Voortrekkertjies hou kop tydens skietery

Sekuriteit en die polisie op die skiettoneel (Foto: Verskaf)

Jong Voortrekkers van die Sytze Wierda-kommando het goed kopgehou toe ’n skietvoorval Maandagmiddag voor hul oë afgespeel het. Een van die 12-jarige seuns het inisiatief geneem om die polisie na die toneel te ontbied terwyl ’n negejarige die nommerplaat van die verdagtes probeer onthou het.

Nietemin het die voorval die kinders erg getraumatiseer en een van die seuns het aan Maroela Media gesê hy wil “nooit weer daardie dag oorhê nie”.

’n Vrou is Maandag reg voor dié laerskoolkinders en hul volwasse leiers in haar motor voor ’n huis oorkant die Voortrekkerterrein in Wierdapark geskiet. Die kommando se Penkoppe (seuns), Drawwertjies (meisies) en hul offisiere was besig met aktiwiteite buite op die grasperk toe die voorval plaasgevind het.

Josua Lombaard (12) vertel toe hulle die eerste skote hoor klap, het hulle almal op die gras langs die heining platgeval. “Die kleintjies (sesjariges) was teenaan die heining en het als gesien. Hulle het almal verskriklik gehuil.”

Die offisiere het die kinders na die saal op die terrein gelei en Josua het daaraan gedink om die polisie te bel.

“Ons het op die Voortrekkerkampe geleer wat om te doen wanneer jy in die moeilikheid is en ek het geweet wat die nommer vir die polisie is,” vertel Josua.

“’n Vrou het geantwoord en ek het haar vertel wat gebeur het.” Die polisie het kort daarna op die toneel aangekom.

Josua vertel hy het die aand ná die skietery gebewe. “Ons het almal groot geskrik. My maats was ook baie geskok gewees.”

Een van die negejariges, Jos Venter, beskryf die skietvoorval as ’n “erge dag wat hy nooit weer wil oorhê nie”. Dié jong Voortrekkertjie het dadelik geweet hy moet die nommerplaat van die verdagte motor probeer onthou toe dit in die straat voor die slagoffer se huis stilhou. Hy het ook op die soort motor gelet en dit as ’n Polo geïdentifiseer.

“Ek het probeer kyk of ek die nommerplaat kan uitmaak, maar ’n deel daarvan was agter die heining weggesteek. Daar het twee mans uit die Polo geklim en na die silwer kar geloop en begin skiet,” vertel Jos.

“Daarna het die Polo rustig weggery. Só asof niks gebeur het nie.” Volgens Jos was hy vreesbevange toe die skote afgevuur is.

“Ek was bang, maar het geweet God is by my. Dit was ’n wonderwerk dat die mans ons nie geskiet het nie. Ek het onder ’n sitbankie weggekruip. Ek het nie gehuil nie, maar die meeste van die meisies het,” vertel hy.

Jos sê toe hy by die huis aankom, het hy vir sy ma en pa van die voorval vertel. “Ek het geweet hulle sal my hartjie laat beter voel.

“Ons het gebid dat God my hartjie sal kalmeer en Psalm 91 gelees. Dit het my rustiger gemaak.”

Jos sê sy hart voel gerus om weer na die Voortrekkerterrein terug te keer. “Maar net nie as só iets weer gebeur nie.”

Jos se ma, Lisa, sê dit is goed dat haar seun sy trauma verwoord en nie binne hom opkrop nie. “Dit sal hom help om dit te verwerk,” sê sy.

Lisa sê sodra Jos weer terugkeer na die terrein sal hulle kan bepaal hoe groot die trauma werklik is.

JP le Roux, woordvoerder van Monitor Net-veiligheidsdiens wat op die toneel was, sê hulle vermoed die skietery hou verband met ’n poging tot ’n motorkaping.

“Ons vermoed die vrou het van ’n moontlike kaping ontsnap en die kapers het haar toe agternagesit en geskiet,” bevestig Le Roux.

Volgens Le Roux is die vrou op die toneel dood verklaar. “Sy het drie skietwonde in haar bolyf opgedoen.”

Dit is nog nie duidelik of enigiemand in hegtenis geneem is nie en die polisiewoordvoerder in Gauteng het teen Woensdagoggend steeds nie kennis gedra van die voorval nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

AmY ·

Ek weet nie meer wat om te sê nie.
Wens hierdie dinge wil nou einde kry.
Nou moes jong kinders hierdie geweld en harteloosheid aanskou.

Buck ·

Kyk waaraan word kinders blootgestel, dit omdat die polisie nie meer vrees by kriminele kan inboesem nie

Christina ·

So trots op ons jong kinders, mag ouers hulle kinders met die kennis bemagtig. Nie omdat ons vir die skurke kwaad is nie, maar ons kinders lief het.

Lizette ·

hierdie klink vir my verdag en werklik nie soos ‘n hijacking nie

SomeOne ·

“polisiewoordvoerder in Gauteng het teen Woensdagoggend steeds nie kennis gedra van die voorval nie.”
dit het al Maandagmiddag plaasgevind en dit was oral op/in die nuus, “swak, uiters swak”

Misky ·

Die afloop van gebeure klink rerig nie soos ‘n kaping wat skeefgeloop het nie. Hulle loop dan so rustig van toneel weg en steeds sonder die kar

Deonne ·

Ai Dit is sleg dat jong kinders so iets moes sien, ongelukkig gaan dit by hulle bly vir die res van hulle lewe, wat ek sal graag wil weet, wie was was die vrou? sy kon kinders van haar eie gehad het? ek weet dat daar nie inligting hieroor is nie, dit wys jou die waarde van n mens se lewe in hierdie land, n mens sal geskok wees as jy die hope dossiere in n polisie kantoor sien van moordsake, waar gaan ons land heen? ek glo die moord was persoonlik, strook nie met n kaping nie. My hart gaan uit na die slagoffer se familie, wie sy okal is.

Genis ·

As dit nou ander kleurige kinders was, was tot doe Pope in SA

Papsak ·

Ja mense my hart huil en so hartseer oor wat daar gebeur het laat die kinders dit moes beleef maar sterkte aan almal

Perdeby ·

Vertel ons meer van die skietery en vergeet bietjie van die voortrekkertjies. Enige nuus????

Anel ·

Almal is besorg oor die kinders wat daar naby was. Voortrekkertjies is sterk kinders en word volwasse leiers. Maar dink bietjie ook aan al die sekuritetspersoneel wat betrokke was. Vir party van hierdie lede was dit die 3 moordtoneel waar hulle betrokke was. Hulle is gewoonlik voor die polisie daar en die polisie werk net in wyke. Hierdie mense nie. Onthou, daar was die juweeleienaar verlede week, die fietsryer Saterdag en nou hierdie dame en van die lede was op al 3 die tonele. Kom ons dink ook bietjie aan hulle wat van hierdie nense is eers oorlede na die personeel opgedaag het.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.