Voortvlugtige in Bloemfontein vasgetrek

Argieffoto: https://pixabay.com

’n Deurbraak is gemaak toe ’n voortvlugtige wat die afgelope vier jaar vir talle misdade gesoek word, Dinsdag in Bloemfontein aangekeer is.

Brig. Motantsi Makhele, woordvoerder van die polisie, sê die 35-jarige Tumelo David Mosala is die oggend omstreeks 10:00 by ’n woonstelblok in Brandwag in Bloemfontein vasgetrek.

Mosala is in 2016 op Fouriesburg vir die eerste keer in hegtenis geneem vir die besit van ’n gesteelde voertuig. Hy het versuim om sy hofsake by te woon en ’n lasbrief vir sy inhegtenisneming is uitgereik. Hy is sedertdien voortvlugtig.

“In Junie vanjaar het hy weer ontsnap toe vier van sy vriende tydens ’n huisroof in Bainsvlei in hegtenis geneem is en hy die inhegtenisneming vrygespring het,” sê Makhele.

Makhele sê volgens video-opnames van ʼn sakeroof in Julie 2020 in Harveyweg in Bloemfontein was Mosala betrokke by dié voorval waarin die eienaar van die onderneming is in die bors geskiet.

“Mosala en sy vriende het met ʼn onbekende bedrag kontant van die toneel gevlug.”

Mosala sal na verwagting eersdaags in die Bloemfonteinse landdroshof verskyn op drie aanklagte van sakeroof, twee van huisbraak en diefstal en ʼn aanklag van ontsnapping uit wettige aanhouding.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.