Voortgesette misdaadaanslag op landbousektor ‘onaanvaarbaar’

Die Witkruismonument vir slagoffers van plaasaanvalle. (Argieffoto: Anja van der Merwe)

Vrystaat Landbou (VL) sê die voortgesette misdaadaanslag op die landbousektor is onaanvaarbaar en landbouers is nie meer bereid om die wetteloosheid toe te laat nie.

Die organisasie het gereageer op die aanval op die Hennenman-boer, Pieter Hills. Die 56-jarige Hills is einde verlede week op teregstellingswyse doodgeskiet. Sy seun, Eddie (26), is in dieselfde aanval in die nek geskiet en is intussen breindood verklaar.

“Woorde kan nie die impak van hierdie lewensverlies en trauma van hierdie brutale dade beskryf nie,” het Francois Wilken, president van VL, gesê.

VL se plaaslike boerevereniging van Hennenman het die eerste hofverskyning van die verdagte Maandag bygewoon en sê hy sal terug in die hof wees wanneer die saak hervat word.

Die organisasie sê dit het intussen aan die lig gekom dat die plaaslike landelike veiligheidskoördineerder van die polisie in die streek nie oor ʼn voertuig beskik om sy werk mee te doen nie. VL sê TP Theron, voorsitter van die plaaslike boerevereniging, het bevestig ʼn brief in dié verband is aan die polisie oorhandig waarin die landbougemeenskap sy misnoeë met die situasie te kenne gee. Die brief is ook na die polisie se provinsiale kantoor gestuur.

VL sê dit is belangrik dat die regering die beloftes wat ná die Senekal-plaasaanval gemaak is, in werking begin stel. In hierdie voorval is Brendin Horner (21) wreed vermoor, vermoedelik deur veediewe. Die aanval het die groeiende ontevredenheid met die misdaadsituasie op baie plattelandse gebiede weer eens benadruk.

Bheki Cele, minister van polisie, het die streek en Horner se familie onder meer ná die voorval besoek.

“Die Hennenman-plaasmoord wys die polisie se beloofde impak blyk beperk te wees. Korrupsie in die plaaslike polisie skep ʼn wettelose omgewing wat plaasaanvalle in die hand werk en optrede hierop is steeds beperk,” het Wilken gesê.

“VL werk voort aan die implementering van ʼn veiligheidsplan en ander inisiatiewe om saam met alle rolspelers landelike misdaad te bekamp, maar sal self ook voortgaan indien die regering traag is om op te tree.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

15 Kommentare

jongste oudste gewildste
JM

Here, hoeveel nog?!

Dup

As almal wag vir die polisie of regering om proaktief op te tree,gaan hulle lank wag.

Jerry

Niks sal verander tot ons boere nie self dinge in ons eie hande vat nie

Genis

Nog n groot probeem is die buitelanders wat ook deur hulle geverf word, om die vuil werk te doen…

Pieter

Meeste van SAP karre staan by kfc of is af geskryf of ry die kinders skool toe.