Vraagteken oor miljoene vir enkele ‘landbouorganisasie’

Die South African Farmers Development Association het volgens die DA R158 miljoen in toelae ontvang. (Skermgreep: DA)

Die DA het talle vrae oor die betaling van ʼn allemintige R158 miljoen aan ʼn enkele organisasie sonder winsoogmerk (NWO) in die landboubedryf, terwyl daar geen duidelikheid is oor hoekom die geld oorbetaal is nie, hoe dit bestee is, of wie daardeur bevoordeel is nie.

Annette Steyn, die DA se woordvoerder oor landbou, sê die departement het ʼn “winsgewende spaarvarkie” geword vir derdepartyorganisasies wat miljoene rande verdien deur as inwerkingstellingsagente van die departement op te tree.

“Die middelman-ooreenkoms hou geen voordele in vir die inkomste en welstand van boere op voetsoolvlak nie,” sê Steyn.

Die DA sê volgens die departement se jaarverslag het ʼn NWO genaamd die South African Farmers Development Association (Safda) in die 2018-’19-boekjaar R133 miljoen ontvang. In die 2019-’20-boekjaar het hy weer R25 miljoen gekry.

Steyn sê sy gaan nou die voorsitter van die parlementêre portefeuljekomitee oor landbou vra om die minister, Thoko Didiza, asook Safda se uitvoerende sekretariaat te vra om dié “onkonvensionele verhouding” te kom verduidelik.

“Suid-Afrika het duisende NWO’s in die landboubedryf en die minister moet verduidelik hoekom Safda uitgesonder word vir dié multimiljoenrandse begrotingsteun.”

Volgens die DA is Safda in 2015 op die been gebring om gemarginaliseerde boere in die suikerbedryf te verteenwoordig. Steyn sê ʼn besoek van die DA aan Melmoth in KwaZulu-Natal het egter onthul dat lede van die Mtonjaneni-groep, asook die Isizwe Sakwa Dludla-gemeenskapstrust, in ʼn dispuut met die departement en Safda gewikkel is omdat hul grond onder Safda se administrasie geplaas is.

“Die gemeenskap beweer dat sommige van hul lede moontlik met amptenare van die departement saamgespan het om ʼn onwettige vennootskap met Safda aan te gaan om die organisasie toe te laat om namens die trust landboubedrywighede te hanteer,” sê Steyn.

Sy sê boonop was Petrus Mdu Shabane, die voormalige direkteur-generaal van die destydse departement van landelike ontwikkeling en grondsake, een van Safda se raadslede. Steyn sê sy teenwoordigheid in die raad laat kommer oor botsende belange ontstaan – veral omdat Safda binne ʼn betreklike kort tyd nadat hy op die been gebring is, miljoene rande van die departement gekry het.

Steyn sê die ouditeur-generaal het verskeie ongerymdhede in die departement se geldsake vir die 2019-’20-boekjaar gevind en dit is belangrik dat Didiza én Safda verduidelik hoe die belastinggeld van R158 miljoen bestee is.

“Duidelikheid is ook nodig oor hoekom ʼn NWO drie jaar ná sy stigting skielik die ontvanger van ʼn toelae van miljoene rande was.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Chris dupreez ·

Die ANC moet seker op een of ander manier gefinansier word, die guptas en watson is nie meer hier nie

Johnny ·

” . . . wat miljoene rande verdien deur as inwerkingstellingsagente van die departement op te tree”
Ek dink nie hulle verdien dit nie – hulle kry dit net. Groot verskil.

Francois ·

Ag asb DA hoe kan julle se julle weet nie wie bevoordeel is met die uitbetaling. Dis is ons geliefde ANC kaders. N blinde ou kon dir vir julle ook se

Adri ·

‘n Mens voel magteloos soos wanneer ‘n damwal kraak: jy kan net nie voorbly om al die gate toe te stop nie. Hierdie regering hou net nie op om elke dag nuwe skelmstreke te ontwerp nie. Dit lyk na ‘n verlore stryd.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.