Voortrekkermonument steeds ʼn trekpleister vir jonk en oud

Die Voortrekkermonument in Pretoria. Foto: Carla van der Spuy

Nadat die bekende Voortrekkermonument in Groenkloof in Pretoria onlangs om die verkeerde redes in die nuus was weens misdaadvoorvalle op die terrein, het die bestuur alles in sy vermoë gedoen om die veiligheid by dié onmisbare erfenisbaken op te skerp.

Nie net word daar daadwerklike pogings aangewend om besoekers se veiligheid te verseker nie, die bestuur is ook hard aan die werk om deurgaans die geriewe uit te brei en die monument ʼn trekpleister vir Suid-Afrikaners én toeriste te maak.

In Mei vanjaar is ʼn groep gr. 7-Voortrekkermeisies en ʼn vroue-offisier by die Voortrekkermonument aangeval en beroof nadat hulle die aand laat op die terrein gestap het. Net die volgende oggend is die wagte by die hoofingang na die monument deur gewapende rowers beroof.

In Junie vanjaar het nóg ʼn misdaadvoorval by die monument plaasgevind nadat ʼn jong vrou na bewering verkrag is in een van die badkamers op die terrein.

“Ondanks die voorvalle wat hier plaasgevind het, bly die Voortrekkermonument ʼn veilige bestemming,” sê Cecilia Kruger, besturende direkteur van die Voortrekkermonument en die Erfenisstigting.

“Ná die voorvalle het AfriForum gekom om die terrein te ‘vee’. Daar kon egter geen sluipslapers gevind word nie. ʼn Onafhanklike ondersoek na die bestaande veiligheidstelsel word tans uitgevoer, en talle maatreëls is reeds ingestel om die veiligheid op te skerp. Ons het ook nou ʼn kontantlose rigting ingeslaan,” sê sy.

Fort Schanskop by die Voortrekkermonument. Foto: Carla van der Spuy

Sy verwys na die misdaadvoorvalle op die terrein as “toevallige misdade”.

“Daar is ʼn plakkerskamp reg langs ons en dan is daar mense wat vanaf die stasie se kant af onder die heining in die beboste gebied deurkruip.” Wanneer jy op die terrein stap, is daar egter om elke hoek en draai ʼn veiligheidswag te sien.

“Ons sekuriteitsbegroting is seker tien keer groter as ons bemarkingsbegroting wat ʼn jammerte is aangesien ons nie ʼn sent van die staat ontvang nie,” verduidelik Kruger. Hulle sal graag wil toesien dat die Tshwane-stadsraad ʼn palissadeheining om die terrein van 250 ha oprig, maar só ʼn heining sal 8 km lank en peperduur wees. Die kanse daarvoor is dus skraal.

Die Voortrekkermonument se legio bedrywighede en besienswaardighede hou dus aan om voete te lok. Kruger sê die monument het hom nog altyd van enige politieke ideologie gedistansieer en onder die grootste aantal besoekers is leerders van swart skole en Chinese toeriste.

ʼn Eerlike erfenis

In die jaar wat die 80ste herdenking van die hoeksteenlegging van die Voortrekkermonument plaasvind, word nog talle planne beraam om hul dienste en besienswaardighede uit te brei.

“Iets moet gedoen word om die monument relevant te hou. In 1999 was dit glad nie ‘cool’ om met die monument verbind te word nie en ons het eers in 2011 Graad I- nasionale status verkry. Dit beteken vir ons baie, want dit kom daarop neer dat die monument in die nuwe Suid-Afrika erken word,” verduidelik Kruger.

‘n Ossewa by die Voortrekkermonument. Foto: Carla van der Spuy

“Die Groot Trek het die verloop van die geskiedenis van die land en geografiese grense verander – of jy nou daarvan hou of nie. Ons probeer om so eerlik moontlik te wees,” sê sy.

Dit is ooglopend maklik om sommer ʼn hele dag by die monument deur te bring.

Die monument het in 2001 Fort Schanskop op die terrein by die stadsraad gekoop. In 2001 het die monument ook die Bloedrivier-slagveldterrein in KwaZulu-Natal oorgeneem wat verdere bestuursuitdagings bied, maar die twee terreine kan moeilik afsonderlik hanteer word.

