Voorwaardes vir toegang tot spoornetwerk ‘ekonomiese sabotasie’

In Suid-Afrika word 807 miljoen ton vrag jaarliks vervoer. Hiervan word slegs 195 ton – oftewel ʼn kwart – per spoor vervoer. (Foto: Unsplash)

ʼn Tweejaarvoorwaarde wat Transnet koppel aan kontrakte vir private operateurs wat van sy spoorvragnetwerk gebruik wil maak, is “ekonomiese sabotasie” en “ondermyn” pres. Cyril Ramaphosa se opdrag dat die staat voortaan veel nouer met die private sektor moet saamwerk.

Só sê dr. Roelof Botha, ekonomiese raadgewer van die Optimum-beleggingsgroep.

Volgens hom is Siza Mzimela, hoof van spoorvragvervoer by Transnet (TFR), se voorwaarde dat suksesvolle bieërs net twee jaar lange kontrakte kan kry bloot ʼn slinkse manier om Ramaphosa se privatiseringsplan te dwarsboom. Dit is omdat suksesvolle bieërs dermiljoene rande sal moet uithaal indien hulle die netwerk optimaal wil gebruik. Dit sal dus nie die moeite werd wees om net vir twee jaar te belê nie.

“As dit enige ander land was, is hy dadelik in die pad gesteek,” sê Botha.

Pravin Gordhan, minister van openbare ondernemings, het verlede jaar by ʼn vergadering van die Afrika-spoornywerheidsvereniging (Aria) aangekondig dat derdepartytoegang tot Transnet se spoorlyne beoog word. Dit is bestempel as ʼn manier om te verseker die vragvervoersektor groei en dat nywerheidsontwikkeling plaasvind.

Daar het nie veel van gekom nie, tot Enoch Godongwana, minister van finansies, in Oktober in sy mediumtermynbegrotingsraamwerk opnuut die kwessie van derdepartytoegang tot Transnet se spoorlyne aangeroer het.

Ingevolge die bodproses word altesame 16 sogenaamde spoorgleuwe “voetstoots” aan private operateurs verkoop. Roetes tussen City Deep en Durban, Bethlehem en Durban, asook tussen Polokwane en Pretoria is onder meer beskikbaar.

Suksesvolle bieërs sal na verwagting teen die einde van Junie bekend gemaak word en gleuwe sal slegs toegeken word aan operateurs wat binne ʼn maand ná die toekenningsproses die spoorlyne kan begin gebruik.

Onbillike voorwaardes

In Suid-Afrika word 807 miljoen ton vrag jaarliks vervoer. Hiervan word slegs 195 ton – oftewel ʼn kwart – per spoor vervoer. Volgens Aria se navorsing kan 58 miljoen ton vrag wat tans padlangs vervoer word, na spoorlyne verskuif word.

Aria raam dat private operateurs wat derdepartytoegang tot die spoornetwerk wil bekom, elk ʼn 50-wa-treinstel teen ʼn geraamde koste van R200 miljoen sal moet aankoop. Elke operateur sal minstens drie sulke stelle benodig – en dit beloop R600 miljoen vir toerusting wat na verwagting 30 jaar lank sal hou.

Indien ʼn gleuf egter vir ʼn skamele twee jaar teen dié astronomiese aanvanklike koste toegeken word, sal die belegging nie vir private operateurs die moeite werd wees nie.

“Die tweejaarvoorwaardes is ekonomiese sabotasie van pres. Ramaphosa se beleid. Hy sê dus private operateurs mag bie, maar stel dan ʼn voorwaarde wat dit onmoontlik maak om daaraan te voldoen,” sê Botha.

Mesela Nhlapo, hoof van Aria, stem saam dat die bepalings “onbillik” is en boonop nie ooreenstem met die nasionale spoorbeleid nie.

Vakbonde wat skerp gekant is teen enige vorm van privatisering was tot dusver nie juis uitgesproke oor die planne nie, moontlik omdat hulle weet die proses word uit die staanspoor in die wiele gery.

Botha maan egter dat die land se heropbouproses net met die maksimum betrokkenheid van die private sektor vermag kan word. Sodra bouwerk begin, word mense in diens geneem. Hierdie werkers bestee weer hul salarisse en binne dae kry die staat tussen 20% en 30% van die maandelikse salarisse in belasting terug, wat die staatskoffers weer help volmaak.

