Voortvlugtige ‘bankkaart-bedrieër’ vas

Wonder Mgude (Foto: Verskaf)

’n Vermeende bankkaart-bedrieër sou na verwagting Donderdag in die handelshof in Bellville in die Wes-Kaap verskyn het op aanklag van meer as 100 sake wat verband hou met sameswering om bedrog te pleeg.

Wonder Mgude (35) is Woensdag deur die Valke se eenheid vir ernstige handelsmisdaad in Stikland in hegtenis geneem nadat hy sedert 2017 op vlug was.

Kapt. Lloyd Ramovha, woordvoerder van die Valke, sê Mgude is aanvanklik in Oktober 2017 by ’n vulstasie buite Kaapstad in hegtenis geneem toe hy na bewering ʼn motoris oorreed het om hom kontant te betaal in ruil vir die gebruik van ʼn vervalste petrolkaart om die motoris se brandstoftenk mee vol te maak.

’n Petroljoggie het egter destyds die polisie ontbied nadat hy opgemerk het dat die kaart eintlik vervals is. Mgude is in hegtenis geneem maar nie voordat hy te voet probeer vlug het en sy voertuig by die vulstasie agtergelaat het nie.

Altesaam 18 vervalste bankkaarte, dokumente met talle kaartnommers op, ʼn bankkaartmasjien sowel as ʼn skootrekenaar is in dié motor gevind.

Mgude is destyds in die landdroshof in Bishop Lavis op borgtog vrygelaat waarna hy kort daarna onder soortgelyke omstandighede in hegtenis geneem is. Twee vervalste kaarte is toe in sy besit gevind.

Mgude is weer in die Wynberg-landdroshof op borgtog vrygelaat en die twee sake is na die handelshof verwys.

Sy verhoordatum is vir 31 Januarie 2019 op die hofrol geplaas hoewel hy nooit vir die verhoor opgedaag het nie. ’n Lasbrief vir sy inhegtenisneming is in Maart 2019 uitgereik. Mgude was sedertdien op vrye voet tot en met sy onlangse inhegtenisneming.

Hy staan tereg op nie minder nie as 118 aanklagte wat verband hou met sameswering tot bedrog en vervalsing ter waarde van meer as R100 000 ​​en oortreding van die Wet op Elektroniese Kommunikasie en Transaksies.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.