Vrae oor ANC-gebruik van lugmagvliegtuig na Zim

(Argieffoto)

Die DA, die VF Plus en die burgerregtegroep AfriForum het uitgevaar teen die gebruik van ʼn lugmagstraler om ʼn afvaardiging ANC-lede na Zimbabwe te vlieg vir ʼn vergadering met die land se regerende Zanu-PF.

Die DA sê pres. Cyril Ramaphosa, as opperbevelvoerder van die weermag, moet verduidelik waarom die straler vir ʼn ANC-reis ingespan is.

ANC-sekretaris-generaal Ace Magashule – wat geen amptelike posisie in die Suid-Afrikaanse regering beklee nie – het die afvaardiging na Zimbabwe gelei. “Dit was nie ʼn vergadering tussen amptenare van die Suid-Afrikaanse en Zimbabwiese regering nie, maar ʼn vergadering tussen twee politieke partye,” het Kobus Marais, die DA se woordvoerder oor verdediging, gesê.

Marais sê Magashule het in antwoord op ʼn vraag oor of hy die gebruik van die vliegtuig as ʼn misbruik van staatshulpbronne beskou, nee geantwoord.

“Die DA is gewalg deur die ANC se ooglopende misbruik van staatsmasjinerie, sy doelbewuste vertroebeling tussen staat en party en die feit dat die Suid-Afrikaanse belastingbetaler ʼn vergadering tussen twee politieke partye moes borg.”

Marais sê Ramaphosa moet die blatante [beweerde] korrupsie deur sy party verduidelik en die ANC moet die geld wat aan die vlug bestee is, dadelik terugbetaal. “Gegewe die enorme begrotingsbeperkings op die weermag stel hierdie diefstal van skaars hulpbronne die integriteit en veiligheid van Suid-Afrika in die gevaar.”

Die party sê Ramaphosa praat baie oor korrupsie en wanbestuur, maar kyk weg wanneer sy eie party wetgewing en die skeiding van magte verontagsaam.

Dr. Pieter Groenewald, leier van die VF Plus, het die vlug deur die Falcon 900-straler ook as ʼn misbruik van belastinggeld bestempel en eis soos die DA dat die geld daarvoor terugbetaal moet word.

“Inperkingsregulasies onder die nasionale rampbestuur bepaal dat geen internasionale reise mag plaasvind nie, behalwe in uitsonderlike gevalle en met vooraf toestemming,” het Groenewald gesê.

“Daarbenewens word ʼn militêre vliegtuig ongemagtig gebruik om die ANC-partylede na Zimbabwe te vervoer vir party-politieke sake. Dit is niks anders as misbruik van belastinggeld en korrupsie nie.”

Die VF Plus gaan ook ʼn klagte by die Openbare Beskermer (OB) indien om die beweerde misbruik van belastinggeld te ondersoek.

Hy gaan ook vrae in die parlement stel aan die betrokke ministers oor of toestemming vir die reis verleen is en wat die rede daarvoor was. Groenewald gaan ook vra wie die toestemming vir die gebruik van die straler gegee het, asook die koste daaraan verbonde.

“Pres. Ramaphosa sê korrupsie moet uitgeroei word, maar as opperbevelhebber van die SANW en as president van die ANC, laat hy toe dat sy politieke party korrupsie pleeg.”

Die burgerregtegroep AfriForum het intussen ook met ʼn ondersoek na die beweerde misbruik van bates begin en sê hy sal regstappe doen indien dit aan die lig kom dat die ANC staatsbates onregmatig gebruik het.

AfriForum se regsverteenwoordigers het ook aan dr. Naledi Pandor, minister van internasionale betrekkinge en samewerkende regering, asook Nosiviwe Mapisa-Nqakula – minister van verdediging wat ook die besoek meegemaak het – geskryf vir ’n verduideliking oor of die vliegtuig regmatig gebruik is.

Nes die VF Plus het die organisasie ook ʼn klagte by die OB ingedien.

Monique Taute, hoof van AfriForum se teenkorrupsie-eenheid, sê die Wet op Verdediging bepaal dat bates wat aan die weermag behoort slegs in uitsonderlike gevalle gebruik mag word vir ander doeleindes as die beskerming van die land. Dié gevalle moet aan sekere voorwaardes voldoen.

“Eerstens moet die gebruik van die bates in openbare belang wees. Tweedens moet die minister van verdediging die gebruik van hierdie bates goedkeur in oorleg met die minister van finansies.”

AfriForum sê hy wil met sy ondersoek vasstel of die regte kanale gevolg is en die gebruik van staatsbates wel gemagtig was.

“Ons kan nie toelaat dat lede van die regerende elite die land se bates misbruik asof hulle dit self besit nie. Ons sal hierdie saak verder voer as dit blyk dat politici die wet oortree het,” het Taute gesê.

Die ANC se afvaardiging na Zimbabwe die afgelope week het benewens Magashule en Mapisa-Nqakula, ook Gwede Mantashe, Tony Yengeni, Lindiwe Zulu en Enoch Godongwana ingesluit.

Maroela het navrae aan die ANC asook die departement van verdediging gerig en wag op terugvoer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Kokerboom ·

Mnr Ramaphosa jy dop die integriteitstoets weereens met vlieende vaandels!!!Kry ASB ruggraat en hou op lieg vir ons!!!

ElizeK ·

Nou is hier werklik mense wat die twak wat uit sy mond kom GLO!!!

JohanR ·

Kon hulle nie Zimbabwe toe geryloop het nie, of bussies gery het nie? As nie hulle eie R700000 karre wat die belastingbetaler in alle geval vir die petrol sou betaal het! Net in SA dat ministers dink hulle is belangrik. Die afvaardiging is ook soos ‘n who’s who van SA kriminele – Ace Magashule, Mapisa-Nqakula, Gwede Mantashe, Tony Yengeni, Lindiwe Zulu en Enoch Godongwana. Dit lyk my ook dat niemand in die ANC luister na Ramaphosa in alle geval…..soos my Pa partykeer aan my gese het net voor die lat op die boud geval het “jy vee net jou g*t aan my af!”

Chris ·

Waaroor gaan die bohaai nou? Dit is nou hulle land en hulle het daarvoor geveg en gesokkel (struggle). Die mense weet egter die einde van hul strooptog is in sig en die klok het reeds vir huile gelui. Hulle moet maar gebruik maak van die voordele terwyl dit nog vir hulle beskore is. Hul tyd is op/om.

Danie ·

Wag op terugvoer?
Julle gaan laaank wag…
Die stelery gaan voort en cyril is innie mirrel.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.