Voortrekker-plaasbestuurder sterf toe hy kinders help

Chris Giliomee (Foto: Facebook)

Die terreinbestuurder van die Doornkloof Voortrekkerplaas is Vrydagaand oorlede tydens ’n tragiese voorval op die kultuur- en wildplaas naby Lindley in die Vrystaat.

Chris Giliomee is deur vloedwater meegesleur terwyl hy besig was om kinders, wat ’n kamp op Doornkloof bygewoon het, na veiligheid te bring.

“Ons harte is vandag stukkend met die kennis van Chris se tragiese dood,” het Willie Engelbrecht, gebiedsleier van die Voortrekkers in die Vrystaat, gesê.

Volgens Engelbrecht het meer as 140 mm reën op die plaas geval. “Ons harte gaan uit na [sy vrou] Jackie, sy kinders, kleinkinders en ander familie.

“Chris sal onthou word vir sy liefde vir die kinders, [sy] hande wat vir niks verkeerd gestaan het nie, ongelooflike harde werk, poetse bak en aansteeklike lag.”

Giliomee is sedert 2018 terreinbestuurder van Doornkloof.

Leerders van die Hoërskool Witteberg in Bethlehem het op die plaas gekamp. “Witteberg bedank die hele Lindley-gemeenskap en ook die Lindley-boeregemeenskap vir jul hulp en bystand tydens die vloedramp op Doornkloof. Met God se genade is elke koorleerder veilig by hul huise,” het die skool gesê.

Doornkloof was die plaas van die Voortrekkerleier Sarel Cilliers en hy is op die plaas begrawe.

Daar is nog nie enige begrafnisreëlings getref nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Miskruier ·

Geen liefde is groter as die wat sy lewe aflê vir n ander. Sterkte aan die familie.

Swerwer ·

Innige sipamtie en meegevoel met die familie en vriende. Hy is vroeg weggeneem en sal altyd onthou word vir die onbaatsugtige diens wat hy gelewer het.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.