Vrae ná ma en ongebore baba by hospitaal sterf

Christa (skuilnaam) en haar ongebore baba is Donderdag in 'n hospitaal dood. Foto: Facebook

Christa (skuilnaam) en haar ongebore baba is Donderdag in ‘n hospitaal dood. Foto: Facebook

ʼn Familie van Randfontein, in die weste van Johannesburg, eis antwoorde van die Gautengse departement van gesondheid nadat ʼn jong ma en haar ongebore baba dood is ure nadat sy in die Dr. Yusuf Dadoo-hospitaal opgeneem is.

Christa* (26) en haar ongebore babadogtertjie is Donderdag dood nadat sy glo met ʼn asemtekort na die hospitaal gehaas is. Haar gesin is steeds onseker wat die presiese oorsaak van haar dood is. Haar babatjie sou oor twee weke gebore word en haar swangerskap het tot verlede week sonder enige komplikasies verloop.

Volgens Christa se skoonma het Christa Donderdag omstreeks 04:00 erg begin hoes en gesukkel om asem te haal. “Ek het wakker geword en het haar langs die toilet aangetref. Dit het amper gelyk asof sy ʼn asma-aanval kry,” het die skoonma aan Maroela Media gesê.

Sy het gesê sy het Christa teruggehelp bed toe, waar sy begin braak het. Christa het glo volgehou dat sy nie ʼn dokter nodig het nie en dat sy nie sleg voel nie. “Sy het gevra dat ons vir haar ʼn warm bad tap en nadat sy gebad het, het ek stukkies gestolde bloed in die bad gesien,” het die skoonma gesê. “Ek was baie bekommerd en het haar weer gevra of ons nie ʼn ambulans moet bel nie, maar sy het geweier.”

Toe Christa se lippe egter begin blou word en sy sukkel om asem te haal, het haar skoonma dadelik Christa se man gebel om te sê sy vrou se toestand het versleg. Die egpaar het nie ʼn mediese fonds nie en hulle het ʼn staatsambulans gebel om Christa te kom haal. Volgens Christa se ma moes haar skoondogter self na die ambulans toe loop, waar hulle vir haar ʼn suurstofmasker opgesit het. Dit het egter nie gelyk asof haar asemhaling verbeter nie.

Volgens Christa se man, wat saam met haar in die ambulans gery het, het die paramedici aan die egpaar gesê dat hulle eers by ʼn ander woonbuurt moet omgaan om ʼn pasiënt op te laai wat ook hospitaal toe geneem moet word. Toe hulle by die ander pasiënt se huis opdaag, het ʼn ander ambulans haar reeds kom haal.

“Ek het die ambulans gevra of hulle vir Christa na die Leratong-hospitaal kan vat omdat die hospitaal baie beter toegerus is as die Dr. Yusuf Dadoo-hospitaal, maar hulle het gesê hulle moet haar na laasgenoemde hospitaal neem,” het Christa se man gesê. Die ambulans het eers ongeveer twee ure nadat Christa by die huis opgelaai is, met haar by die hospitaal opgedaag.

Dokters het haar gestabiliseer terwyl die gesin glo vir ʼn ambulans gewag het om haar na die Leratong-hospitaal te vervoer. Terwyl hulle gewag het, het Christa se hart gaan staan en mediese personeel het vergeefs probeer om haar weer by te bring. Sy en haar ongebore babadogter is dood verklaar.

Christa se man bevraagteken nou of dokters werklik alles in hul vermoë gedoen het om sy vrou en ongebore kind te red. “Hoekom het hulle nie ʼn noodkeiser gedoen nadat Christa se hart gaan staan het nie? Hulle kon dalk nog die babatjie gered het,” het hy gesê. “Ek is ook nie seker of sy regtig enige suurstof by die hospitaal ontvang het nie. Hulle het vir haar ʼn masker opgesit, maar ek weet nie of daar suurstof deurgegaan het nie. As hulle haar direk Leratong-hospitaal toe gevat het, was sy dalk vandag nog hier.”

