Vosman-moord: KGT-kommissie verwelkom vonnis

Gabisile Shabane. Foto: Verskaf

Die Kommissie vir die bevordering en beskerming van die regte van kulturele, godsdienstige en taalkundige gemeenskappe (KGT-Kommissie) het die hof se vonnisoplegging van Themba Josiah Thubane verwelkom op ʼn reeks aanklagte, waaronder huisbraak, ontvoering en moord.

Thubane (41) is tot twee keer lewenslank gevonnis vir die moord op die 13-jarige Gabisile Shabane en 15 maande oue Welcome Nkosikhona Ngwenya.

Thubane het op 28 Januarie 2018 saam met Thokozani Msibi (32), Knowledge Wezi Mhlanga (25) en Mthobisi Brilliant Mkhize (23) glo by ʼn huis in Vosman naby Emalahleni (Witbank) ingebreek. Hulle het iets, wat ʼn redelike persoon as ʼn vuurwapen sou beskou, op die insittendes gerig en Gabisile en Nkosikhona uit die huis ontvoer. Hulle het Nkosikhona se liggaam in ʼn rivier gegooi terwyl hy nog geleef het.

Die hof het deur Thubane se skuldbekentenis gehoor die verdagtes het Gabisile daarna vermoor en haar liggaam onthoof. Hulle het die liggaamsdele gevat en die res van haar oorskot in ʼn vlak graf by Cullinan in Gauteng begrawe.

Die hof het van Thubane gehoor die motief vir die moord op Gabisile was om haar liggaam vir moetie te gebruik sodat hul onderneming kan floreer. Msibi is ʼn tradisionele geneser.

Thubane het skuld beken en hy is Vrydag in die rondgaande hof in Middelburg gevonnis. Msibi, Mhlanga en Mkhize ontken egter skuld en hulle bly in aanhouding. Hulle saak is tot 25 Mei 2020 uitgestel.

Die KGT-kommissie het gesê hy hoop dié vonnisoplegging stuur ʼn sterk boodskap aan enigiemand wat hom as ʼn tradisionele geneser voordoen, en tog aan aktiwiteit deelneem wat dié praktyk in oneer bring.

Prof. Mosoma, voorsitter van die kommissie, het die moord ten sterkste veroordeel. Hy doen ʼn beroep op lede van die publiek om enige voorvalle aan te meld waar persone dié praktyk misbruik en onskuldige mense doodmaak en aanvoer dat dit deel is van die tradisionele genesing.

Die kommissie sal sy bewusmakingsveldtogte in gemeenskappe voortsit.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Sarel ·

2 x Lewenslange vonisse wat aaneenlopend uitgedien word? So prakties net een. Wanneer kwalifiseer jy vir parool

Sug ·

Hulle breek by ‘n huis in en rig iets soos ‘n vuurwapen op die insittendes…..insittendes, regtig?? Inwoners dalk?
So ‘n tyd gelede is ‘n polisieman doodgery nadat hy oor die pad gehardloop het….daar in die veld? Miskien, “toe” hy oor die pad gehardloop het is hy doodgery?
Julle het ‘n verantwoordelikheid om Afrikaans reg te gebruik, dink julle nie so nie?

Nè? ·

Ongelukkig het die nie die arme dogtertjie en seuntjie gehelp nie, het dit!

Ai tog ·

Kan noe GLO dat daar in 2019 nog mense is wat glo in ‘muti’ gemaak van liggaamsdele nie…..wat op aarde kan ‘n mens maak glo daaraan???

melanie ·

Dis verskriklik!! Ek sukkel om te sluk.. waste hel moes daardie kinders nie deurgemaak het nie.. En die arme baba.. wat het hy met als te doen.. Haar dood was net so sinneloos.. Dis wreed en regverdig doodstraf.. my hart is stukkend…

Gaitsigubib ·

A.g.v die duiwel se handewerk is 2 kinders dood en jy meen God het hulle nie gehelp nie? Smaak my jy weet wat die “regte” uitkoms is in enige situasie so gelukkig hoef jy jou dan nie aan God te steur nie. Geen redenasie nodig nie – sterkte!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.