“Nêrens in die wêreld is erfenisbewaring selfonderhoudend nie. ʼn Mens kan nie ʼn onderneming daarvan maak nie. Daarom is jy baie afhanklik van en dankbaar vir skenkers. Mens moet ook voortdurend bemark,” sê Kruger.

“Die geriewe is uitgebrei sodat hulle vir verskeie funksies uitverhuur kan word. Ons woon talle toerismeskoue en -vergaderings by en lewer verslag aan verskillende toerisme-organisasies om te verseker dat die monument as niewinsgewende organisasie ingelig bly rakende toerisme-aangeleenthede – dit is ons grootste bron van inkomste.

“Die monument is my werk en die Erfenisstigting is my passie,” sê sy. “Die ongeveer 100 personeellede is hier vir die liefde van die saak, want ons kan nie met die salarisse daar buite meeding nie. Deur die genade het albei ons maatskappye 20 jaar lank oorleef.”

‘n Standbeeld van Danie Theron by Fort Schanskop by die Voortrekkermonument. Foto: Carla van der Spuy

Permanente huurders van die restaurant en die winkeltjie help ook met inkomste. Die perderitte is geprivatiseer en daar is fietsroetes, drafroetes en buitemuurse kompetisies.

Met die gospelsanger, Dr Tumi, se vertoning op 1 September vanjaar was die groot amfiteater weer met derduisende aanhangers volgepak. Nagenoeg 80% van die besoekers besoek die monument self. Toegangsgeld sluit ʼn hele dag se vermaak en leersame ervarings in.

Nuusbriewe word ook maandeliks na die organisasies, Vriende van die Monument en Lede van die Erfenisstigting, gestuur om hulle op die hoogte van die aktiwiteite te hou.

Die Vryheidspark Museum, wat volledig deur die staat gesubsidieer word, het al by Kruger-hulle kom kers opsteek. “Ons help graag,” sê sy.

ʼn Leersame én prettige uitstappie

“Ons probeer om die monument veeldoelig te maak,” sê Kruger. “Bring jou kind hierheen om fiets te ry. Dan sien hy die monument toevallig en so word ʼn saadjie geplant. Emosioneel gesproke is dit tog ook ʼn stukkie van ons identiteit. Dis belangrik dat mense weet wie en wat hulle is.”

Opvoedkundige programme word by leerprogramme en sillabusse aangepas. Vandeesmaand is byvoorbeeld ʼn kunsuitstalling, met werk van gr. R- tot gr. 11-leerders van sowat 20 skole wat onder meer Atteridgeville en Eersterus in die Tshwane-Suid-distrik insluit, in Galery 20/20 opgerig. Dit is ʼn jaarlikse instelling.

Christo Rabie en Karen Damond by ‘n kunsuitstalling by die Voortrekkermonument. Foto: Carla van der Spuy

ʼn Nuwe opvoedkundige sentrum word in Oktober geopen waar kinders van die Steentydperk en rotskuns tot broodbak in buite-oonde kan leer. Daar is ook uitstallings oor voedsel en voedselpreservering. Nasionale simbole word in ʼn aangrensende gebou uitgestal.

Fort Schanskop wat gedurende die Anglo-Boereoorlog beman was, word nou vir Park Acoustics-opelugmusiekkonserte gebruik.

Al die oorspronklike vertrekke (kasematte) by Fort Schanskop het behoue gebly met ingangsaanwysings in Nederlands soos: Officieren en Hospitaal. In dié klein museum word portrette en borsbeelde van die Boeregeneraals ʼn diorama van ʼn konsentrasiekamp, ʼn hospitaal uit daardie tydperk en gebruiksartikels wat deur krygsgevangenes gemaak is, uitgestal. ʼn Kanon word een keer per maand tot groot vermaak van besoekende kinders afgeskiet.

Kruger vertel bewaringswetgewing wat in 1999 uitgevaardig is, maak voorsiening daarvoor dat privaat individue of organisasies bedreigde erfenisse mag bewaar. Daarom het die Monument in 2002 die Erfenisstigting gestig wat ʼn museumdiens, biblioteek en argief in die Erfenissentrum op die terrein gevestig het.

