Voortrekkermonument staan rotsvas te midde van pandemie

Hoewel die algehele landwye afsondering ook die Voortrekkermonument in Pretoria ’n paar harde houe toegedien het, bly dié monument rotsvas staan.

“Die Voortrekkermonument het ’n simbool van Afrikaners se deursettingsvermoë geword,” sê Cecilia Kruger, besturende direkteur van die Voortrekkermonument, ná agt maande van koppe bymekaarsit om die spreekwoordelike wa te midde van die Covid-19-pandemie deur die drif te trek.

Kruger sê die monument se geld sou teen Maart – toe die aanvanklike afsonderingstyd in werking gestel is – met al sy personeel in diens net tot Mei hou.

Die afsondering het die monument later genoodsaak om personeel se werksure met tussen 50% tot 60% te verkort en selfs sommiges af te lê.

“Daar is baie mense wat dink ons word deur die staat ondersteun, maar dis glad nie die waarheid nie. Ons het regtig probeer vasbyt en uitgawes besnoei. Die personeel moes koppe bymekaar sit. Ek het in my lewe nog nooit soveel gesprekke gevoer nie.”

Verskeie veldtogte is van stapel gestuur om die onmiddellike tekort aan kontantvloei te pak. Dit sluit in projekte soos “Herbou die monument”, ʼn projek wat die virtuele verkoop van dele van die monument behels en tot dusver bykans R1,4 miljoen van die begrote R6 miljoen ingevorder het.

Die Voortrekkermonument in Pretoria. (Foto: VTM)

Kruger sê die publiek se oorweldigende belangstelling was die monument se oorlewingsboei.

“Wat besparing betref, het ’n skenking van watertenks, pype en pompe deur die maatskappy Earthcon dit vir die monument moontlik gemaak om die 80 jaar oue waterpypstelsel op die terrein grootliks uit te skakel.”

Kruger sê dié belegging gaan in die toekoms groot voordeel vir die monument inhou. Die monument se maandelikse waterrekening beloop gemiddeld R80 000.

Die Rapportryerbeweging het hierdie projek ʼn werklikheid laat word, sê sy.

“Die monumentbestuur het ook reeds meer as ’n jaar gelede ’n ondersoek na die installering van sonpanele begin om die enorme elektrisiteitsrekening van ʼn verdere gemiddelde R90 000 per maand te probeer verminder.”

Die uitwerking van kabeldiefstal in die omgewing, beurtkrag wat dikwels bedrywighede by die monument tot stilstand dwing en lei tot bykomende uitgawes soos diesel vir kragopwekkers en skade aan veiligheidskameras en bedieners, kan nou ook verminder word.

“Die droom om uiteindelik onafhanklik te kan werk, is deur ’n ongelooflike aanbod van die Dagbreektrust moontlik gemaak. Deur die aanvangskapitaal vir die projek rentevry beskikbaar te stel, sal daar teen die einde van Desember voldoende sonkrag opgewek kan word om ononderbroke bedryf te verseker en maandelikse besparings van ten minste R20 000 te bewerkstellig.”

Dán is daar ook die nuwe restaurant, Die Plaaskombuis, waar onder meer Sondag-buffetetes teen die middel van hierdie maand bedien gaan word. Die ontwikkeling van aanlyn opvoedkundige programme en nuwe buitelugaktiwiteite vorder ook goed en sal vroeg volgende jaar beskikbaar wees.

“Die monument versterk ons identiteit. Dit is een van die min bakens waar sukses uitgebeeld word, maar tog nié ten koste van ander nie.

“Die monument is ’n baken van hoop. Ons kan leer by wat 150 jaar gelede gedoen is om ’n kultuur te vestig, te woeker en sukses uit niks nie te skep.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Persheks Adri ·

Dit bly vir my so ‘n mooi monument! Baie interessante artikel. Hoop net ons kan daai minister hier ook weg hou!!!

Mad Mike die Rhodesiër ·

Die simbool van respek en trots. Dis genade van Bo dat die monument-vernietigers nie hierdie een geteiken het nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.