Meetkunde is dikwels die afdeling in Wiskunde waaroor die meeste matrieks gerus voel, maar dit was nie Maandag die geval nie toe een vraag in die tweede Wiskundevraestel leerders behoorlik uitgeboul het.
Matriekleerders sê Maandag se tweede Wiskundevraestel het grotendeels goed verloop, tot hulle vraag 10 getref het. Leerders wat met Maroela Media gesels het, is dit eens dat dié 15 punt-vraag uiters moeilik was.
Luan Maartens, ʼn matriekleerder aan Hoërskool Noordheuwel in Krugersdorp, sê hoewel dit ʼn gewone meetkundevraag was, was dit moeilik om kop te hou daarmee.
“Ek het baie antwoorde gehad, maar dit was nie noodwendig die antwoorde waarvoor gevra is nie,” sê hy.
Volgens die matriekleerders was daar soveel verskillende hoeke en lyne dat hulle hopeloos deurmekaar was.
ʼn Matriekleerder van Hoërskool Witteberg op Bethlehem sê sy moes mooi konsentreer om te bepaal watse hoeke gelyk is aan mekaar.
“Hierdie vraestel was beslis meer ingewikkeld as die eerste vraestel,” sê Mariné du Plooy.
Die vraestel het uit 150 punte bestaan en matrieks het drie uur gehad om dit te voltooi.
Elanca van Jaarsveld van Hoërskool Framesby in Gqeberha sê daar was dele in die vraestel wat veral tydrowend was, aangesien sy mooi moes soek om haar antwoorde te staaf.
“Daar was genoeg tyd om die vraestel te voltooi, maar omdat baie van die stappe moeilik is en dit baie tyd neem om die bewyse te bepaal, het dit ʼn mens baie beperk om byvoorbeeld weer antwoorde na te gaan of te bereken,” sê sy.
Volgens Luan was daar genoeg tyd om die vraestel te voltooi as jy vertroud was met jou werk. Hy het wel gesien dat van sy klasmaats gespook het om die vraestel te voltooi omdat die moeilikste afdeling laaste was en die meeste matrieks in kronologiese volgorde hul vraestel voltooi het.
“Ek doen altyd eers die vrae wat ek weet ek kan doen en los die vrae waarmee ek die meeste sukkel vir laaste; dan weet ek minstens dat sou ek nie klaarkry nie, los ek nie vrae oop wat ek maklik sou kon doen nie.”
Oor die algemeen was die werk “baie verteenwoordigend van die werk wat ons die afgelope jaar behandel het,” sê Elanca.
“Ek voel dit was billik en op standaard.”
Luan sê dit het hom wel verbaas dat die trigonometrie-afdeling veel groter was in vergelyke met dié van die rekordeksamen. In vandag se toets het dit uit 12 punte bestaan, en volgens Elanca was dit redelik uitdagend.
“Die berekeninge en die bewyse vir die antwoorde was veral moeilik,” sê sy.
“Ek het oor die algemeen baie meer van hierdie vraestel gehou as die eerste een, maar dit is net omdat meetkunde my meer interesseer as algebra,” sê Luan.
Verskeie ander matrieks deel dié sentiment.
Dis ok matrieks, as dit te moeilik was sal die departement seker net weer die slaag % aanpas om die algeme slaagsyfer konstant te hou.
Wel Wicus, daar is nog steeds BAIE leerders wat Wiskunde druip, en dit beteken onder 30%
Wel, ek haal my hoed af vir enige leerder wat Gr. 12 Wiskunde HG kan deurkom … Ek het so ver gevorder as Gr. 3 Wiskunde danksy (te wyte?) aan ‘n laerskool onderwyseres, Mej. Pepler, wat vir my gesê het: “Ag nee, jy is een van die dommes, gaan sit daar agter in die klas!”. Dit het my permanent geskaad, soveel so dat ek tot vandag toe nog nie 1+1 bymekaar kan tel en níé 5 kry nie.
. ‘n Mens kry baie lankal nie meer HG Wiskunde of enige vak nie. Dit is Wiskunde of Wiskundige Geletterdheid.
Ek verstaan nie wat die leerder bedoel met 12 punte trigonometrie nie. Dit tel ongeveer 50 punte.