Voortvlugtige vas toe hy glo op groep losbrand

Argieffoto (StevePB, Pixabay)

Argieffoto (StevePB, Pixabay)

ʼn Vermeende bendelid van Port Elizabeth wat vir weke deur die polisie gesoek is vir moord, is vasgetrek nadat hy glo Sondag op ʼn groep inwoners losgebrand het.

Kol. Priscilla Naidu, woordvoerder van die polisie, het gesê die voorval het omstreeks 20:00 in die Gelvandale-gebied gebeur.

“Vier mans het by ʼn blok woonstelle in Shauderville gestaan en gesien hoe ʼn motor stilhou en twee mans met vuurwapens uitklim. Die mans het na hulle toe gestap en glo net op hulle begin skiet,” het Naidu gesê. “Een van die mans is in sy been gewond, terwyl die ander gelukkig nie raakgeskiet is nie. Die twee aanvallers het op die vlug geslaan.”

Die volgende dag het die polisie se plaaslike bendetaakspan ʼn 21-jarige man in hegtenis geneem in verband met die voorval.

Volgens Naidu word die verdagte ook verbind met ʼn moord op 18 Desember toe vier mans in ʼn Ford Laser motor lukraak op omstanders begin skiet het. ʼn Koeël het Ferdinand Gysman (24) in sy rug getref en hy is later in die hospitaal dood. Die verdagte is deur ʼn ooggetuie geïdentifiseer, het Naidu gesê.

“Die verdagte sal vandag [Woensdag] in die Port Elizabeth-landdroshof verskyn op aanklag van moord en poging tot moord,” het sy gesê. Sy medepligtige is nog op vrye voet.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.