Die Erfenissentrum by die Voortrekkermonument. Foto: Carla van der Spuy

Die Hervormde Kerk het onlangs sy argief na die Erfenissentrum verskuif en die Afrikaanse boekwinkel in die Erfenissentrum onder beheer van Hannetjie Gerber spog met ʼn groot verskeidenheid geskiedkundige boeke soos Dankie Generaal en Geliefde Verraaier, versboeke en boeke oor die Anglo-Boereoorlog. “Mense weet waar om hulle geskiedenisboeke te kom haal,” sê sy.

Johan Nel, senior bestuurder: erfenishulpbronbestuur, neem besoekers op ʼn toer deur die Afrikanerbakens-uitstalling waar die politieke en kulturele geskiedenis van die Afrikaner vanaf die Anglo-Boereoorlog tot 2007 met swart-en-wit foto’s en klank weergegee word. Daar is ook foto’s van kunstenaars, skrywers, musici en feeste.

Van die treffendste foto’s sluit in vyf “orrelpypies” – vyf honger armblanke Afrikaanse kinders en foto’s van die opening van die monument.

Nel som dit so op: “Om jou erfenis te bewaar, moet jy jou erfenis gebruik.”

 Die volgende geleenthede word nog vanjaar by die Voortrekker Monument aangebied:

24 September – Erfenisfees en Antiek- en Versamelaarsmark
5–9 November – Handwerkuitstalling
November tot Januarie 2019 – 1938- en 1949-memorabilia
24 November – VTM 80-padwedloop
29 November – Aandtoer deur die Voortrekkermonument

Om aan te sluit en ʼn verskil te maak, skakel Vriende van die Voortrekkermonument en Bloedrivier by 012 326 6770 en die Erfenisstigting by 012 325 7885 vir meer inligting. Besoek ook die webblaaie by www.vtm.org.za en www.es.org.za.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

24 Kommentare

Lollie ·

Ek het ń tyd gelede besluit om my dogter Voortrekkermonument toe te vat omdat ek dit as kind nog goed kan onthou. Ek was, as kind, in ekstase om die uitbeelding van die voortrekkers te kon sien. Dit was fantasties en het my bygebly. Dit was vertrekke met wasbeelde wat hulle lewe uitgebeeld het.
Nodeloos om te sê maar ek was bitter teleurgestel toe ons daar was. Daar was geen wasbeelde nie en amper oral was dit baie leeg. Die lokaal waar dit gaan oor Nelson Mandela ens. was die een plakkaat na die ander. Jy moes alles staan en lees as jy wel daarin belangstel. Van die voortrekkers het bitter min oorgebly alhoewel dit die Voortrekkermonument is! Ek het wel uitgevra oor die wasbeelde en die verduideliking was dat dit elke jaar of so verander word. Ek kan dit nie bevestig nie. Om soveel te betaal vir ingang en dan nie naastenby waarde vir jou geld te kry nie!
Nee wat ek sal niemand aanraai om die plek te besoek nie! Wat eens ń afrikaner (voortrekker) trots was het plek gemaak vir baie ander dinge en die afrikaner (voortrekker) is vergete!

Paul ·

Die nuwe Suid Afrika gaan oor terwille wees. Ek skaam my. En as die voortrekkermonument nie ‘getransformeer’ het nie was dit met stootskrapers begrawe.

Paul Kruger het gesê, “Neem uit die verlede alles wat goed en edel is, en bou daarop die toekoms”.

Die ANC regering sê, “Breek uit die verlede alles wat goed en edel is af, en bou daarop die toekoms”.

Louise ·

Ek is weereens rooi onder die kraag dat die pers dit nogsteeds verkeerd het. Ek was een van die offisiere wat saam met die Voortrekkerspan aangeval was. Ons het nie net ‘gaan stap laat in die aand nie’! Ons was een van baie groepe wat regoor die terrein, op ‘n georganiseerde nagroete was. Ons was op die regte plek en tyd vir ‘n opportunis wat lafhartig twee vroue en kinders aangeval het.

Johann ·

Louise. Die pers is net so verkeerd as wat die inligting is wat die “Monument” kies om as waarheid uit te gee. Enigiets om die werklike omvang op die perseel toe te smeer. Dit sluit in die kampstige “so eerlik as moontlik” houding oor die “geskiedenis” weergee. Eenmaal deur die vervelige aanbiedings en dis genoeg.

