Vrae oor getal positiewe toetse ná Rage

(Argieffoto)

Daar is heelwat vrae én groot kommer oor die groot getal positiewe Covid-19-toetse ná die afgelope Ballito Rage-byeenkoms.

Die Gautengse departement van gesondheid het die afgelope naweek gesê uit die 1 322 leerders wat uit hoofsaaklik die Johannesburg- en Tshwane-distrik daarheen gereis het, is 1 050 vir die virus getoets. Hiervan het 984 leerders volgens die departement positief vir Covid-19 getoets.

Dit kom neer op ʼn infeksiekoers van nagenoeg 93%.

Pres. Cyril Ramaphosa het Maandagaand in sy toespraak waartydens strenger maatreëls aangekondig is om die tweede vlaag van die virus te stuit, ook na die Rage-byeenkomste verwys.

“Vir die eerste keer in die pandemie is die meeste nuwe infeksies onder jongmense, veral diegene tussen 15 en 19 jaar oud. Daar is waarskynlik talle redes vir hierdie enorme toename in infeksies, maar verskeie sleutelbydraers word duidelik.

“Byeenkomste, veral sosiale byeenkomste en partytjies, is van die grootste bronne van uitbrekings,” het Ramaphosa gesê.

Volgens die president gebruik talle mense alkohol by dié sogenaamde superverspreider-byeenkomste en is hulle dan minder waaksaam oor die maatreëls om hulself teen infeksie te beskerm.

“Ons weet dat byna 1 000 jongmense van Gauteng wat die byeenkoms bygewoon het, positief vir die koronavirus getoets het. Wat ons nog nie weet nie, is hoeveel mense elkeen van hulle besmet het. Daar word gesê dat tot 300 gesinne besmet kon word.”

Peter Castleden, ʼn lid van die gesaghebbende groep Pandemics – Data & Analytics, oftewel Panda, het by navraag gesê hoewel die syfer nie onmoontlik is nie, dit steeds ʼn enorme uitskieter sou wees as dit wel akkuraat is.

“Sover ek weet was daar nog nêrens ter wêreld ʼn positiwiteitskoers van 90% vir ʼn superverspreider-byeenkoms nie.”

Castleden het onder meer verwys na ʼn studie wat in Amerikaanse tronke gedoen is en waar die positiewe koers onder die verskillende state van 0% tot 42% gewissel het.

Gevalle in beperkte ruimtes

Luidens die studie het instellings met die hoogste infeksiekoers gemiddeld ʼn klein gedeelte van die tronkbevolking getoets. Louisiana het byvoorbeeld 55 toetse per 1 000 gevangenes gedoen en het ʼn positiewe koers van 41%.

Die staat Idaho het 180 toetse per 1 000 gevangenes gedoen en het ʼn infeksiekoers van 42% gehad.

Die navorsers het ook bevind die tronkbevolking het ʼn hoër gemiddelde infeksiekoers as die res van die bevolking. In sommige state, soos waar daar onlangs groot uitbrekings onder die siviele bevolking was – byvoorbeeld Arizona en Florida – was die koers wel laer.

Castleden sê nog ʼn voorbeeld van mense wat in noue aanraking met mekaar gekom het, was toetse wat onder die bemanning van die USS Roosevelt gedoen is.

Covid-19 het ook op dié Amerikaanse vliegdekskip met sy bevolking van hoofsaaklik jong mans versprei.

Die Amerikaanse weermag se Covid-19-taakspan het data van die 736 mense (uit 4 085 aan boord) wat positief vir Covid-19 getoets het, ontleed. Matrose wat negatief vir die virus getoets het, asook diegene wat asimptomaties was, is in enkel-hotelkamers in kwarantyn geplaas.

Diegene wat simptome ontwikkel het, is in isolasie gehou.

Uiteindelik het 25% van die bemanning die virus opgedoen. Altesaam ses mense het hospitaalbehandeling ontvang en een sterfte is bevestig.

Rage-syfers

Castleden sê wanneer dus gekyk word na die Rage-syfers, moet dié bevindings in gedagte gehou word.

“Die regering sê hy het nasporing gedoen, wat beteken hy het almal opgespoor wat hy kon, of hulle nou simptome getoon het of nie.

“Onder die normale omstandighede sou dit verrassend wees as die koers vir positiewe toetse meer as naastenby 20% sou wees; vir die syfer om meer as 90% te wees, laat die wenkbroue lig.”

Hy sê daar is ook heelwat uitdagings wat verband hou met die sogenaamde polimerase-kettingreaksie-, oftewel PCR-toetse wat gebruik word.

Indien dit teen ʼn té hoë siklus gedoen word, is die uitslae nutteloos in die afwesigheid van ander simptome.

“Dit is ook heel moontlik dat indien hulle wél positief getoets het, die meerderheid van hulle nie eintlik siek of simptomaties is, óf die virus versprei nie.”

Oordrag van infeksie

In een van die mees onlangse studies is bevind die sekondêre aanvalskoers – die kans dat ʼn geïnfekteerde persoon een of meer mense tuis gaan besmet – is 18% indien die persoon simptome van Covid-19 wys en 0,7% indien die persoon asimptomaties is.

