‘Vordering’ in Horner-moord

Brendin Horner (Foto: Facebook)

Nog geen deurbraak is in die ondersoek na die 21-jarige Vrystaatse plaasbestuurder Brendin Horner se moord gemaak nie.

Die private ondersoeker Mike Bolhuis se span het wel al vordering met die saak gemaak en is tans in “die finale fase” van hul ondersoek.

Die saak het vandeesweek weer opnuut aandag getrek nadat ou inligting oor die inhegtenisneming van vyf polisiebeamptes en twee veemakelaars weer die rondte op sosiale media begin doen het. Die inhegtenisname hou verband met ’n veediefstalsindikaat, wat volgens Vrystaatse boere moontlik met die moord verbind kan word.

Maroela Media het egter reeds in Julie verlede jaar oor dié inhegtenisnemings berig. Die beweerde sindikaat is intussen nog geensins deur die polisie met die moord verbind nie, terwyl die twee verdagtes wat aanvanklik van die moord aangekla is, vrygespreek is weens onvoldoende getuienis.

Die private ondersoeker Mike Bolhuis – wat in November aangestel is om die saak opnuut te ondersoek – sê nou die ou inligting het valse hoop onder lede van die publiek veroorsaak en kan selfs sy span se ondersoek skade aandoen.

“Daar is niks goeds te sê oor ou plasings nie. Dit skep die indruk dat daar ’n deurbraak gemaak is.”

Luke Enslin, senior ondersoeker en lid van Bolhuis se span, beaam dit. “Die ou inligting het ’n beroering veroorsaak onder die gemeenskap waar Horner vermoor is sowel as die breër Suid-Afrikaanse gemeenskap wat die saak volg.”

Horner is in Oktober 2020 op ʼn plaas in die Paul Roux-omgewing wreedaardig vermoor. Hy het talle steekwonde aan sy liggaam gehad, dit het gelyk asof hy oor die grondpad gesleep is en sy liggaam is aan ʼn paal in ʼn veld op die plaas vasgemaak. Die nadoodse ondersoek het verwurging as die oorsaak van Horner se dood aangedui.

Private ondersoek ‘vorder’

Brendin Horner (21) is wreed op ‘n plaas vermoor. (Foto: Twitter)

Bolhuis sê sy span het al goeie vordering gemaak sedert hulle die Horner-moordsaak in sy geheel van vooraf aangepak het.

“Daar is heelwat van ons kant af gedoen. Ons het geïdentifiseer wat daar [in die aanvanklike ondersoek] reg en verkeerd gedoen is sowel as wat moet en kán gedoen word en wat oorgedoen moet word.

“Ons het verskeie vergaderings met die betrokke partye gehad en ons is nou in die laaste fase van die ondersoek waar ons ’n infrastruktuur skep om inligting in te win. Dit sluit informante in.

“Die oplossing van ’n saak lê in die finale fase van die ondersoek en dit is waarmee ons besig is.”

Bolhuis wys wel daarop dat die saak as ’n sogenaamde koue saak beskou word.

“Dit is belangrik dat die publiek verstaan dat ons ’n organisasie is wat as die laaste uitweg – when all else fails – beskou word.

“Dit is altyd nadelig wanneer jy nie ’n vars saak kry nie. Teen die tyd wat ons ’n saak kry, is daar goed wat verkeerd gedoen is en dit kan die saak vertroebel.” Hy verwys dan spesifiek na die vryskelding van Sekola Matlaletsa en Sekwetje Mahlamba.

Lees al Maroela Media se berigte oor die moordsaak hier.

Enigiemand met meer inligting wat tot die ondersoek kan bydra, kan Cecil Benadé by 079 527 8886 of Luke Enslin by 082 222 5821 skakel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

18 Kommentare

Rooikoos ·

So Bolhuis het basies nog niks want hy bly verskonings maak.

Jaco ·

Ja ou Mike, dit is presies dieselfde storie wat jy en jou bende nou al vir amper 3 jaar spin oor die 2 jong mense wat by Putfontein langs die pad vermoor is… Eintlik ook maar net so onbevoeg soos hoedman en sy cronies.

Johann ·

Jy betaal eers die fooi En ongeag of daar resultate is of nie kry jy nie jou geld terug nie

Marius ·

Aangesien daar sapd lede betrokke is met die diefstal sindikaat is die kanse goed dat dieselfde lede bewysstukke vernietig en sorg dat die saak nie ondersoek kan word nie.

Jacobus ·

Kan Mike Bolhuis vir ons een saak gee wat hy al suksesvol opgelos het asb?

Jannie van Niekerk ·

Omdat polisielede in hegtenis geneem is gaan NIEMAND my oortuig dat hier NIE ‘n toesmeerdery aan die gang is van polisiekant af is in opdrag van Minister Cele nie.

Swerwer ·

Gee kans, niks is onmoontlik nie, die skuldige terroriste sal aan die pen ry. Bolhuis weet wat hy doen, net ‘n kwessie van tyd. ‘n Mens gooi nie jou feite op ‘n tafel voor alles in plek is nie.

Frank John ·

Groot praat kan baie mense wan beindruk. Proof is in the pudding. Wys iets positiefs en ons is impressed, maar om net nog beloftes te maak en ander te blameer help niks.

Christine ·

Ek kan nie glo daar is mense wat vir ou Mike Bolhuis betaal om sake op te los nie. Hy is net ‘n bol wind wat geld maak uit mense se hartseer en desperaatheid, maar sake word nie opgelos nie.

Gert ·

Loof R 150,000-00 uit vir die regte inligting wat tot die inhegtenisname en vonnis sal lei en maak dan ‘n saak teen die polisie vir R 5,000,000-00

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.