Paul ·

Nou waarom kan Maroela nie hul feite regkry nie? Die berigte soos dit in die media geplaas is, het my ook laat wonder wat maak die voortrekkerspan so laat in die aand daar, alleen. Jou kommentaar plaas dit in perspektief. Dankie.

C ·

Louise. Weer dankie vir wat jy en Anet (die ander offisier) daardie aand en daarna vir ons kinders gedoen het. Ons was sommer baie beïndruk met jou vasberadenheid dat julle die volgende dag met die kamp sou voortgaan (dit is mos hoe Voortrekkervroue en -meisies is!). Dit, en die teruggaan die volgende dag na die plek waar dit gebeur het, was die beste moontlik vir ons kind om oor die skrik te kom. Dankie!

Paul ·

Ek roep my vrou om al hierdie te kom lees, veral die kommentare. Toe sê ek vir haar, dis mos nou onnodig dat mens onderaan regstellings moet plaas.

zoom zoom ·

Het ook so maande terug ons 2 kleinseuns na die monument geneem. Die ingangsfooi is te veel om die plek meer as 1 keer te besoek. By ford schanskop het ons so onveillig gevoel dat ek besluit het dat ons nie gaan uitklim. Was ook mie beindruk met die uitstalling wat daar was. Nie weer iny leeftyd sal ek die plek besoek. Siener van Rensburg het die dinge reg voorspel.

Jan ·

Omgee beteken OP Vlerke facebook en Two-V Productions YouTube kanaal. Besoek dit.

Hennie ·

Dit is baie hartseer en betreurenswaardig dat die uitbeelding van die Voortrekkers se geskiedenis so afgewater moes word en nie ‘n skaduwee is van die realiteit wat dit was nie.

Ons is van ons erfenis ontneem, ons kinders van ‘n blik op die geskiedenis.

Grassie ·

In die gelofte wat voor die slag van bloedrivier afgelê is, word daar onderneem “dat ons ‘n huis tot Sy eer sal oprig waar dit Hom behaag”, dit was die motivering vir die bou van die Voortrekkermonument. Dit is waarom dit so gebou is dat die son op 16 Desember op ‘n spesifieke plek val, dit is die nakoming van ‘n gelofte. Dit beteken dat die monument ‘n heiligdom is wat aan die Skepper gewy is. Dit het dieselfde status as ‘n kerk of tempel, ‘n plek van aanbidding. Dit is nie hoe dit gebruik word nie. Ek het eenmaal ‘n berig gelees van ‘n modeparade wat in die monument gehou is. Die modelle was nie van ons volk of taal of ras nie. Skamel kleding is vertoon. Mandela word daar vereer. Ek glo daar is oor die afgelope 25 jaar baie dinge daar aangebied wat die heiligheid van die plek geskend het. Dan wonder ons hoekom die Skepper besig is om Sy rug op ons tedraai.
Ek praat nie van die amfiteater nie, ek praat van die hoofgebou.

Paul ·

Grassie, en die ergste van als is, ek sit hier in ‘n huis, dit het ‘n ingeboude braaiplek met ‘n lang skoorsteen wat ‘n ent bo die dak uitsteek. Elke Desember, so, van net voor twaalfuur die dag van die 16 de, begin die son se strale deur die skoorsteen hul weg vind. Op die kop twaalfuur die middag val die son se strale vol op die oppervlak.

Johann ·

Wonder hoe dit moontlik is dat PRESIES dieselfde “huurders” van die geriewe al vir dekades presies dieselfde bly? Wat word rerig “gehuur” tot wie se “voordeel”? Gaan kyk gerus wie WAS en is nog STEEDS betrokke by die “bedryf” van die fasaliteite. So ewe van HOOF UITVOERENDE BEAMBTE geskuif na die “Erfenis Gebou”. Militaristiese bestuur se gevolge is steeds in beheer van die plek. Moet nie nou kom simpatie soek nie! Die beeld van die plek was en is steeds in regsse denke en dade!

