Kol. Priscilla Naidu, woordvoerder van die polisie, het gesê die voorval het omstreeks 20:00 in die Gelvandale-gebied gebeur.
“Vier mans het by ʼn blok woonstelle in Shauderville gestaan en gesien hoe ʼn motor stilhou en twee mans met vuurwapens uitklim. Die mans het na hulle toe gestap en glo net op hulle begin skiet,” het Naidu gesê. “Een van die mans is in sy been gewond, terwyl die ander gelukkig nie raakgeskiet is nie. Die twee aanvallers het op die vlug geslaan.”
Die volgende dag het die polisie se plaaslike bendetaakspan ʼn 21-jarige man in hegtenis geneem in verband met die voorval.
Volgens Naidu word die verdagte ook verbind met ʼn moord op 18 Desember toe vier mans in ʼn Ford Laser motor lukraak op omstanders begin skiet het. ʼn Koeël het Ferdinand Gysman (24) in sy rug getref en hy is later in die hospitaal dood. Die verdagte is deur ʼn ooggetuie geïdentifiseer, het Naidu gesê.
“Die verdagte sal vandag [Woensdag] in die Port Elizabeth-landdroshof verskyn op aanklag van moord en poging tot moord,” het sy gesê. Sy medepligtige is nog op vrye voet.