Vordering ná Kloofsig-substasie brand

Tegnici by die Kloofsig-substasie. (Foto: City of Tshwane/Facebook)

Die Stad Tshwane se tegniese spanne het reeds met planne begin om die kragtoevoer na dele van Centurion te herstel nadat ʼn reusebrand Woensdag in die vroeë oggendure by die Kloofsig-substasie uitgebreek het.

Terwyl die omvang van die skade nog nie vasgestel is nie en herstelwerk dus ook nie voortgesit kan word nie, is dit onseker vir hoe lank die inwoners van Lyttelton en Kloofsig sonder krag sal wees.

Selby Bokaba, woordvoerder van die Tshwane-metroraad, sê hulle wag nog vir ʼn versekeraar om die toneel te ondersoek en te assesseer voordat herstelwerk oorweeg kan word.

“Die span is in die proses om kragkabels op te grawe en toerusting te toets om te bepaal of daar enige foute op die netwerk voorgekom het,” sê hy.

Die brand het om 01:00 Woensdag by die substasie uitgebreek, waarna nooddiensspanne vinnig gewerk het om dit in bedwang te bring. Verskeie inwoners van Centurion is egter as gevolg hiervan sonder krag gelaat.

“ʼn Aantal klante wat deur die onderbreking geraak is, se krag is sedertdien met behulp van ʼn nabygeleë sekondêre substasie aangevul.

“Die Stad se tegnici het ook reeds al die nodige materiale gekry om die substasie te herstel, maar wag nog op die afgehandelde ondersoek voordat dit voortgesit kan word,” sê hy.

“Spanne ondersoek steeds alternatiewe maniere om krag so vinnig moontlik aan gebruikers te herstel.”

Die brand volg kort op die hakke van ʼn ander brand by die Acacia-substasie in Kaapstad Maandagaand. Terwyl Kaapse gebruikers reeds teen Dinsdagaand weer krag gehad het, het die inwoners aan die ooste van Pretoria vir byna twee weke sonder krag gesit toe ʼn brand by die Mooikloof-substasie uitgebreek het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.