Grassie ·

Johann – Liefde vir jou volk en taal, trots op jou geskiedenis, erns oor die bewaring van jou volk se kultuurerfenisse, afkeer – eintlik woede – as enigiets van hierdie dinge geskend of verguis of besmet word – sien jy dit as “regse denke en dade?” Indie wel, is ek baie trots daarop om ‘n regse denker of dader genoem te word.

Paul ·

So ter opsomming, moet ons dit dan nou sien dat die bestuur van die voortrekkermonument het die Voortrekker uit die Afrikaner getransformeer? Of is dit nou andersom?

Toergids ·

Ek haal my hoed af vir die erfenisstigting, die Voortrekkermonument is ‘n hoogtepunt vir buitelandse en plaaslikke besoekers aan Pretoria. Op Tripadvisor sien mens baie positiewe komentare van oor die hele wereld.

Lollie ·

Toergids, dis seker vir die buitelanders want vir hulle is dit net nog ń plek om te besoek. Vir hulle is daar geen geskiedenis van hulle nasie nie. Ons sal dieselfde gevoel het indien ons so plek oorsee sou besoek. Ons sal ook geen idee hê wat eintlik daar moet aangaan nie. Vir ons as blanke afrikaner is daar niks meer nie. Hulle onkunde laat hulle dink dis ń pragtige plek. Vir ons land se massas is dit seker ook ń pragtige plek om te besoek. Hoekom? Want dáár bestaan blankes nie meer nie.
Vir jou is dit ook ń goeie plek om te besoek want dis hoe jy jou salaris verdien.

carla van der Spuy ·

Ek stem saam met die toergids. Hy is immers ‘n kenner.

carla van der Spuy ·

Ek het die artikel geskryf en was mateloos beindruk met wat die mense daar doen sonder enige befondsing van die regering se kant af. Hulle is werklik toegewyd en hul salarisse is glad nie vergelykbaar met die salarisse buite nie. Hulle doen hierdie werk vir die liefde van die saak. Persoonlik het ek baie geleer in die drie ure wat ek daar deurgebring het. Kom ons ondersteun hulle eerder. Ek kon my gaste wat Voortrekkermonument toe geneem is (plaaslik sowel as van oorsee) nie daar wegkry nie. Ek het die storie op my facebook-blad gedeel en baie positiewe terugvoer gekry. Ek sal my kleinkinders beslis eendag soontoe neem. Die terrein is netjies en goed georganiseer en die tariewe billik. Mense skroom nie om R80 vir ‘n fliek te betaal nie. Vir dieselfde prys kan jy ‘n hele dag by die Monument deurbring en selfs daar piekniek hou. Dit bly ‘n deel van ons geskiedenis en erfenis. En terloops, ek weet niks van beloofde wasbeelde nie.

CG ·

Ek wonder darem of baie van die kommentators wat galbraak hierbo regtig onlangs by die Monument was. Vir ons gesin is elke (gereelde) besoek ‘n wonderlike belewenis. Ek kry elke keer wanneer ek deur die Afrikaneruitstalling in die Erfenissentrum stap, ‘n verskriklike knop in my keel as ek sien waardeur ons volk al is. Die pragtig versorgde tuine maak mens egter weer rustig. Ons jongste het onlangs ‘n “Groot Trek” Voortrekker kenteken daar gedoen. Dit baie geniet! Hannetjie Gerber het al baie moeite vir my gedoen om ‘n spesifieke boek op te spoor. Fort Schanskop en die Voortrekker-museum onder die Monument is hoogtepunte, maar die toppunt bly ‘n besoek aan die sinotaafsaal met al die tapasirië en dan die hoofvertrek met die friese (muurtonele). Ons beleef die Groot Trek op vier mure en in ons gemoed vergeleik ons dit met die werklike Vegkop, Bleide Voortuitzig, Kaalvoetvrou, Bloukransmonument, Geloftekerk en Bloedrivier wat ons al die voorreg gehad het om te besoek. Ek huil oor my makkers tydens ‘n kranslegging by die SAW Muur van Herrinering. Ons nisse is daar in die gedenktuin. Ons as sal eendag rustig daar ‘n laaste rusplek vind. Vir ons is die Voortrekkermonument ‘n baie besondere en spesiale plek. Dankie vir die artikel en mooi foto’s. Maak mens lus vir nog ‘n besoek!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.