Daar sal ook vernuwing in die kabinet moet wees en ruimte moet geskep word vir diegene wat daadwerklik tot Ramaphosa se vennootskapsbenadering verbind is. Botha waarsku egter dat ʼn dekade lange sabotasie van die ekonomie – soos deur staatskaping – nie oornag ongedaan gemaak kan word nie.

Die Zondo-kommissie na staatskaping het bevind Transnet was die episentrum van staatskaping en die instelling se bedryfsverlies het in die jongste finansiële jaar ʼn ongelooflike R8 miljard beloop.

Nietemin meen Botha geld is nie die probleem nie. “Ons het nie ʼn fiskale dilemma in Suid-Afrika nie. Ons het ʼn geweldige groot en gediversifiseerde belastingbasis en die land is steeds in ʼn posisie om geld te leen. Ons moet dié geld net reg gebruik.”

Botha sê ook infrastruktuurontwikkeling en die land se herstelproses sal as’t ware “buite arbeidswetgewing” moet plaasvind sodat militante vakbonde se monde gesnoer kan word.

Oplossings voorgestel

Nhlapo sê die vereniging het verskeie probleme en onbillike voorwaardes geïdentifiseer en reeds oplossings voorgestel. Dit is die afgelope week aan onder meer die presidensie gestuur en sluit in:

  • Absolute beheer berus by Transnet-spoorvragvervoer: TFR het absolute beheer oor hoe derdepartytoegang bestuur gaan word en stel onbillike eise. Aria stel voor dat die proses by Transnet (en nie sy spoorvragafdeling) berus nie en sê die bepalings en voorwaardes moet saam met die tussentydse ekonomiese reguleerder vir spoorvervoer (IRERC) en die bedryf vasgestel word – nie deur ʼn dekreet nie.
  • Tweejaarkontrakte: Weens die belegging wat private operateurs sal moet maak, is so ʼn kort kontrak finansieel onvolhoubaar. Die monopolie in die spoorbedryf wek lankal reeds kommer en Aria sê belegging moet bevorder word.
  • “Voetstoots”: Transnet wil hom nie verbind tot diensvlakke nie en daar is ook geen gevolge as hy nie behoorlike diens lewer nie. Aria sê private operateurs moet besef die netwerk is nie in die toestand wat dit moet wees nie, maar ʼn billike diensvlak vir Transnet moet bepaal word.
  • Gebrek aan deursigtigheid: Transnet is nie deursigtig in die manier waarop koste en bepalings vasgestel word nie. Aria sê die speelveld vir alle operateurs moet gelyk gemaak word en private operateurs moet vertroue in die tariewe, terme en voorwaardes hê.
  • Bedingingsraad: Transnet vereis dat alle partye deel van die Transnet-bedingingsraad moet wees, maar Aria sê dit is misbruik om so ʼn voorwaarde sonder enige beraadslagingsproses in te stel.

Nhlapo sê dit is belangrik dat die bedryf self met oplossings vorendag kom. “As ons net kritiseer, gaan dit die ekonomie uiteindelik geld kos,” sê sy.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

3 Kommentare

jongste oudste gewildste
Christine

Dit maak mens woedend at eens werkende staatsinstellings, nou gered moet word na die algehele ineenstorting en aftakeling van infrastruktuur en fondse. Ek glo ons land kan beter doen sonder hierdie regering, deur bekwame en etiese besigheidsmense aan stuur te plaas.

Andrew

Jong daar was darm vir jou slim mense in die vroe negentigs rakende die blink toekoms van SA. Ek onthou n toespraak by my skool in Pretoria gedurende ’94 deur die president van die tyd. Was een van sy laaste as president, daar was n verkiesing net na daai dag. Ek onthou ook hoe die skoolseuns hulle pa’s nagepraat het oor die hele politiese situasie, was maar nogal in die selfde lyn as hoe daai referendum gegaan het. Ek het natuurlik nie geluister nie en sal nogal die toespraak weer wil hoor.

Windhond

En ek dog Eskom is die pad kwyt, met “gebruik asb minder van my produk” en nou spoorwee wat eerder laat die kriminele politieke elemente die spoorlyne wegdra as om die trajekte aktief te kry en sodoende onderhoud van die spore te verseker ongelooflik – kan mens dit nou oorvertel?