Volgens Christa se man het die hospitaal nooit aan hulle ʼn verduideliking gegee waarom Christa dood is nie, maar bloot gesê dat haar hart gaan staan het. Intussen sukkel die familie om begrafnisreëlings te finaliseer, aangesien hulle onseker is wanneer die nadoodse ondersoek afgehandel sal wees. Die egpaar het ook ʼn tweejarige seuntjie.

Maroela Media wag vir kommentaar van die Dr. Yusuf Dadoo-hospitaal sowel as die Gautengse departement van gesondheid.

*’n Skuilnaam word gebruik op versoek van die familie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Dankbaar ·

Dis baie tragies. Mag hulle in vrede rus. Ongelukkig in ons land, is dit ‘n risiko om na die staatshospitale te gaan. Ek is baie dankbaar dat ek ‘n omvattende mediese plan het. Sal eerder honger ly, maar dis noodsaaklik om in vandag se tyd ‘n medies te hê.

Annie ·

Ai. Dit is regtig baie hartseer. Sterkte vir die gesin en familie. Ek hou die ambulaans dienste ook verantwoordelik. Hoekom moes hulle so draai voordat sy by die hospitaal kon uitkom? In hierdie land van ons dink almal wat n diens aan jou moet lewer, hulle doen jou n hengse guns!!! Dokters, tellers, ambulaans dienste ens! My hart gaan regtig uit na haar man en die seuntjie wat sonder n mamma moet groot word oor net nalaatigheid!!!!

Veronique Stoltz ·

Shame dit is baie hartseer. Ja ons land nè…….

Bosbok ·

Baie hartseer. Ek is self die ma van 2 peuters. Ek dink egter as dit kom by swangerskap, moet mens geen kanse vat met jou eie gesondheid nie en onmiddelik mediese hulp verkry wanneer jy nie gesond voel nie. Dink dit kon ook n moontlike verskil gemaak.

Winston ·

Ja Thys. Dit kon gewerk het, maar nou te laat. Die infrasruktuur is tot niet en gaan daagliks nog in tru rat. Ons sal moet voor begin as ons wil saamstaan en aandring op n tuisland. Daarna sal ons weer aangeval word soos Israel.

Simpatoe ·

Dit klink vir my soos ‘n bloedklont deur die long. Dis ongelukkig ‘n relatiewe algemene komplikasie van swangerskap en daar is min wat dokters kan doen as die klont eers geskiet het. Dis ook nie ‘n komplikasie wat maklik opgetel word nie, omdat dit gewoonlik simptoomloos is totdat dit te laat is. So jammer oor die verlies. Ons dink aan haar gesin en familie.

memolene ·

Rus in vrede Christa en baba*.
Dit is nie net staatshospitale nie die privaat hospitale is net so pateties. My ouers is albei in privaat hospitale oorlede. My ma was wel siek maar my pa was blakend gesond net oornag gebly vir toetse en nooit weer daar uitgekom nie. Die hele suid afrika is n gemors.

Dewald ·

Ons sê weereens baie dankie aan die cANCer wat in 20 jaar wêreld klas staatshospitale afgebring het tot op Afrika standaard…hulle sê mos dokters begrawe hulle foute.
My innige simpatie gaan aan haar familie dat hulle haar op so ń wyse verloor het.

Goosen ·

Die ambulans diens is waarskynlik meer nalatig gewees as die hospitaal. Daar is GEEN rede hoekom ‘n kritieke asemnood pasiënt vir 2 ure in ‘n ambulans moes spandeer. Ook moes hulle onmiddellik ‘n gevorderde paramedikus ontbied het om hulle te vergesel. Die hospitaal personeel het waarskynlik min gehad om mee te werk as sy al blou by die huis was. Begin daar.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.