Die EFF-leier, Julius Malema, se vrou, Mantoa Matlala, dreig om die ANC-LP Boy Mamabolo vir skadevergoeding te dagvaar as hy nie teen Woensdagmiddag om verskoning vra vir sy bewering dat Malema haar mishandel nie.
Mamabolo het dié bewering tydens die debat oor die staatsrede geopper en dit onder meer aan Sowetan herhaal.
Mamabolo het gesê: “Dit was niks persoonlik nie, ek opper bloot die punt dat ons mishandel word op dieselfde manier wat Malema se vrou mishandel word. Dit is hoekom hy nie eens reageer het nie, want dit is waar….”
Matlala eis dat Mamabolo sy stelling terugtrek en om verskoning daarvoor vra. In ʼn prokureursbrief aan die LP eis Matlala dat Mamabolo ʼn “openbare verklaring op al jou sosialemediarekeninge, insluitend maar nie beperk nie, tot Facebook, Twitter en Instagram deel”.
Sy eis ook dat die verklaring aan media-instellings met wie Mamabolo oor die kwessie gepraat het gestuur word en sê dat die EFF dit aan al sy mediakontakte sal versprei.
Mamabolo is tot die einde van die dag gegee om dít te doen.
Now we are being sued for raising matters in Parliament ????♂️ @CapricornFMNews pic.twitter.com/Il59TFZuFc
— Boy Mamabolo (@BoyMamabolo) February 18, 2020
Sou hy nié om verskoning vra nie, het die prokureur reeds opdrag gekry om voort te gaan met ʼn skadevergoedingseis van R1 miljoen.
Matlala voer aan Mamabolo se lasterlike bewerings het ʼn donker wolk oor die hele gesin gegooi. Hulle het boonop jong kinders, van wie die oudste 13 jaar oud is.
“Die kinders moet skool toe gaan waar hulle gespot en geterg gaan word weens die vals bewerings wat teen hul ouers gemaak is. Jou valse beskuldigings het die familie groot skade berokken,” lui die brief.
“Ons kliënt beskou jou valse, lasterlike bewerings as fisieke en emosionele mishandeling van haar as persoon, en as verlenging ook as mishandeling van haar kinders.”
Matlala voer aan daar is geen bewyse van enige van die bewerings nie en dat dit “kwelsugtig, misplaas, oneg en onwaar” is.
i will NOT retract/Withdraw any statement made in Parly ystday bcos there is facts and evidence to all these matters…..bring it on let’s meet in Court.
N.B. We all took an undertaking to expose any form of GBV during Special Joint Sitting last year
— Boy Mamabolo (@BoyMamabolo) February 19, 2020
Malema het Dinsdag in die parlement gesê dit is welbekend dat pres. Cyril Ramaphosa sy eksvrou geslaan het. “Hy het vir Nomazizi geslaan. Sy sou by [oudpres. Jacob] Zuma daaroor kla,” het Malema gister gesê met verwysing na Ramaphosa se voormalige vrou.
Ramaphosa was tussen 1991 en 1993 getroud met Nomazizi Mtshotshisa. Sy is vroeër oorlede.
Malema het dié stelling gemaak tydens die debat oor die 2020-staatsrede. Dit het gevolg op Mamabolo se beskuldiging dat Malema sy vrou slaan. “Geslagsgeweld vind plaas by jou eie huis en EFF-lede weet daarvan,” het Mamabolo gesê.
Malema het nie dadelik gereageer nie, maar nadat sy toespraak etlike kere onderbreek is, het hy die bewering teen Ramaphosa gemaak. Malema het ook ontken dat hy sy vrou mishandel.
#SONAdebate Malema: I have never, not once; not my ex, not my wife. I never laid a hand on my wife.
— Economic Freedom Fighters (@EFFSouthAfrica) February 18, 2020
O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.
16 Kommentare
Ek stel voor dat ons agbare President soortgelyke stappe teen die Malemas neem.
Nou wonder ek hoe kinders en vroue wat se mans op plase vermoor word… Malema trek ook asb jou woorde terug..
Nog ‘n storm in ‘n koppie omdat mense se geloofwaardigheid skynbaar aangetas is.
Waar daar ‘n rokie trek ….. Net ‘n manier om geld te kry. Dis mos al wat hulle altyd doen. Jaag aan en dan soek hulle geld al weet hulle dis die waarheid.
Maar al wat ‘n witmens is word uitgemaak as ‘n gronddief, en dis ok?