Voorvereistes vir beter matriekuitslae  

Angie Motshekga, minister van basiese onderwys op 5 Januarie 2015 tydens die bekenstelling van die nasionale en provinsiale matriekuitslae (Skermskoot: eNCA-beeldsending)

Angie Motshekga, minister van basiese onderwys op 5 Januarie 2015 tydens die bekenstelling van die nasionale en provinsiale matriekuitslae (Skermskoot: eNCA-beeldsending)

Indien Suid-Afrika beter matriekuitslae in die toekoms wil behaal, sal daar op twee aspekte gefokus moet word: Gehalte preprimêre onderwys vir alle kinders in Suid-Afrika en goedopgeleide onderwysers wat passievol en gedissiplineerd is.

Dit is die mening van onderwyskenners ná afloop van die bekendmaking van die 2016-matriekuitslae.

Die minister van basiese onderwys het Woensdag aangekondig dat die matriekslaagsyfer 72,5% is. Dit is hoër as 2015 se slaagsyfer van 70,7%, maar laer as 2014 se slaagsyfer van 75,8%.

Dr. Nicky Roberts, ʼn postdoktorale genoot in onderwys verbonde aan die Universiteit van Johannesburg, meen dat terwyl dit interessant is om die provinsies se uitslae met mekaar te vergelyk, dit nie sinvol is nie. “Die leerders begin nie op ʼn gelyke speelveld nie. Internasionale studies toon dat leerders se sosiale en ekonomiese status ʼn deurslaggewende rol speel in die sukses van hul studies. Die meer stedelike provinsies se jaarlikse sukses in die matriekuitslae bewys dit, terwyl die meer landelike provinsies soos die Oos-Kaap, Limpopo en KwaZulu-Natal maar telkens sukkel.

“ʼn Matrikulant se sukses is ʼn proses wat presies 18 jaar en nege maande neem. Dit is ʼn gesamentlike poging van ʼn hele gemeenskap wat ouers en onderwysers se insette verg. Dit word reeds beïnvloed deur faktore soos dit wat ʼn ma eet en of sy alkohol gedrink het tydens haar swangerskap,” het Roberts gesê.

Hugo Vermeulen, hoof van Helpende Hand se Skole-ondersteuningsentrum, reken die onderwysdepartement moet fokus op plekke waar ʼn blywende impak gemaak kan word. “As voorskoolse onderrig van wêreldgehalte is gaan jy beslis sukses in die toekoms behaal.”

Hy meen die onderwysdepartement doen reeds baie om hierdie fase van onderwys te verbeter, maar daar kan beslis baie meer gedoen word. “Daar sal meer geld in hierdie fase belê moet word om te verseker dat alle Suid-Afrikaanse kinders van so jonk as vyf jaar na ʼn gehalte- voorskoolse instansie gaan waar onderwysers opgelei is om kinders optimaal te ontwikkel. As die klem hierop gelê word sal ons oor ʼn paar jaar die vrugte daarvan kan pluk.”

Vermeulen het verder gesê dat die onderwysdepartement oor die jare reeds baie gedoen het om onderwysgehalte in die land te verbeter, maar hy is egter bekommerd oor die 28 vakke waarvan die punte opwaarts aangepas is, asook die 3% opwaartse aanpassing wat leerders steeds ontvang as hulle huistaal nie Engels of Afrikaans is nie.

“Ons is ook bekommerd oor die slaagsyfer van wiskunde. Net 51,1% van alle matrikulante wat wiskunde geskryf het, het die vak geslaag. Verder het net 33,5% van alle leerders wat die vak geslaag het, het meer as 40% behaal.”

Prof. Sara Gravett, dekaan van die Onderwysfakulteit aan die Universiteit van Johannesburg, meen indien ʼn stewige fondasie in ʼn vak soos wiskunde reeds in die grondslagfase gelê word, leerders nie later in hulle skoolloopbaan sal sukkel nie en dat die ingrypingmaatreëls in matriek nie nodig sal wees nie.

