‘Vordering’ met herstel van Durban-hawe

Die Durbanse hawe. (Foto: Twitter / Transnet)

Pres. Cyril Ramaphosa het Sondag tydens ’n vergadering met die Durbanse Kamer van Handel en Nywerheid gesê dat herstelwerk aan die Durbanse hawe en ander beskadigde infrastruktuur weens ernstige vloede vroeër vanjaar, goed op dreef is.

Dít volg na vergaderings met die onderskeie ministers in die provinsie oor die vordering van grootskaalse herstel- en herbouwerk in KwaZulu-Natal waar ʼn ramptoestand verlede maand afgekondig is.

Ramaphosa sê hy “verwelkom die tempo van vordering” met die herstel van padinfrastruktuur en operasionele doeltreffendheid by die hawe. Dit sluit die skoonmaak van terminale, die dreinering en heropening van die spoorlyn en die herstel van seemure in.

“Ons is in kennis gestel dat die Transnet Nasionale Hawe-owerheid (TNPA) tot dusver meer as 340 kubieke meter rommel uit die hawe verwyder het.

“Wat haweverkeer betref, is kapasiteit herstel en die hawe het sedert 13 April meer as 100 vaartuie hanteer. Sleepbote werk almal weer op volle kapasiteit.”

Bedrywighede by terminale is ook ten volle hervat. Dit sluit die af- en oplaai van skeepsvragte, asook vragmotoraflewerings in.

Ramaphosa sê die herstel van bedrywighede en gepaardgaande infrastruktuur by die hawe is ʼn prioriteit, gegewe die belangrikheid van die hawe vir die land en vasteland se ekonomie.

Reuseskade is vroeër aan Bayheadweg, op pad na die Durbanse hawe, aangerig. (Foto: TrafficSA/Twitter)

“Die ekonomiese heropbou en herstel wat reg oor die land aan die gang is in die nasleep van die Covid-19-pandemie kan nie slaag sonder die vinnige, omvattende en volhoubare herstel van die ekonomie van KwaZulu-Natal nie.

“Deur die vloede as ’n ramptoestand te verklaar, is ons in staat gestel om meer hulpbronne, vermoëns en tegniese kundigheid binne die noodwendige tydraamwerke te mobiliseer. Skade aan belangrike ekonomiese infrastruktuur soos paaie, energie-oordrag en -verspreiding, water- en sanitasiefasiliteite en die hawe van Durban het steeds ’n ernstige impak op bedrywighede.”

Die provinsie se ekonomie herstel boonop nog van die skade wat deur onrus in Junie verlede jaar veroorsaak is.

Die president het voorts gesê dat pogings deur Transnet om spoorinfrastruktuurskade te hanteer ook voortduur, hoewel dit waarskynlik geruime tyd sal duur gegewe die omvang van die vloedskade wat aangerig is.

Transnet beraadslaag tans met gemeenskappe wat deur die bouwerk geraak sal word, aangesien ’n aantal wonings wat in die geïdentifiseerde spoorreserwe is, verskuif sal moet word.

Verder vorder herstelwerk aan geraakte paaie goed, veral strategiese paaie wat goedere na die hawe vervoer.

“’n Aantal padherstelprojekte is geïdentifiseer met die onmiddellike fokus op die N2- en N3-hoofweë. Die nodige stelsels word in plek gestel om te verseker dat herstelwerk sonder vertragings voortgaan.”

Volgens Ramaphosa is die herstel van noodsaaklike dienste soos water- en elektrisiteitstoevoer ook goed op dreef.

“Eskom het munisipaliteite bygestaan ​​met die identifisering van probleme, herstelwerk en skadebepalings.

“Dit is ook bemoedigend dat watertoevoer in die grootste deel van die metro amper weer ten volle herstel is, met die uitsondering van die Noord-streek, wat ’n besondere bekommernis is.”

Ondanks die vordering wat tot dusver gemaak is, bly daar uitdagings wat ’n direkte en ernstige impak op die provinsiale ekonomie het. Die spooronderbrekings het uitvoere na die hawe beïnvloed, met veral motor- en sitrusprodukte wat geraak is. Dit sal van kernbelang wees dat alle spoorherstelwerk binne die nodige tydraamwerk afgehandel word.

“Ons het aansienlike vordering gemaak, maar daar is nog baie meer wat ons moet doen.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Lillian ·

En terwyl julle alsz so regmaak, hoop ek julle maak skoon ook, die hawe lyk verskriklik met al die rommel wat so ronddryf op die water …

Heinrich ·

Kan ongelukkig nie hierdie leuens glo nie. Die infrastruktuur was reeds so verwaarloos voor die tyd dat dit nie veel gevat het om dit te breek nie; gaan hulle regmaak soos hulle veronderstel is en dan onderhou soos hulle veronderstel is?

domheks ·

Nou hoekom vertel hy ons nie van die R1 miljard nie? Liegbek!

Pietertjie ·

Sake verloop vlot daar in die hawe! Rommel-vlot. Dit gaan nou teen groot koste iewers gestort word, om met die volgende groot reën weer see toe te spoel.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.