Castleden sê daar kan dus onder meer gevra word of enige van die leerders Covid-19-verwante simptome toon en hoeveel van hulle vir hospitaalbehandeling opgeneem is.

Akkurate syfers nodig

Gerhard van Onselen, ʼn senior navorser by die organisasie Sakeliga, sê dit is uiters belangrik dat daar duidelikheid oor die syfers is.

Van Onselen sê spesifieke beleidsbesluite kan geneem word op grond van spesifieke syfers en dat dit juis daarom akkuraat moet wees.

Hoewel daar in hierdie stadium geen aanduiding is dat skole moontlik weer gesluit kan word nie – soos tydens die strenger afsonderingsvlakke – kan die vinnige verspreiding van die virus onder veral jongmense moontlik só ʼn stap in die vooruitsig stel.

Só ʼn besluit het weer oorspoelgevolge na ander dele van die samelewing. Ouers moet byvoorbeeld inderhaas alternatiewe versorging vir hul kinders reël of kan in sommige gevalle glad nie werk toe gaan nie.

“Beleidsbesluite moet versigtig geneem word en daarom is duidelikheid oor die syfers nodig,” het Van Onselen gesê.

Maroela Media het ook ʼn navraag aan die Gautengse departement van gesondheid gerig.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

17 Kommentare

JohanR ·

Moet liewer vra WIE het dit toegelaat om eers van die grond af te kom?

Werner ·

Snaaks dat die virus nie versprei as hulle so betoog nie dit is mos dieselfde as n Rage.Net nog n bewys dat hierdie n wolhaar storie is

Fritz ·

Ja nee kyk, met n hemelhoë sterftesyfer van minder as 1%, moet ons almal dadelik n inenting kry wanneer dit hier aanland.

Francois Le Cochon ·

Gaan se^ dit vir die pataloe van Ampath, Pathcare en Lancet, en kyk wat se^ hulle vir jou. Of miskien sal hulle jou nie eers antwoord nie. Dit is so goed jy se^ dat aktuarisse en geoktooieerde rekenmeesters nie ‘n benul van syfers het nie.

Aai ·

Net waar ons mense is soos Cyril se is daar nou skielik toetse en probleme.

Thea ·

Op hierdie stadium…….. IS ALLE SKOLE GESLUIT tot en met 27 Januarie vir die kersvakansie.

quartus ·

Ek het ook gewonder waarvan nie mense nou praat. Dit is al Dingaansdag so alle skole behoort nou al te gesluit het?

Debbie ·

Waarom het die ouers duisende rande in hulle kinders se hande gestop en gese gaan party as die ouers vir n feit weet hierdie virus le rond.
Baie kinderagtig. Dit is wat ramaphosa van praat, mense werk nie saam nie. Nou wil almal huil oor lockdown weer ingestel word.

Salome ·

Dis wat gehoorsame mammies en pappies mos doen. As bloedje Se spring, dan vra hulle hoe hoog!

Jacobus ·

Hierdie was totaal voorspelbaar.
Vrae behoort te wees; hoeveel toetse is op wie gedoen? Hoe betroubaar is toetse? Waarom bleik toetsing ‘n rassegeur te hê. Ons wíl graag goeie wetenskap glo. Die lukrake wyse waarop alles geskied is maak intellegentee mense sinies?

Pieter J ·

Ek weet nie hoekom bekommer mense hulle net oor die virus nie. Talle jongmense se lewens word ook op ander maniere opgeneuk by hierdie rage-byeenkomste.

Jan ·

Toetsdemies skep gevalledemies want vanjaar se griepvirus het nou al, soos alle ander virusse, deur die hele bevolking versprei en is grootliks deur immuniteit onder beheer gebring. Hoeveel van die kinders het siek geword en gesterf?

Deon ·

Meer van hierdie tipe berigte met hierdie ongemaklike vrae is nodig. Eenvoudige voor die hand liggende feite soos om dit met massa aksie te vergelyk. Dit is iets wat almal van weet en kan laat twee maal dink… Ek voel n baie goeie indikator van wat aangaan, sal wees om te kyk wat in die informele behuisings areas gebeur waar mense soos miere op mekaar lewe… As daar n probleem is dan sal dit posvat in so opset.

christo ·

Ag nee man, vergelyk appels met appels. Tronke huisves nie manlike en vroulike gevangenes saam nie. Amerikaanse oorlogskepe het streng reëls en daar is nie ‘n gevryery nie. ‘n Mens moet blind wees as jy nie kennis neem van videos op sosiale media wat duidelik toon hoe alle Covid-19 maatreëls oorboord gegooi word as daar ‘geparty’ word.
Die jeug weet goed dat hulle nié sal sterf van Covid-19 nie en daarom tree hulle so selfsugtig op. Indien die virus onder die jeugdiges gemaai het sou hulle anders opgetree het.
Daar is net een tipe raad: Arresteer die oortreders en druk hulle in ‘n oorvol polisie sel. Geen borgtog en geen boete vir die skuldiges nie. ‘n verpligte minimum vonnis van ‘n maand in ‘n tronk en ‘n kriminele rekord.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.