Voortrekkermonument ontvang weer buitelandse toeriste

Buitelandse toeriste luister na de toergids Nick Snyman se verduideliking van die Voortrekkermonument se geskiedenis. (Foto: Verskaf)

Toeriste van buite Suid-Afrika se grens is besig om weer hul pad na die Voortrekkermonument te vind.

Die grootste toergroep sedert Covid-19 se inperkingsmaatreëls verlede jaar in werking getree het, het Woensdag die monument besoek.

Die eerste toeristeaantreklikheid wat die groep toeriste van Roemenië besoek het, was die Voortrekkermonument, waarna hulle na die Uniegebou vertrek het.

Persone van die VSA, Frankryk en Rusland het onlangs ook weer die monument besoek, maar die bus met 35 Roemeniërs is die eerste internasionale toerbus wat in meer as ’n jaar op die terrein aangekom het.

Gerhard Pretorius, woordvoerder van die Voortrekkermonument, sê dit maak ’n mens se hart bly om weer internasionale toeriste te kan ontvang.

“Dit is vir ons ’n wonderlike voorreg om weer persone van die buiteland te ontvang, om hulle te kan leer van ons ryk geskiedenis hier in Suid-Afrika.

“En vir die plaaslike persone, die monument is hier, en as jy in die Kaap sit, ondersteun die monument, word ’n vriend van die monument. Dit is nou meer as ooit nodig dat mense monumente, geskiedenis en kultuur ondersteun,” sê Pretorius.

Die groep toeriste het onder mekaar geklets en aandagtig geluister na die toergids, Nick Snyman, wat die geskiedenis van die monument en die Groot Trek aan hulle verduidelik het.

Dit was vir die meeste van die persone hulle eerste besoek aan Suid-Afrika en die Voortrekkermonument.

“Ja, dit is my eerste keer hier en dit is ’n pragtige monument. Dit is pragtig om te sien hoe die geskiedenis aan die muur van hierdie monument uitgebeeld word. Ek dink elke keer as mens ’n nuwe land besoek, is dit pragtig om oor die kultuur en die geskiedenis te leer. Dit was ’n wonderlike besoek en ’n wonderlike plek,” sê Alison Barbu.

“Ja, dit is die eerste keer in Pretoria, dit is die eerste keer in Suid-Afrika. Dit is baie indrukwekkend, dit is ’n lang geskiedenis, en wonderlike mense in die algemeen,” sê Dorin Stoicu.

Mense wat die monument wil ondersteun, kan die webwerf www.vtm.org.za besoek en aansluit as ’n vriend van die monument.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

6 Kommentare

jongste oudste gewildste
Probeer verstaan

Whoop whoop

Janee

Weet hulle waaroor dit gaan?…of kom kyk hulle net na die monument…

Althes

Dis wonderlik, dat die Voortrekker monument weer inkomste kan verdien.

Diline

Het al baie gewonder hoe lank die monument nog gaan staan. Die nuwe regering wil mos als verander of vernietig wat enigsins verband hou met apartheid.

Hector

Die eerste keer wat ek vir die Voortrekker Monument besoek het, was in Oktober 1982 en van daardie jaar af, het dit deel geword van my toerprogram vir Vlaamse Vriende van die Afrikaner, wat ek steeds op die hart gedruk het: dit is vir die Afrikaner ‘n heilige plek, wat julle in stilte en sereniteit sal betree. Na hoéveel besoeke bly dit vir my steeds ewe indrukwekkend!