Vraagtekens oor JB Marks-burgemeester se bedanking

Kgotso Khumalo (Foto: JB Marks-munisipaliteit/Facebook)

Duidelikheid is nodig oor die beweerde bedanking van Kgotso Moses Khumalo (52), burgemeester van die JB Marks-munisipaliteit in Noordwes, nadat hy verlede maand aangedui het dat hy as burgemeester sal uittree voordat sy verhoor begin. Verskeie mediaberigte het gemeld dat Khumalo as burgemeester bedank het, maar sy beweerde bedanking is nog nie amptelik deur die munisipaliteit bevestig nie.

Khumalo en Cyril Hendry (54), die direkteur van die munisipaliteit, is verlede jaar in hegtenis geneem en staan tereg op aanklagte van diefstal en bedrog. Maroela Media het vroeër berig hulle inhegtenisnemings spruit uit ondersoeke wat deur die Valke na ʼn trustrekening gedoen is, waarin ongeveer R5 miljoen wat vir die JB Marks-munisipaliteit bedoel was, gedeponeer is. Die geld is egter nooit aan die ouditeur-generaal verklaar nie.

Verdere ondersoek het aan die lig gebring dat verskeie betalings glo uit die trustrekening in die verdagtes se persoonlike bankrekeninge gemaak is. Daar word beweer dat daar ʼn wanvoorstelling van die geld in die trustrekening was om te lyk asof dit gebruik word om dienste te betaal wat aan die munisipaliteit gelewer is, terwyl fakture na bewering vervals is.

Chris Hattingh, kiesafdelingshoof van die DA by die JB Marks-munisipaliteit, bevestig die ANC se tussentydse provinsiale komitee het Maandag aangedui dat Khumalo as burgemeester bedank het.

“Vrae ontstaan egter of Khumalo wel sy bedankingsbrief ingedien het. Daar is blykbaar ʼn bedankingsbrief aan die speaker van die munisipale raad, Kgosiemang Mogoemang, gestuur, maar volgens hom weet hy niks van die brief nie,” sê Hattingh.

“Dit is duidelik dat die strydende ANC-faksies van pres. Cyril Ramaphosa en Ace Magashule geen belang daarin het om selfs net die skyn van regering in JB Marks te herstel nie. Die inwoners van JB Marks sal minder as vyf maande tot die plaaslike regeringsverkiesing deur die munisipaliteit verwaarloos word terwyl die faksiegevegte voorkeur geniet bo dienslewering.”

Hattingh sê Khumalo moet óf dadelik bedank óf die ANC moet hom terugroep.

“Die DA het probeer om die Khumalo-probleem op te los deur ʼn wantroue teen sy burgemeesterskap in te dien, maar die ANC het gestem om hom in die pos te behou ondanks die agteruitgang van bestuurstandaarde en dienslewering in JB Marks.”

Khumalo het boonop Maandag aangedui dat Leon Mkhabela as waarnemende burgemeester tot 10 Junie by hom sal oorneem. Marlene Steyn du Toit, VF Plus-raadslid: JB Marks- plaaslike munisipaliteit, sê Khumalo se aanstelling van Mkhabela as waarnemende burgemeester sal ook hoogs onreëlmatig en ongeldig wees omdat die burgemeester wat volgens berigte reeds verlede week bedank het, nie die bevoegdheid het om so ʼn aanstelling te doen nie.

Die VF Plus het ook intussen in ʼn skrywe aan Mogoemang daarop aangedring dat die posisie van Khumalo dringend amptelik uitgeklaar word. Die VF Plus wys in die skrywe daarop dat ʼn dringende raadsvergadering deur Mogoemang belê moet word indien Khumalo wel bedank het. Die JB Marks-raad sal dan in terme van die gepaste wetgewing en prosedures ʼn nuwe burgemeester aanwys.

Die VF Plus meld ook dat ʼn dringende ingryping in die munisipaliteit deur die provinsiale regering versoek sal word indien die speaker nie spoedig amptelike antwoorde verskaf nie.

“Hierdie chaotiese stand van sake in JB Marks is ʼn verdere simptoom van die wanbestuur en korrupsie wat gaandeweg in dié ANC-beheerde munisipaliteit posgevat het,” sê Steyn du Toit.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

7 Kommentare

jongste oudste gewildste
Sarel

Indien reeds gearresteer hoekom.nie afgedank of geskors nie. Waar is Antie Kopdoek

Samuel

Andermaal ‘n bewys dat jy die ANC met niks kan vertrou nie. Waarom gryp die provinsiale en of die sentrale regering nie in nie?

Tiptol

Indien hy bedank het, is hy dom. Hy kan mos eerder geskors word en al sy voordele behou.

Blikkies

Jammer julle, maar waar is die JB Marks Munisipaliteit? Kan MM nie maar asseblief vir ons ook die ‘ou’ name bysit nie, ek kan nie meer tred hou met die nuwe name en watter plek is waar nie.