Voortrekkers by Pta-raadsvergadering uitgejou

Die Voortrekkers se wapen.

ʼn Groep Voortrekkers van Pretoria is Donderdag gevra om die Tshwane-metro se maandelikse raadsvergadering te verlaat nadat ANC- en EFF-lede glo “rassistiese opmerkings” oor die graad 10-leerders se teenwoordigheid gemaak het.

Dr. Danie Langner, hoofleier van die Voortrekkers, het Vrydag gesê die Ratels- en Dolfyne-Voortrekkerspanne het die raadsvergadering besoek nadat hulle vooraf skriftelike toestemming van speaker Katlego Mathebe verkry het.

“Kort nadat die speaker hulle vriendelik verwelkom het en skaars die eerste kind aan die raad voorgestel het, het die ANC en EFF die raadsvergadering ontwrig met beskuldigings van rassisme. Die 14 kinders is uitgestuur sodat die raad nie die sake op die agenda nie, maar hulle velkleur kon debatteer. Later is hulle versoek om huis toe te gaan,” het Langner gesê.

Volgens Sakkie du Plooy, VF Plus-raadslid in die raad, het Mathebe duidelik genoem dat die Voortrekkerbeweging hom aktief beywer vir gesonde verhoudinge tussen alle kultuurgroepe in die land.

“ʼn Stroom besware is geopper deur sprekers van die EFF en die ANC. Opmerkings is geskreeu soos ‘rassiste’, ‘gaan terug skooltoe’, ‘julle is rassiste en julle ouers leer julle rassisme’,” het Du Plooy gesê.

“Burgemeester Solly Msimanga het die situasie probeer kalmeer om die kinders te beskerm teen die luide rassistiese opmerkings en blatante rassistiese haatspraak van EFF- en ANC-sprekers.”

Langner verduidelik die spanne het as deel van hul graadwielwerk die raadsvergadering besoek om te kyk hoe die munisipaliteit funksioneer. “Hulle het ook al die konstitusionele hof, ander Voortrekkers en die parlement besoek. Verskeie politieke partye, insluitend die regerende party, by name die minister van kultuur, het al versoek dat Afrikanerjeug meer sigbaar moet deelneem aan demokratiese prosesse. Hierin neem die Voortrekkers leiding want die Voortrekkers is ’n kulturele organisasie wat positiewe burgerskap bevorder deur onder meer hoërskool-jeuglede konstruktief en bona fide blootstelling te gee aan openbare instellings en demokratiese prosesse, sonder om by partypolitiek betrokke te raak.”

Hy het gesê in dié proses leer die Voortrekkers hul lede die waarde van kulturele verdraagsaamheid en kulturele warmte.

“Dit is jammer dat jeuglede aan die soort rassisme blootgestel is, maar dit is nie nét negatief nie. Hulle het gister eerstehands ervaar wat is die gevolge van kulturele disrespek en rasse-onverdraagsaamheid. Of soos hulle spanoffisier Mauritz Meiring skryf, wat dit beteken om vandag ’n Afrikaner in Afrika te wees.

“Die jeuglede het geleer positiewe burgerskap beteken nie om ʼn jeugkommando van ’n politieke party te wees of ʼn gedwee kop te knik en die knie te buig voor gedwonge rassetransformasie nie. Positiewe burgerskap beteken om, selfs teen weerstand, op te staan vir jou grondwetlike kulturele regte, met oortuiging jou standpunt te stel en om terselfdertyd ʼn hand van vriendskap en respek oor grense uit te steek. Hierin was burgemeester Solly Msimanga, speaker Katlego Mathebe en talle raadslede ʼn uitnemende voorbeeld vir ons jeuglede.”

Du Plooy het die voorval namens die VF Plus veroordeel. “Die VF Plus wil dit duidelik stel dat Afrikaners ʼn reg het om hulself te organiseer in kultuurorganisasies soos die Voortrekkers. Dit word boonop in die grondwet gewaarborg. Die VF Plus doen ʼn beroep op die ANC om op te hou voorgee dat hy nie-rassig is terwyl so opgetree word teen wit kinders. Die EFF moet ook verduidelik waarom hulle so rassisties opgetree het,” het hy gesê.

Refiloe Nt’sekhe, DA-LP en nasionale woordvoerder, het ná die voorval gesê die ANC het tot die laagste vlak gedaal om rassisme te betrek. “Dit is duidelik dat die ANC nie die belange van Suid-Afrika en die jeug in gedagte het nie en tot rassisme sal daal om hul argument te bevorder,” het sy gesê.

“Die ANC sal in 2019 by die stembusse gestraf word wanneer die mense van Suid-Africa hul leuens en plundering verwerp en vir ʼn nuwe begin onder ʼn DA-beheerde koalisieregering stem.” Nt’sekhe het niks van die EFF-lede se beweerde opmerkings gemeld nie.

Teboho Joala, streekswoordvoerder vir die ANC, het egter die blaam op die EFF-lede gepak.

“Die DA-EFF-huwelik het Donderdag weer ʼn groot terugslag ervaar toe hul uiterste ideologiese neigings ʼn lelike draai gemaak het toe ‘wit’ skoolkinders verbale beledigings van EFF-raadslede moes ervaar,” het Joala gesê. “Die burgemeester se pleidooie vir verdraagsaamheid is met vurige verwerping van sy vennote, die EFF, ontvang.”

Joala het ʼn beroep op mense gedoen om in die gees van die viering van die honderdste verjaardag van OR Tambo te verenig teen enige vorm van rasseskeiding of rassisme.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.