Kenners meen ook dat die sukses van die sogenaamde “bevorderde leerders”, dié wat gr.11 twee keer gedruip het en na gr. 12 bevorder is, nog ʼn bewys is dat daar ʼn fokus moet wees op gehalte-onderrig reg deur die hele onderwysstelsel. Hulle meen die vraag moet gevra word waarom dié leerders dit regkry om gr. 12 te slaag, in sommige gevalle met universiteitstoelating, terwyl hulle nie in vorige grade nie daarin kon slaag nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

10 Kommentare

andre ·

Tyd om wakker te word. Regering moet die agbare Ignatius Jacobs bedank vir sy onnosele besluit om pre premere skole tot niet te maak en al daardie hoogs gekwalifiseerde onderwysers te verplig om ‘n ander heenkome te vind. 20 jaar te laat !!!!

Buitestander ·

Goed gedisspineerde u leerlinge dra ook ±80% by tot goeie matriek uitslae.

Meraai ·

Mag miskien so wees, maar voorskoolse onderrig is goed. Die pap val definitief op die grond in ons laerskole en hoerskole. Ek hou my standpunt – in hierdie land is daar nie genoeg goeie wiskunde onderwysers nie. Jy moet dit sinvol kan oordra en dit beteken jy moet self weet wat jy doen. Ek wil skree as ek sien hoeveel kinders by ons ekstra wiskunde klasse moet neem. Ja, dit kos geld, baie geld. Stuur ons onderwysers na sinvolle opleiding en bemagtig hulle om wiskunde sinvol te kan aanbied.

Stem saam ·

Ek stem 100% met jou saam. Wiskunde is wel n baie belangrikke vak maar sommige onderwysers is nie opgelei om die vak aan te bied nie en dan word koerupsie ook nog gepleeg deur n ouer n fooi per uur te vra vir ekstra klasse en dan slaag jou kind net net? Daar word niks eers aan die situasie gedoennie? Waarvoor word n onderwysser dan n salaris betaal? Waarvoor moet ouers te duurste betaal vir skoolfonds? Niemand se niks en doen iets daaraan nie want elkeen kry sy “cut” daaruit dis mos lekker as dit pap reen!

Eierle ·

Hoekom moet die onderwyser altyd die skuld kry as kinders swak doen. Daar geen dissipliene by huise nie so kinders leer nie en gee nie aandag in klas nie en het ook geen respek vir onderwysers nie.

Janlie ·

My punt presies. En hulle praat san passievolle onderwysers, maar hulle ontneem die onderwysers van die passie deur onredelike lading administratiewe werk wat niks te doen het met die vak nie en deur altyd teen die onderwysers te draai. Nie eers om van salarisse te praat nie

John ·

Hoe meer leerders in ‘n klas hoe moeiliker is dit om aandag aan enkelinge se probleme te gee, om nie te praat van die tyd wat verloop om die spulletjie tot bedaring te bring en hul volle aandag te kry nie. Dan moet onderwysers nooit hul stem lig nie of by die hoof kla oor uitskieters nie, want dadelik kry die onderwyser 6 van die beste met die ou rassisme-rottang. Alle eer aan die onderwysers vir hul ongelooflike geduld en harde werk!

Johan ·

Baie wysheid word uitgespreek deur onderskeie partye in hierdie artikel. Die verskille kom in hóé die doel bereik moet word. Ek dink n groot probleem is dat daar nie onderwyskolleges is nie. Die goewerment moet hul trots in hul sak steek en dit eenvoudig net weer bou. N kollege skep werk vir die bouers asook al die ander mense soos tuiniers en skoonmakers wat daardeur in diens geneem word. Dit verskaf n geldelike inspuiting vir die dorp waar dit gebou word. Natuurlik, met moeite en goeie bestuur, bring dit ook goeie onderwysers waarna almal op soek is.

John ·

Gereelde ouervergaderings vir elke graad moet afgedwing word waar die ouers se samewerking verkry word veral vir die eerste paar jaar. Die leerplanne kan kortliks geskets word en die ouers moet gehelp word om te verstaan wat van die leerders verwag word. In die beginjare van ons land het die sendingskole die ouers saam met die beginners skool laat bywoon omdat hulle nie die kinders met hul huiswerk kon help sonder insig of skoling nie. Baie ouers se taal- en rekenvaardigheid raak verroes met die jare en leerplanne/-style verander. Insig sal geduld kweek en vrymoedigheid om hulp te soek eerder as om die skool as ‘n vyand te wil uitmaak.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.