Voorverhoor begin vandag in Panayiotou-moordsaak

Moordbeskuldigde Christopher Panayiotou tydens 'n vorige verskyning in die Port Elizabeth-hooggeregshof saam met sy twee medebeskuldigdes, Sizwezakhe Vumazonke (middel) en Sinethemba Nenembe (26 Julie 2016) Foto: Raahil Sain/ANA

Moordbeskuldigde Christopher Panayiotou tydens ‘n vorige verskyning in die Port Elizabeth-hooggeregshof saam met sy twee medebeskuldigdes, Sizwezakhe Vumazonke (middel) en Sinethemba Nenembe (26 Julie 2016) Foto: Raahil Sain/ANA

Voorverhoorverrigtinge in die Jayde Panayioutou-moordsaak sal na verwagting vandag in die hooggeregshof in Port Elizabeth begin.

Vroeër vandeesmaand is die voorverhoorverrigtinge uitgestel nadat die beweerde skieter, Sizwezakhe Vumazonke, dood is kort nadat hy in ʼn koma gegaan het. Vumazonke se regspan het aan die hof gesê dat hy ernstig siek geword het terwyl hy in die St. Albans-gevangenis aangehou is, tot op ʼn punt waar hy gesukkel het om te praat of te loop.

Die oorsaak van Vumazonke se dood is steeds nie bevestig nie, maar gerugte doen die ronde dat hy moontlik vergiftig is. Tsepo Ndwalaza, woordvoerder van die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG), het gesê die staat wag steeds op ʼn toksikologieverslag.

“Die staat is vol vertroue dat Vumazonke se dood nie die bewyse teen die oorblywende beskuldigdes sal beïnvloed nie,” het Ndwalaza gesê.

Christopher Panayiotou, Jayde se man, word daarvan beskuldig dat hy die meesterbrein is agter die ontvoering van en moord op sy vrou in April verlede jaar, omdat sy glo ʼn “finansiële las” was. Die staat voer aan hy het Luthando Siyoni, ʼn uitsmyter by sy Infinity-nagklub, betaal om Vumazonke as sluipmoordenaar te huur. Volgens die staat moes hy Jayde ontvoer en vermoor.

Die staat voer aan Sinethemba Nenembe het Vumazonke bygestaan om die vermeende sluipmoord uit te voer. Zolani Sibeko, ʼn vyfde verdagte, is in Julie in hegtenis geneem. Siyoni het intussen ʼn art. 204-getuie geword, wat beteken hy is kwytgeskeld van vervolging indien die hof tevrede is dat hy eerlik getuig het.

Die beskuldigdes staan tereg op aanklagte van sameswering tot moord, roof met verswarende omstandighede, ontvoering, moord en die onwettige besit van ʼn vuurwapen en ammunisie. Panayiotou staan tereg op ʼn addisionele aanklag van dwarsboming van die gereg.

Die verhoor sal na verwagting op 10 Oktober begin.

Lees alle vorige berigte oor Christopher Panayiotou op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Jean ·

So ‘n pragtige mens, ek sal nooit verstaan hoekom iemand jou geliefde wil doodmaak nie. Skei haar as jy nie meer lief is vir haar nie, maar sy het ook die reg gehad om gelukkig met iemand anders te wees en ‘n lewe te hê as hy haar nie meer wou gehad het nie. Hoop die skuldiges ry aan die pen en sit vir ‘n lang tyd om te dink oor hierdie afskuwelike daad wat hulle gepleeg het.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.