Vordering in saak van weermaglid wat MIV ‘doelbewus versprei’

Foto bloot ter illustrasie. (Argieffoto)

Die verhoor van die 45-jarige voormalige lid van die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag (SANW) is Woensdag tot April uitgestel vir slotbetoë.

Die beskuldigde staan tereg op klagtes van poging tot moord en verkragting ná hy na bewering die klaer in hierdie saak, Antoinette Ndishishi, doelbewus met MIV besmet het. Die beskuldigde het geweet hy het dié virus, maar het hierdie feit verswyg. AfriForum se privaatvervolgingseenheid verteenwoordig Ndishishi in hierdie saak.

Die identiteit van die beskuldigde word weerhou aangesien die klagtes teen hom verband hou met sy gesondheid – die verhoor vind in camera plaas.

Ndishishi het die verrigtinge vandag bygewoon. Die landdros het haar gevra om verskeie aspekte van haar getuienis te verduidelik.

Sy sê dat hierdie verhoor sy tol geëis het – die verhoor het in Maart 2022 begin. “Ek wil hê hy moet skuldig bevind en gevonnis word. Hierdie saak moet nou gefinaliseer word. Die verhoor het lank geduur en ek is emosioneel uitgeput. Dit is nie lekker om hof toe te gaan nie, maar AfriForum en my familie is baie ondersteunend,” sê Ndishishi.

Die beskuldigde en die klaer was beide ten tyde van die beweerde voorval lede van die SANW.

Die privaatvervolgingseenheid het in 2018 by hierdie saak betrokke geraak en druk geplaas op die SANW om die beskuldigde se mediese verslae, wat ook inligting bevat het oor sy MIV-status, aan hulle beskikbaar te stel. Hierdie verslae dateer so ver terug as 2007.

“Die SANW het geweier om dié verslae beskikbaar te stel wat daartoe gelei het dat die Nasionale Vervolgingsgesag die saak twee keer moes onttrek,” verduidelik Barry Bateman, woordvoerder van die eenheid. “Sonder die privaatvervolgingseenheid se toetrede en voortgesette druk op die SANW sou die dossier nie voldoende bewyse bevat het om uiteindelik die beskuldigde te vervolg nie.”

Die saak is uitgestel tot 16 April.

 

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Anel ·

Hou is dit moontlik!!!! Die bedkuldigde word beskerm agv se gedondheid!!! Wst van die arme klaagster??? As die beskuldigelde nie bekend gemaak mag word nie, hoe weet mens hy het nie nog ander besmet nie??? Wys net weer hoe omgekeerd is ons wetgewing!! Misdadigers word beskerm!!! Dis siek man!!!

Gawie ·

So die slagoffer se naam mag bekend gemaak word, maar die skuldige nié, want hy is siek? Dis dan waaroor die saak gaan!
Dis siek!

Sê maar net ·

Gawie ek stem 100% saam. Deesdae het die skuldiges meer regte as die slagoffers. Siek wêreld waarin ons lewe…

Pawiljoen Rot ·

Sy sê dat die verhoor sy tol geëis het. Dit moes ‘n baie koue verhoor gewees het.

Aggie ·

Dis onbegryplik dat die beskuldigde se naam nie bekend gemaak mag word nie. Dit is mos noodsaaklik want dan kan nog vroue wat hy besmet het miskien na vore kom. Het hy nou meer regte as die klaagster?

Cassie Carstens ·

Hierdie saak het ‘n baie slegte gevolge vir die klaagster, want haar lewe is verwoes. Sulke tipe oortreders moet in strafkampe aangehou word. Dis onvergeeflik.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.