‘Vra God om julle te vergewe’, sê weduwee ná moord op man

Pieter (Piet) Botha (Foto verskaf)

Piet Botha se weduwee het sy twee jong moordenaars versoek om God te vra om hulle te vergewe.

Jathiem Hamid en Dorian Diedericks is in Mei skuldig bevind aan die moord op Botha (46). Botha, ʼn Metrorail-treindrywer, is op 11 Julie 2016 by die Netreg-stasie in die Wes-Kaap beroof en vermoor. Hy is twee keer geskiet.

“My kind, ek wens ek kan julle die pyn en lyding laat voel wat julle vir my en my kinders veroorsaak het. Hulle het nie ʼn pa gehad om die afgelope Sondag Vadersdag te vier nie. My dogter gaan eendag nie ʼn pa hê om saam met haar na die kansel te stap nie. Niemand kan hom terugbring nie,” het Tania Botha in die Wes-Kaapse hooggeregshof getuig.

Hamid en Diedericks het deur hul regsverteenwoordigers gesê hoe jammer hulle is nadat Botha getuig het dat hulle tydens die verhoor geen berou getoon het nie.

Botha het die hof gesmeek om nie te veel klem op die moordenaars se ouderdom te lê wanneer hulle gevonnis word nie en hulle eerder uit die samelewing te verwyder.

Steve Harris, sekretaris van die vakbond Untu, het gesê hulle wil hê die hof moet ʼn voorbeeld stel met Botha se moordenaars om vir misdadigers te wys dat moord op onskuldige werkers nie geduld sal word nie. Harris het versoek dat die mans tot lewenslange tronkstraf gevonnis word. Hamid en Diedericks sal vandag gevonnis word.

Botha se weduwee en lede van Untu buite die hof. Foto: Verskaf

ʼn Derde beskuldigde in die saak, ʼn minderjarige wat nie geïdentifiseer mag word nie, is in Mei op alle aanklagte vrygespreek. Die vierde beskuldigde, Cedric Andrews, is net op aanklag van die besit van ʼn ongelisensieerde vuurwapen en ammunisie skuldig bevind.

Hamid, Diedericks en die minderjarige is almal lede van die Young Dixie Boys-bende. Andrews is ʼn vriend van die drie en hulle het gereeld sy huis besoek.

Die hof het bevind Botha het twee sakke by hom gehad het wat die beskuldigdes by hom gesteel het. Hamid het ʼn vuurwapen by hom gehad. Nadat Botha geskiet is, het die beskuldigdes van die toneel gevlug met sy besittings, asook die vuurwapen na Andrews se huis geneem en dit daar weggesteek.

Hamid en Diedericks is ook skuldig bevind op aanklagte van roof met verswarende omstandighede en die besit van ʼn ongelisensieerde vuurwapen en ammunisie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Violet ·

As jy iemand kan vermoor is jy oud genoeg om lewenslank tronk toe te gaan!

HARTSEER ·

Niemand sal weet waardeer hierdie gesin gaan nie. Dit wens ek niemand toe nie. As jou familie lede oorlede is aan natuurlike oorsake is dit alreeds dramaties maar Moord kan mens nie sommer oorkom nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.