Voortrekkermeisies was ‘dapper’ tydens aanval

Argieffoto

Die voorval by die Voortrekkermonument in Pretoria waartydens ʼn groep gr. 7-Voortrekkermeisies saam met ʼn vroue-offisier aangeval is, is dié week ten sterkste veroordeel.

Maroela Media het vroeër berig die bestuur van die Voortrekkermonument is “erg geskok” nadat ʼn vroue-offisier en ʼn groep Voortrekkermeisies Vrydagaand tydens ʼn nagmars deur ʼn man aangeval en beroof is. Die toeristebestemming was ure later wéér die teiken van misdaad nadat dit onder ʼn gewapende rooftog deurgeloop het.

Cecilia Kruger, besturende direkteur van die Voortrekkermonument, en dr. Danie Langner, hoofleier van die Voortrekkers, het in ʼn gesamentlike verklaring gesê albei organisasies wil dit benadruk dat al die nodige veiligheidsmaatreëls getref is voor die voorval Vrydagaand plaasgevind het.

Langner sê die Voortrekkermeisies en die vroue-offisiere verdien spesiale vermelding vir hul dapper optrede tydens die voorval. “Die Voortrekkermeisies het kop gehou en [ten tyde van die voorval] dadelik kamp toe gehardloop om hulp te gaan soek,” verduidelik Langner. “In ’n poging om die kinders te beskerm, het ’n skermutseling tussen ʼn vroue-offisier, Annette van Schalkwyk, en die aanvaller ontstaan. Louise Enslin [ʼn vroue-offisier] het onmiddellik per WhatsApp-boodskap alarm gemaak. Sy en van die jeuglede het na die kampterrein teruggehardloop om hulp te ontbied. Carla van Schalkwyk, een van dié Voortrekkers, het onverskrokke op die gewapende aanvaller afgestorm wat haar ma, Annette, aangeval het en hom begin skop en slaan. Haar dapper optrede het die aanvaller laat vlug.”

Langner sê Rietvallei Voortrekkers het “alles menslik” gedoen om die jeuglede se veiligheid te verseker. “Afgesien van die Voortrekkermonument se eie veiligheidsmaatreëls het die Voortrekkers bykomende sekuriteit van ʼn veiligheidsmaatskappy gereël. Elke span is vergesel van twee Voortrekkeroffisiere wat die spanne begelei het en deurlopend met die organiseerders per selfoon in verbinding was.”

Langner sê die Voortrekkermonument bly ’n “kosbare kultuurterrein” wat deur Die Voortrekkers benut word en die organisasie sal nie toelaat dat misdaad hom daarvan beroof nie.

Hy sê die Voortrekkermonument se bestuur doen moeite om Die Voortrekkers te akkommodeer en skenk “derduisende rande per maand” vir die veiligheid van die Voortrekkermonument en natuurreservaat.

“Misdaad is ’n werklikheid wat vir alle wetsgehoorsame Suid-Afrikaners ʼn risiko is. Die Voortrekkers probeer om vir ons jeuglede normale avontuuraktiwiteite in abnormale misdaadomstandighede aan te bied. Jeuglede se veiligheid is vir Die Voortrekkers ’n ononderhandelbare topprioriteit en kampbeveiliging word met groot verantwoordelikheid hanteer. Die opstel van veiligheid en- risikobestuursplanne is staande praktyk vir Voortrekkeraktiwiteite en -kampe.”

Kruger en Langner het Dinsdag tydens ʼn vergadering ooreengekom dat die Voortrekkermonument bykomende veiligheidsmaatreëls vir die volgende Voortrekkerkamp later vanjaar sal instel.

Die Voortrekkers sal ook ’n veiligheidskoördineerder aanstel om die offisiere en kinders se veiligheid te verseker. Die organisasie beoog om op ouers ’n beroep te doen om hulle beskikbaar te stel vir Voortrekkerkampe om ook met die veiligheid van die kinders te help.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Koos ·

Hulle kan hul sterre dank dat die vrou nie met ‘n mes doodgesteek is of iets erger nie. Dis immers 2018 nie 1988 nie. Raak ontslae van die suur spul wagte by die hek en elders op die terrein en stel ons mense daar aan. Almal weet hoe baie blanke Afrikaners verarm het en ‘n sukkelbestaan voer. As ons goed genoeg is om buurtwagte te vorm is ons seker goed genoeg om te werk by die VTM?

Gerhard ·

Dit is die ding wat my onderkry. Jy gaan kyk na die simbool van die Afrikaner se stryd en dan kan die ou by die hek nie eers Afrikaans praat nie.

christa ·

vir wat is meisies nog in die nag buite in die tyd. Hulle weet van die toestande in SA en waag dit nog om nagtelike wake te doen. Nee man julle soek mos nou julle dood.

Diklizzy ·

Christa jy is seker nie bekend met Die Voortrekkers nie? Hou op om in vrees te lewe!

Piet Snot ·

Trots op ons Voortrekkers.
Dis kinders uit een stuk daai.

GM ·

Christa, ek verstaan wat jy sê, maar aan die ander kant – word daar nou regtig verwag dat ons almal onsself elke dag in ons ‘tronke’ toesluit terwyl die misdadigers vrylik kan rondloop? Ons moet opstaan teen die misdadigers, hulle is die probleem. Dis oor almal stemreg het, en menseregte, en en en, dat dit so gaan. Ek kry ons kinders jammer. Nienand kan meer alleen buite speel nie, mens kan nie jou rug op hul keer in ‘n winkel nie, hul moet vreemdelinge vermy, hul kan nie die polisie vertrou nie, hulle is nie eers veilig in hul ouerhuise nie. Wat ‘n toekoms om na uit te sien.

Adam ·

Ek is dankbaar dat daar geen lewensverlies was nie. Ek hoop egter dat mense besef dat dapper helde almal iets in gemeen het en dit is dat hulle bykans almal heeltemal te vroeg sterf.

Andrea ·

Mooi so, Carla! Jys n dapper meisie! Dis wat moet gebeur. Veg terug, baie is lafhartig en sal vlug die oomblik dat weerstand gebied word. Daarom kom die aanvallers ook in groot groepe. Lafharts.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.