Voortvlugtiges gou aangekeer

Argieffoto

Twee voortvlugtiges, Mbongosi Mgoqi (24) en Jason Witbooi (22) is Saterdagmiddag omstreeks 12:00 in die Stormsrivier-gebied in die Oos-Kaap aangekeer met behulp van ʼn op-en-wakker motoris.

Kapt. Gerda Swart, woordvoerder van die polisie, het gesê die twee persone het omstreeks 11:20 op Dinsdag, 2 April 2019, op pad terug na die gevangenis, uit ʼn bewegende polisievoertuig gespring. “Die ontsnapping het op die R62, by die N2-afrit, naby die Kareedouw- en Humansdorp-afdraai, plaasgevind.”

Witbooi is oorspronklik in hegtenis geneem in verband met die moord op Norman Ludwig (69) in Oktober 2018 op ʼn plaas in die Joubertina-gebied.

Mgoqi is op 1 April 2019 tot vyf jaar tronkstraf gevonnis op aanklag van ʼn saak van strafbare manslag wat in Augustus 2007 plaasgevind het, ook in die Louterwater (Joubertina)-distrik.

“ʼn Taakspan van die polisie het dadelik na die twee voortvlugtiges begin soek. Hulle het vermoedelik in die Kareedouw-distrik weggekruip en vanoggend besluit om die gebied te verlaat. Die twee het geryloop en ʼn rygeleentheid gekry van ʼn op-en-wakker lid van die gemeenskap wat hulle twee dadelik herken het. Die motoris het die polisie in Stormsrivier in kennis gestel.”

Polisiebeamptes van Stormsrivier het vroegoggend ʼn padblokkade op die N2 opgestel en die voertuig voorgekeer. Die twee is dadelik in hegtenis geneem, het Swart bygevoeg.

Mgoqi en Witbooi sal na verwagting Maandag in die Humansdorp-landdroshof verskyn op aanklag van die ontsnapping uit aanhouding.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

GM ·

Ek weet nie of ek moet dink die motoris, wat hul ‘n rygeleentheid gegee het, is braaf of dom nie. Slimgespeel om hul nie agterdogtig te maak nie. Dinge kon so maklik verkeerd geloop het – bly dit het nie. Hopelik ‘ontsnap’ hulle nie weer nie.

willem Botha ·

As dit van die spesiale taakmag afgehang het sou die 2 wat nooit moes ontsnap het nie vir altyd op vrye voet gewees het ,dit blyk die gemeenskap sal die rol van die polisie moet oorvat en self wet en orde moet handhaaf.

Pieter du plessis ·

Word die gevangenis nou in n oop bakkie vervoer dat hulle uitgespring het of het die polisie hulle nie beveilig gedurende die rit nie.

Poppie ·

Hul was agter in die vangwa. En het die ruit uitgeskop. Al die skelms Kareedouw/Humansdorp/Jbay/Patensie word maar elke keer gevang. Hier is die polisie/gemernskap nog op en wakker.

Wouter ·

Ruit uitgeskop? Het die vangwa dan nie tralies voor die venster nie? En hoekom was hulle nie geboei nie? Dit was ten minste n moordenaar. Die ou wat die twee opgelaai het was baie dom en het met sy lewe gedobbel. Maar baie dankie vir jou, vandag kan ek sê jy het dalk nog n plaasmoord gekeer.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.