die gehoor gedeel. Die netwerk het die bates van verskeie kultuurorganisasies wat ontbind het bymekaar getrek en is deesdae die “stukrag vir Afrikaners” in Namibië.

“Vanuit Namibië kan ek vir julle sê daar is hoop, ʼn roepingsbewustheid, visie en talle jong mense wat by die toekoms van Afrikaners betrokke is,” het hy bygevoeg.

fak-leierskapkonferensie-2017-02

ʼn Uitgesoekte groep Afrikaner-kultuurorganisasies het tydens die FAK se leierskapkonferensie Dinsdag in Centurion saam besin oor die toekoms van dié kultuur. Foto: Verskaf.

Dr. Danie Langner, besturende direkteur van die FAK, het gesê kultuurorganisasies kan hoop vir Afrikaners skep deur ʼn gemeenskapsgesentreerde selfdoenbenadering wat weg van staatsafhanklikheid beweeg.

“Bly getrou in die bediening van die Woord, gaan terug na die skool, versorg jou mense en sorg dat hulle blyplek het,” het hy gesê.

Langner het die kultuurorganisasies aangemoedig om na hulle “historiese DNS te kyk om te sien waar hulle kulturele kapitaal kan ontsluit en dit eietyds kan toepas”.

Hy het die NG-gemeente Lyttelton as voorbeeld voorgehou waar die kerk deesdae ʼn skool vir 90 leerders bedryf, asook woonstelle vir jong werkende mense en konferensiefasiliteite aangebou het en ʼn maatskaplike fasiliteit geskep het vir kinders wat nie noodwendig in ʼn kinderhuis geplaas kan word nie.

Konferensiegangers het na afloop van die geleentheid ook deelgeneem aan ʼn boomplantseremonie ter herdenking van die 500 jaar sedert Martin Luther sy 95 stelling aan Wittenberg se kerkdeur vasgespyker. Luther se optrede het eindelik tot ʼn skeuring in die kerk gelei en tot die ontstaan van Evangeliese-Lutherse kerke en ander Protestantse denominasies.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Blink toekoms ·

Ons toekoms is blink. Soos die amder se instellings val so bou ons aan ons eie instellings, en die keer het ons ons les geleer, ons sal nie weer dat ons instellings gekaap sal word deur ander wat ons uitdruk nie.

Dirk ·

Daar is die FAK finaal oppad om ons kultuur vir ander te verruil, net om die gemerk te word nie.

Fanie ·

Dirk, is als reg ou maat? Jy’t seker per ongeluk die berig onderstebo gelees. Drink ‘n lekker koppie tee en lees hom weer stadig deur.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.