Voortvlugtige misdaadintelligensiebeampte afgedank

Morris Tshabalala, misdaadintelligensiebeampte, beter bekend as Kaptein KGB, loop agter ʼn polisiebeampte voor hy in die gespesialiseerde handelsmisdaadhof in Pretoria verskyn (Foto: ANA)

Die voortvlugtige misdaadintelligensiebeampte Morris “KGB” Tshabalala is deur die Suid-Afrikaanse Polisiediens afgedank.

Morris is verlede Vrydag afgedank, dieselfde dag wat sy aansoek om borgtog in die gespesialiseerde handelsmisdaadhof in Pretoria afgekeur is. Hy het na bewering meer as R500 000 uit die polisie se misdaadintelligensie-eenheid geplunder.

Tshabalala is in sy afdankingsbrief in kennis gestel dat sy indiensneming gekanselleer word omdat hy “ʼn oortreding begaan het sonder die opsie van ʼn boete”. Die brief, gedateer 26 Januarie 2018, is onderteken deur genl.maj. KB Ngcobo, waarnemende afdelingskommissaris van misdaadintelligensie.

Die staat het Vrydag, tydens Tshabalala se hofverskyning, aangevoer hy het nie in 1996 homself aan die departement van korrektiewe dienste oorgegee om tronkstraf van 10 jaar uit te dien ná ʼn gewapende roof wat in 1994 in Mamelodi, buite Pretoria, plaasgevind het nie. Hy is in daardie stadium ook skuldig bevind op aanklag van die onwettige besit van ʼn vuurwapen en ammunisie.

Tshabalala het herhaaldelik appèl aangeteken teen die uitspraak wat in 1996 gelewer is, maar dit is telkens deur die hof afgekeur. Hy voer aan, ondanks ʼn lasbrief vir sy inhegtenisneming wat in 1998 uitgereik is, het hy met sy lewe voortgegaan, omdat die prokureurs wat hom verteenwoordig het, gesê hy sy appèlaansoek was suksesvol.

Tshabalala het, terwyl hy voortvlugtig was, by die elite misdaadintelligensie-eenheid van die polisie, gebaseer in Erasmuskloof, oos van Pretoria, aangesluit.

Hy is in 2013 in hegtenis geneem tydens ʼn klopjag wat verband hou met ʼn transitorooftog van R3 miljoen in Sasolburg, Vrystaat. Hy is later vrygespreek in verband met dié misdaad.

Staatsaanklaer Chris Smith het Vrydag aan die hof gesê toe die polisie Tshabalala se vingerafdrukke verwerk het ná sy inhegtenisneming in 2013, het hulle ontdek dat hy al sedert 1998 ʼn gesoekte man is. Hy is na die Groenpunt- maksimum sekuriteit gevangenis geneem en het sy 10-jaar-vonnis begin uitdien in verband met die gewapende roof uit 1994.

Tshabalala is twee jaar later, in 2015, vrygelaat op parool. Ondanks die feit dat hy uit die polisie afgedank is ná sy inhegtenisneming, was hy glo steeds op die polisie se stelsel en salarisrol en het ʼn maandelikse salaris ontvang.

Hy het ná sy vrylating weer by die eenheid aangesluit en verdien ongeveer R22 000 in die rang van polisiekaptein.

Hy is vroeër vandeesmaand weer in hegtenis geneem toe hy met sy paroolbeampte kontak gemaak het by Pretoria-Sentraal.

Tshabalala se afdanking volg ná Richard Mdluli, voormalige hoof van misdaadintelligensie, se afdanking. Mdluli staan tereg op aanklag van die moord op Oupa Ramokgibe, sy eksmeisie se man, in 1999. Mdluli is geskors, maar het die afgelope sewe jaar steeds sy salaris en voordele van die polisie ontvang. Hy staan ook tereg op verskeie aanklagte van korrupsie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

marous ·

Die wat verantwoordelik is vir sy betalings sedert 98 moet dit uit hul sakke terugbetaal!

Antjie ·

Ek is bly íémand stem saam om die wortel vd kwaad uit te roei. Dis tyd staatsamptenare doen hul werk behoorlik, of word vervang met mense wat dit wel kan doen. Die misdadigheid (passiewe korrupsie, met voordeel betaalde rus waarop hy nie geregtig is nie) moet veral in die SAPD streng vervolg word.

CHRISTA ·

Nou kan ‘n mens verstaan hoekom misdadigers ons land oorneem!!!

Captain (Ret.) Paulus N Antonio ·

? vir Tshabalala, verdien regtig om by Zuma, as staatshoof oor te neem. Hulle is, regtig uitstekend.

Marius van Deventer ·

Die lorrekte woord is “voortvlugtende” in plaas van “voortvlugtige”

Tania Heyns ·

Dagsê Marius,

Dankie vir jou terugvoer. Die korrekte woord is inderdaad in hierdie geval “voortvlugtig”.

VivA Advies skryf soos volg:
Dit gaan hier oor V+ig=A (werkwoord met -ig wat adjektief lewer). Kempen (1969) sê dat dit in weinig gevalle gebeur, maar noem: flikkerig, geldig, grillig, huiwerig, morsig, afkerig, afvallig, knorrig. En dan sê hy dat die betekenis van “-ig” is ‘geneig tot’, maar dat in ‘n klein aantal gevalle is “-ig” ook beteken ‘wat ‘n mens laat V’ (“grillig”) en ‘besig om te V’ (“doenig”, “bedrywig” en m.i. dus ook “voortvlugtig”).

Trouens, hy wys eksplisiet daarop dat Afr. “vlugtig” afgelei is van die Afrikaanse werkwoord “vlug”, en nie soos in Nederlands van die selfstandige naamwoord “vlucht” nie. Hy wys wel daarop dat “-ig” in Afrikaans nie produktief is nie, dat dit eintlik verdring word deur “-erig”.

En dan wil ek die hipotese stel: soos “-ig” verdring is deur “-erig”, so word dit verdring deur die veel meer frekwente “-end” wanneer ‘n werkwoord die stam is. Daarom dat die ouer garde “voortvlugtig” KEN (ons het dit gewoon geleer as ‘n leksikale item), maar “voortvlugtend” VOEL ook natuurlik (want dis ‘n woord wat ons produktief kan vorm op grond van bestaande, produktiewe patrone).

En daarom sou ek voorspel dat ‘n mens dalk sal sien dan “voortvlugtend” aan ‘t opmarse is, terwyl “voortvlugtig” stadiggies die gees gee. MAAR: ek dink daar is wel nog betekenisverskille tussen sommige gevalle met “-ig” en gevalle met “-end”. Vat nou maar “huiwerig” vs “huiwerend”. “huiwerig” = ‘geneig tot huiwer’; “huiwerend” = “besig om te “huiwer”.

Ek hoop dit klaar dit vir jou op!
Groetnis
Tania
nms Maroela Media

christa ·

weereens bewys dat die instansie nie ondersoek doen voor hulle iemand aanstel nie. Stap uit die een regeringsinstansie in ‘n ander een in. Watter klug is die regering

CAROL ·

Ek se mos ons grootste skelms is in die polisie. (ok ok nie almal nie). just in case jul my hoof wil af byt

Willie ·

Sy opper bevelvoerders moet ook sumier aangekla word! Moet my nie se, niemand het geweet die maat is onwettig daar nie!

Jacques Venter ·

Sal iemand asseblief my wakker maak.

Ek het hierdie nare droom dat n roof misdadiger weer n lid van die polisie word.

Nogal n kaptein.

Raar maar blykbaar waar.

Eich Suid Afrika

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.