Voortrekkermonument en Vryheidspark vat hande

Die Voortrekkermonument (Foto: falco, Pixabay)

Die Voortrekkermonument (Foto: falco, Pixabay)

Die Voortrekkermonument en Vryheidspark in Pretoria het opnuut ’n memorandum van verstandhouding en samewerking onderteken.

Jane Mufamadi, die hoof uitvoerende beampte van Vryheidspark, en Cecilia Kruger, besturende direkteur van die Voortrekkermonument, het Donderdag tydens ʼn mediakonferensie by Vryheidspark die nuwe samewerkingsooreenkoms onderteken.

Kruger het aan Maroela Media gesê ʼn soortgelyke ooreenkoms is tien jaar gelede opgestel waarin ʼn verbindingspad tussen die twee erfenisterreine asook gesamentlike bemarking en uitruil van kundigheid onderneem is. “Hoewel die pad, vandag bekend as Versoeningspad, in 2011 voltooi is en enkele projekte saam aangepak is, het die ondernemings nooit heeltemal gerealiseer nie. Een van die struikelblokke was die feit dat die Monument, ʼn maatskappy sonder winsbejag, verantwoordelikheid vir die bedryf van ʼn toegangshek op die Monumentterrein tussen die twee terreine moes neem. Beloftes van die departement van kuns en kultuur om befondsing vir hierdie uitgawes te verskaf het blote beloftes gebly en die vorige besturende direkteur van die Monument was genoop om die hek te sluit.”

Vryheidspark. Foto: Facebook

Vryheidspark. Foto: Facebook

Volgens Kruger het Nathi Mthethwa, minister van kuns en kultuur, egter druk op die portefeuljekomitee vir kuns en kultuur uitgeoefen en samesprekings tussen die departement, Vryheidspark en die Monument het vroeg die jaar afgeskop. “Vryheidspark het onderneem om die koste vir die herstel van die toe gevandaliseerde hek asook bedryfskoste te voorsien en op 1 Maart 2016 is die pad heropen. Daarna is besluit om die tien jaar oue ooreenkoms te hersien en albei partye het daaraan gewerk. In wese bevestig dit dat die twee instansies, wat elk ʼn ander faset van ons geskiedenis vertel, besef dat ons as toonaangewende erfenisbewaringsinstansies, belangrike ‘rolmodelle’ is. Deur sinvol saam te werk, elk met behoud van sy eie identiteit, sou ons mekaar beter leer ken en moontlik groter respek vir mekaar se sienswyses en kulture ontwikkel. Dit sou ʼn voorbeeld vir Suid-Afrikaners kon stel.”

Die hoop is uitgespreek dat die ooreenkoms nie net weer iewers geliasseer gaan word nie, maar dat daar aan die werk gespring sal word en tot die daad oorgegaan sal word. “Vroeg in die nuwe jaar sal die twee bemarkingspanne projekte identifiseer wat haalbaar is,” het Kruger gesê.

Een van die voorstelle vir die samewerking is ’n stelsel waar besoekers slegs een kaartjie hoef te koop om die Voortrekkermonument en Vryheidspark te kan besoek. Volgens Kruger sal dit eintlik behels dat al die monumente in Pretoria met een kaartjie kan besoek word. “Die probleem is dat ons ʼn nie-winsgewende en nie-regeringsorganisasie is. So dit is nie iets wat baie vinnig sal kan gebeur nie.”

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Elsie ·

As kind was ek by die Voortrekkermonument gewees. Was fantasties! Glas vertrekke het uitgebeeld hoe die voortrekkers gelewe het. Beelde het voortrekker klere asngehad, vloer met perske pitte bedek ens. ens. Paar maande terug wou ek my dogter gaan wys. Wat ń teleurstelling!!!!! Al daardie mooi goed van die voortrekkers is weg. Gaan nou meer oor die swartes. Voortrekker?monument? Duisende plakkate wat jy moet lees oor die verlede. So as jy nie kan of wil lees nie is daar nie veel vir jou nie. Van Mandela is daar baie maar die voortrekkers het daar ook uitgesterf. Niks meer om jou kinders te gaan wys van ons blanke suid afrikaners nie. Net geld mors om soontoe te gaan. Net die gebou van buite af het so ietsie van ons mense en dit kan jy maar vir hulle op foto’s wys verniet.

Netekke ·

Agge neeee, wat vertel jy my nou? Dit is so hartseer en ontstellend. Baie danq, ek sal dan beslis NIE die moeite doen om my kleinkinders te gaan wys nie.

Amanda de Stadler ·

Die Voortrekkermonument, die Erfenissentrum en Vryheidspark is beslis ‘n besoek werd. Dankie aan almal vir jare se harde werk hieraan. Een kaartjie sal ‘n bonus wees!

Amanda de Stadler ·

Die Voortrekkermonument, die Erfenissentrum en Vryheidspark is regtig ‘n besoek werd. Dankie aan almal wat jare lank so hard hieraan gewerk het!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.