Voortrekkermonument se feesvierings op Geloftedag ingeperk

Voortrekkermonument (Foto: falco, Pixabay)

Die Geloftedagvieringe by die Voortrekkermonument in Pretoria is ook een van die slagoffers van die nuwe inperkingsmaatreëls wat Maandagaand deur pres. Cyril Ramaphosa afgekondig is.

Ingevolge hierdie nuwe inperkingsmaatreëls mag binnenshuise byeenkomste nie meer as 100 mense huisves nie, of 50% van die normale hoeveelheid mense wat in die spesifieke lokaal sou byeen kon kom nie.

Die Geloftedagvieringe wat vir vandag by die Voortrekkermonument sou plaasvind is dus drasties ingekort en is ʼn verdere terugslag vir dié grootse baken van Afrikaner-geskiedenis wat reeds finansieel sukkel om die mas op te kom.

Cecilia Kruger, besturende direkteur van die Voortrekkermonument en die Erfenisstiging, meen daar is nie veel wat hulle aan die saak kan doen nie en dat dit hartseer is dat dit die eerste keer in meer as 20 jaar is wat die Geloftefees nie by die Voortrekkermonument gehou word nie.

“Die beheerraad het aanvanklik besluit om net elke vyf jaar ʼn Geloftefees te hou en die eerste was in 1953 in die amfiteater. Tot laat in die 1990’s is daar ook nog Geloftefeeste in die amfiteater gehou, maar sedert 2000 is dit in die Voortrekkermonument self aangebied,” het Kruger gesê.

“Vanjaar is, soos so baie dinge, ʼn uitsondering en ons het dit baie nodig dat Suid-Afrikaners die monument en sy aktiwiteite ondersteun, nie net vir die kultuur-historiese waarde daarvan nie, maar ook om deur betrokkenheid die finansiële toekoms van die monument te help verseker.”

Prof Fransjohan Pretorius, bekend historikus, meen ook dis belangrik om Suid-Afrikaanse monumente in stand te hou, maar dat dit omsigtig benader moet word. “ʼn Mens kan maar net hoop dat alle groepe in hierdie land deur hul leiers opgevoed word om die kulturele diversiteit van Suid-Afrika te aanvaar – dat ons mekaar se simbole respekteer. Op méér as dit kan ons nie hoop nie,” het hy gesê.

“Die Voortrekkermonument moet vir alle Suid-Afrikaners net so belangrik wees soos die terrein van Mapungubwe. Wedersydse begrip, dus. Eers dan kan ons praat van ware versoening in hierdie land.”

Volgens Kruger wil die Voortrekkermonument geensins enige besoekers en ondersteuners se gesondheid in gedrang bring nie. “Daar is dus besluit dat ons ongelukkig net ʼn beperkte aantal mense vandag (16 Desember 2020) by die Voortrekkermonumentterrein sal kan akkommodeer. Slegs eregaste (nie meer as 100 mense nie) sal die diens in die Heldesaal kan bywoon. Luidsprekers sal by die Assegaai-hek gemonitor word sodat daar in die parkeerterrein en op die trappe na die diens geluister kan word. Almal is welkom om in die gemak van hulle huis saam na die diens te kyk via ons regstreekse uitsendingskakel, het Kruger bygevoeg.

Kruger meen dat almal wat Geloftedagfeesvieringe ondersteun, eintlik ʼn plig het om die Voortrekkermonument se voortbestaan te verseker. “Om dit te kan doen het ons verskeie projekte waarmee ons kop bo water probeer hou. Ongelukkig is ons verplig om die antieke- en versamelaarsmark ook te kanselleer, tesame met ʼn beperking op die getal dagbesoekers wat vandag toegelaat word. Ons het egter besluit om diegene wat reeds kaartjies vir vandag bekom het, tegemoet te kom en die geldigheid daarvan tot 31 Desember vanjaar te verleng.

Mense wat die erediens by die monument wou bywoon, kan die geld vir hul kaartjies terugkry, maar ons moedig hulle aan om dit aan die monument te skenk.

“Ons wil ook graag ons ondersteuners herinner aan die ander fondsinsamelingsprojekte wat ons steeds bedryf, soos die reusemarmerfries wat ʼn intrinsieke deel van die ontwerp van die monument is en met reliëf op 27 panele die verhaal van die Groot Trek van 1835 tot 1852 uitbeeld. Die Fries verbeeld nie net die geskiedenis van die Groot Trek nie, maar toon ook die lewenswyse, werkmetodes, godsdienstige beskouing en lewensingesteldheid van die Trekkers.

“Die Fries is maar een van vele elemente wat deur ondersteuners ‘gekoop’ kan word en ons so in staat stel om geld in te samel. Daar is ook die hoekfigure, die granietstene, die venstertjies, die walaer en so meer. Pryse wissel van R20 per trappie tot R100 000 vir een van die marmerfries-panele. Die historiese fries in die Voortrekkermonument is ‘n intrinsieke gedeelte van die ontwerp, wat op ‘n universele wyse die geskiedenis van die Trek uitbeeld. Die fries begin by die voordeur wat toegang tot die Heldesaal verleen en ontplooi van links na regs. In die geheel is daar 27 afsonderlike panele wat in ‘n enkele fries saamgevat is. Hierdie marmerfries is die langste bestaande fries ter wêreld,” verduidelik Kruger.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Jaco ·

Hou die diens binne die heldesaal reeds sedert die jaar 2000. So dis nie dat corona en inperking nou skielik alles stop nie. Dié gebrek aan belangstelling vanaf ons eie mense kom al ‘n lang pad. En daar was 250 000 mense by die Voortrekkermonument se inwyding in 1949…

Jacobus ·

Miskien as die minagtende houding van ons stropende medeburgers in volle swang kom sal mense agterkom wat hulle kan verloor. Ongelukkig is stroping van tradisies en geskiedenis wêreldwyd die inding.

Stof ·

Hulle wat hierdie diens inperk, sal moet verantwoording doen, nie voor mense nie, maar voor Vader self. Die versuim om die gelofte na te kom, gaan vir baie van ons siepsop en braaiboud besorg weens ongehoorsaamheid.
Gisteraand ontvang ek ook toe mos ook ‘n epos wat die Wonderboom fees sommer so wreed en gewetenloos kanselleer.
Ons het BAIE om te bely. Mag Vader se vergifnis teenoor ons ruim wees in hierdie saak. Mag die oordeel verbonde aan hierdie growwe versuim, deur Homself van ons weggekeer word.
Sela.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.