Voorval ‘tragies’, maar geen skadevergoeding ná kind se breinskade

(Argieffoto: Jossué Trejo/pixabay)

Die appèlhof het ʼn Kaapstadse egpaar se eis om skadevergoeding nadat hul seun breinskade opgedoen het, van die hand gewys.

Die eis teen die LUR vir gesondheid in die provinsie spruit uit ʼn voorval waartydens Justin McGregor in 2011 as sesjarige seuntjie in die straat buite sy ouerhuis geval en sy kop gestamp het.

Sy pa, André, het hom sowat twee ure later na die Rooikruis-kinderhospitaal geneem waar hy ondersoek en toe ontslaan is nadat die dokter tot die gevolgtrekking gekom het dat die besering gering was en nie verdere ondersoek of hospitaalopname benodig het nie.

McGregor het sy seun omstreeks 03:30 probeer wakker maak, maar hy het baie diep geslaap. Luidens die hofstukke het ʼn bekommerde McGregor die hospitaal gekontak. Dié het gesê dat hy Justin moes terugbring as hy teen 06:30 steeds diep geslaap het.

Justin het kort daarna die bed natgemaak en begin braak en hy is inderhaas na die hospitaal teruggeneem.

“Hy het tragies ʼn lineêre fraktuur aan die tempoparietale deel  van die kop [langs die slaap] opgedoen wat nie met ʼn fisieke ondersoek opgespoor kon word nie,” het die hof bevind.

Dit het die klein harsingvliesaar geskeur wat subdurale bloeding veroorsaak het. Dít beteken daar is bloeding tussen die skedel en die skedelvlies. Die toestand is eers opgemerk toe Justin gesukkel het om wakker te word en begin braak het.

Justin is na die hospitaal teruggehaas waar ʼn noodbreinoperasie gedoen is. Die breinskade het hom egter spasties en met serebrale verlamming gelaat.

Die hof het bevind hoewel die kans dat ʼn breuk onder die omstandighede sou voorkom, uiters klein is en nie met ʼn gewone ondersoek raakgesien sou word nie, sou dit wél met die hulp van ʼn RT-skandering opgespoor kon word. Die skanderings word nie normaalweg gedoen nie, omdat dit ander gevare vir ʼn pasiënt kan inhou. Volgens die hof was die kwessie dus of dit onder die spesifieke omstandighede nodig was om dié skandering te doen.

Die kenners wat in die saak getuig het, was dit eens dat die betrokke dokter se ondersoek gewys dat al Justin se lewenstekens normaal was, terwyl die oogtoets wat gedoen is ook nie op enige afwykings gedui het nie. ʼn Skandering was dus nie nodig nie tensy die knop op die kind se kop onstabiel gevoel het. Indien wel, het die dokter getuig, sou sy wel ʼn skandering gedoen het.

Die appèlhof het die argument verwerp dat die dokter die kind vir verdere waarneming by die hospitaal moes hou en dat haar ontslagadvies aan die ouers onvoldoende was. Die hof het bevind daar is geen bewyse dat verdere waarneming in die hospitaal of ʼn meer omvattende instruksie aan McGregor en sy vrou, Sharon, die omstandighede sou verander het nie.

Die appèlhof het die eis om skadevergoeding gevolglik verwerp.

“Wat met Justin gebeur het, was ʼn tragedie en sy ouers verdien alle simpatie vir wat hulle moes deurmaak. Mediese wetenskap het egter nog nie tot op die punt gevorder waar ʼn diagnose onfeilbaar is nie en daar sal gevalle wees waar, desnieteenstaande die beste pogings van medici, ʼn tragedie soos dié plaasvind.

“Simpatie is nie gronde vir regsaanspreeklikheid in dié of enige saak nie,” het die hof bevind.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

7 Kommentare

jongste oudste gewildste
Kalla

Skande!

Fedup

This is one of the most shocking things i have ever read in my life. Who does that docter and judge think they are? Do they have children? Would they be willing to let it go if it happened to their children? What a freaking disgrace to humanity those 2 are.

Sarel

Wat van die kind hou vir opservasie..

Oja NuwevSA

capie

Klink vir my veel eerder na verskoning soek omdat die ouers skuldig voel en die gevoel probeer afsmeer aan die dokter. Die kind moes nie in die straat gewees het nie in die eerste plek.

Cherokee

‘n Belangrike en praktiese vraag behoort te wees of breinskade voorkom kon wees indien die skeur in die aar betyds raakgesien sou wees. Of die bloeding gestop sou kon word.