Vosman-moord: Beskuldigde hoor sy lot

Gabisile Shabane. Foto: Verskaf

Themba Josiah Thubane (41) sal Vrydag in die rondgaande hof in Middelburg gevonnis word op ʼn reeks aanklagte, waaronder huisbraak, ontvoering en moord.

Thubane het op 28 Januarie 2018 saam met Thokozani Msibi (32), Knowledge Wezi Mhlanga (25) en Mthobisi Brilliant Mkhize (23) glo by ʼn huis in Vosman naby Emalahleni (Witbank) ingebreek. Hulle het iets, wat ʼn redelike persoon as ʼn vuurwapen sou beskou, op die insittendes gerig en die 13-jarige Gabisile Shabane en 15 maande oue Welcome Nkosikhona Ngwenya uit die huis ontvoer. Hulle het Nkosikhona se liggaam in ʼn rivier gegooi terwyl hy nog geleef het.

Die hof het deur Thubane se skuldbekentenis gehoor die verdagtes het Gabisile daarna vermoor en haar liggaam onthoof. Hulle het die liggaamsdele gevat en die res van haar oorskot in ʼn vlak graf by Cullinan in Gauteng begrawe.

Brig. Leonard Hlathi, woordvoerder van die polisie, het gesê al die verdagtes het Maandag in die hof verskyn. Thubane het skuld beken. Msibi, Mhlanga en Mkhize ontken egter skuld. Hulle bly in aanhouding. Hulle saak is tot 25 Mei 2020 uitgestel.

“Thubane sal Vrydag gevonnis word,” het Hlathi verduidelik.

Van links is Thokozani Msibi, Brilliant Mkhize, Themba Thubane en Knowledge Mhlanga in die Witbank-landdroshof. Foto: ANA

Lt.genl. Mondli Zuma, provinsiale polisiekommissaris, het gesê dit was een van die moeilikste sake wat die polisie moes hanteer. “Die ondersoekbeamptes het egter onverpoosd gewerk en dit het uiteindelik tot die inhegtenisnemings gelei.”

Zuma het gesê die gemeenskap moet hulle nie steur aan die verdagtes wat ʼn mite geglo het dat die moord van ʼn albino-kind vir jou goeie geluk kan bring nie.

Die hof het van Thubane gehoor die motief vir die moord op Gabisile was om haar liggaam vir moetie te gebruik sodat hul onderneming kan floreer. Msibi is ʼn tradisionele geneser.

Staatsaanklaer Fani Mavundla het in April aan die hof gesê Gabisile is gedwing om remvloeistof gemeng met bier te drink en dagga te rook kort voordat sy vermoor is.

Lees alle vorige berigte oor die Vosman-moord op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

humor ·

Ek stem alle moord verdien teregstelling. Terwyl teregstelling afgeskaf is en in die plek daarvan lewenslange gevangenis ingestel is, reken ek daar moet nog oor die saak verdere oorweging wees. Hierdie tipe grusame moord moet dan ten minste onder tregstelling geklasifiseer word.

Magda ·

Sulke onmenslike dade – verdien die DOODSRTAF – ONMIDDELIK NA VONNIS.

Sê maar net ·

Ek kan net as ma dink deur watter pyn was die twee kindertjies se ma. Hoe wreed. Die kindertjies is so bitter onskuldig. Mense weet ook nie deur watter seer gaan die albino’s nie. Van hulle word heeltelmal uit die gemeenskap uitgestoot. Daar is selfs Afrika lande wat hulle in ‘n kamp hou om hulle net te beskerm. Hulle word wreed vermoor en liggamsdele word verkoop vir muti. Ai Liefste Vader die wêreld is siek.

Gaitsigubib ·

Magda jy en Elize is sekerlik die selfde persoon. Dink jy regtig dat die ANC sal al die misdadigers wat vir hulle stem galg toe stuur? Baie boere gaan verhoor word en galg kry dit verseker ek jou.

Manie ·

Elk moet sê hier is nogal redelike soek mense in die land. Die moordenaars lyk altyd so selfvoldaan in die beskuldigdebank

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.