Vosman-kinders: Hof sê oor borgtog

Gabisile Shabane. Foto: Verskaf

Die Witbank-landdroshof het vandeesweek uitspraak gelewer in die borgtogaansoeke van drie mense wat vermoedelik vir Gabisile Shabane, die 13-jarige albino-meisie van Mpumalanga, wat op 28 Januarie saam met ʼn babaseun by ʼn huis buite Witbank ontvoer is om hulle vir moetie te vermoor.

Brig. Leonard Hlathi, provinsiale polisiewoordvoerder van Mpumalanga, het gesê drie van die vier verdagtes se borgtogaansoeke is Maandag in die Witbank-landdroshof van die hand gewys.

Dit het vroeër tydens die borgtogaansoeke van Thokozani Msibi, ʼn tradisionele geneser, se twee medebeskuldigdes, Themba Thubane en Knowledge Mhlanga, se borgtogaansoeke aan die lig gekom dat Gabisile glo gedwing is om dagga te rook en ʼn konkoksie te drink voor sy vermoor is. Msibi se borgtogaansoek is reeds op 6 Maart van die hand gewys.

ʼn Ander beskuldigde in die saak, Mthobisi Brilliant Mkhize, het gesê hy gaan om “veiligheidsredes” nie om borgtog aansoek doen nie. Hulle staan tereg op aanklagte wat verband hou met die ontvoering en moord op Gabisile en die 15 maande oue Nkosikhona Ngwenya.

“Beskuldigde 1 [Msibi] het remvloeistof met bier gemeng en Gabisile gedwing om dit te drink. Sy is ook gedwing om dagga saam met Beskuldigde 2 [Mkhize] te rook,” het staatsaanklaer Fanie Mavundla vroeg in April uit ʼn beëdigde verklaring in die hof voorgelees.

Mavundla het gesê dié verklaring is deur die ondersoekbeampte, kol. Ngina Masombuka, van ʼn staatsgetuie, Thulani Thobela, verkry.

Mavundla het gesê Gabisile se onthoofde en geskende liggaam is middel Februarie in ʼn vlak graf buite Cullinan, oos van Pretoria, gevind en sommige liggaamsdele was vermis.

“Die vermiste liggaamsdele was die arms, hart, longe, geslagsdeel, baarmoeder, eierstokke, al die organe in die buik en die blaas. Die kop, een arm en ʼn gedeelte van die geslagsdeel is later by die huis van [Msibi] gevind,” het Mavundla gesê.

Volgens Mavundla is Gabisile vermoor sodat Msibi haar liggaamsdele kon gebruik om moetie vir Thubane en Mhlanga te maak om hul sakeonderneming, ʼn private kollege, te laat floreer. Mkhize wou glo deur dieselfde moetie verryk word.

Mzamo Sibisi, Thubane en Mhlanga se regsverteenwoordiger, het die verklaring betwis en aangevoer dat dit ongrondwetlik en met geweld verkry is.

Landdros Darleen Venter het die saak tot Donderdag uitgestel vir uitspraak.

Maroela Media het vroeër berig Gabisile en Nkosikhona is op 28 Januarie in die vroeë oggendure by ʼn huis in Vosman buite Witbank ontvoer waar ʼn 50-jarige vrou saam met haar kinders en kleinkinders woon.

Drie verdagtes het toegang tot die huis verkry deur die sit-en-eetkamer se venster te breek. Die vrou en haar 18-jarige dogter het die geraas gehoor en gaan ondersoek instel, waarna ʼn vuurwapen op hulle gerig is. Hulle is dadelik beveel om stil te bly.

Die verdagtes het toe vir Gabisile en Nkosikhona uit verskillende kamers gegryp en in die donker op die vlug geslaan en verdwyn. ʼn Soektog is daarna na die kinders en die verdagtes van stapel gestuur. Hul lyke is in Februarie gevind wat later in dieselfde maand tot die vier beskuldigdes se inhegtenisneming gelei het.

Lindiwe Ntshalintshali, Witbank se burgemeester, het kort ná die kinders se ontvoering gesê Nkosikhona is glo verkeerdelik geteiken. “Gabisile het albinisme gehad en die vermoede bestaan dat die ontvoerders Nkosikhona verwar het met ʼn ander baba van dieselfde familie wat ook albinisme het,” het Ntshalintshali destyds gesê.

Al vier verdagtes moet weer op 1 Junie in die hof verskyn vir verdere polisieondersoek.

Lees die vorige berigte oor die Vosman-kinders op Maroela Media.

Nkosikhona Ngwenya. Foto: Verskaf

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Katvis ·

Ek braak sommer. Sluit hulle toe sonder die opsies van parool.

Dirk ·

Hoe is dit moontlik dat ‘n mens dit aan onskuldige kinders doen?

Colleen ·

Ek weet nie hoe dit eers oorweeg kan word om borgtog toe te staan nie. Bring terug die doodstraf!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.