Voorverhoor van moord op sokkerster begin Maandag

Senzo Meyiwa. (Foto: soccerladuma.co.za)

Die voorverhoor in die moordsaak van die voormalige Bafana Bafana-kaptein Senzo Meyiwa begin volgende week.

Die vyf beskuldigdes sal na verwagting Maandag in die Palm Ridge-hooggeregshof in Johannesburg verskyn waar die voorverhoorverrigtinge sal afskop.

Muzikawulahlelwa Sibiya, Bongani Sandiso Ntanzi, Mthobisi Prince Mncube, Mthokosizi Maphisa en SifikuhleNkani Ntuli Sifiso is ses jaar ná Meyiwa se moord aangekeer en staan tereg op aanklag van moord, poging tot moord, roof met verswarende omstandighede, die onwettige besit van ʼn vuurwapen en die onwettige besit van ammunisie.

AfriForum se privaatvervolgingseenheid verteenwoordig die Meyiwa-familie in die verhoor.

Meyiwa is op die aand van 26 Oktober 2014 by sy vriendin, die sangeres Kelly Khumalo, se ma se huis in Vosloorus doodgeskiet.

Twee mense het dié betrokke aand by die huis, waar verskeie ander mense teenwoordig was, ingebars. Hulle was gewapen met ʼn vuurwapen en ʼn mes en het geld en selfone geëis.

ʼn Stoeiery het tussen Meyiwa en die aanvaller met die vuurwapen ontstaan. ʼn Skoot het afgegaan wat Zandile Lorraine Khumalo – Kelly se suster – in die enkel getref het nadat dit van die vloer af opgeslaan het. Die aanklag van poging tot moord spruit uit dié skoot.

ʼn Tweede skoot is afgevuur en Meyiwa is in die bors geskiet. Die koeël is deur sy liggaam en het ʼn agterdeur, waarteen Meyiwa gestaan het, getref.

ʼn Selfoon is van Kelly Khumalo geroof, waarna die rowers gevlug het.

Meyiwa is later kort na sy aankoms by die Botshelong-hospitaal in Vosloorus dood.

Maroela Media het vroeër berig adv. Gerrie Nel, hoof van die privaatvervolgingseenheid, glo die voorval was nie ʼn rooftog wat skeefgeloop het nie, maar eerder ʼn sluipmoord.

Die beweerde baasbrein is intussen nog op vrye voet.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Harley Davidson ·

Presies wat ek gesê het in ‘n vorige boodskap ons is gelukkig om ‘n Afriforum te hê om reg en geregtigheid te polisieer en reg te stel,die politieke partye wat nou so vry na stemme neem kennis,leer en pas toe.

Cherokee ·

Moet nie net 6 jaar sien nie.
Lees weer en sien die hele prentjie.
Dit het ‘n AfrForum gekos om dit op te los.

Di ·

Stem saam met Gerrie Nel, iemand is seker gehuur om van hom ontslae te raak. Met hierdie klomp is dit moontlik, vermoor jou vir ‘n paar rand. Polisie net so useless! Vat 6JAAR om van hulle in hegtenis te neem

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.