Vrae oor Guptas se SEB-sertifikate

Ajay en Atul Gupta (Foto: ANA)

Die DA het Maandag gesê die party het inligting ontvang wat daarop dui dat drie maatskappye wat aan die omstrede Gupta-familie behoort hul maatskappye se SEB-sertifikate (swart ekonomiese bemagtiging) onregmatig bekom het.

Die DA het die SEB-sertifikate van Tegeta Exploration, Optimum Coal Mining en Trillian Consulting ingevolge die Wet op die Bevordering van Toegang tot Inligting (PAIA) bekom.

Gordon Mackay, DA woordvoerder, het gesê Tegeta moes nie vir ʼn sertifikaat vir breë basis swart ekonomiese bemagtiging (BBSEB) gekwalifiseer het nie omdat dit die drumpel vir mikro-ondernemingstatus met meer as dubbeld oorskry met maatskappybates wat R11 miljard werd is.

Trillian kan volgens Mackay ook nie as ʼn mikro-onderneming geag word nie as gevolg van hul inskomstestroom wat byna ʼn halfmiljoen rand insluit wat Trillian van Eskom ontvang het slegs dae nadat hul BBSEB-sertifikaat uitgereik is.

Verder het die maatskappy volgens Mackay geen swart eienaarskap-komponent nie en het hulle hiervoor alleenlik op die aandeelhouding van die Gupta-vennoot Salim Essa gesteun.

Mackay sê in Optimum en Tegeta se geval is die swart eienaarskap-syfers wat op die sertifikate weerspieël word “amper definitief verkeerd”. Daar is volgens hom geen bewyse dat Tegeta swart vroulike eienaarskap van 5% het nie.

Dié drie maatskappye het omvattend voordeel getrek uit saketransaksies met Eskom. “In Trillian se geval het dié saketransaksies sonder ʼn behoorlike kontrak plaasgevind.”

Getuienis wat voor ʼn parlementêre ondersoek na Eskom gelewer is, het die kollig geplaas op grootskaalse onregmatige invloed wat oor die raad van die land se nasionale kragvoorsiener uitgeoefen is, wat daartoe gelei het dat die bestuur kontrakte met maatskappy in die Guptas se sakeryk onderteken het. Dié sakeryk het in die afgelope paar weke begin verbrokkel nadat wetstoepassingsowerhede ʼn klopjag op die familie se huis uitgevoer het in dieselfde tyd wat voormalige pres. Jacob Zuma gedwing is om uit sy pos te bedank.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Alida ·

Alles met n Gupta reuk is korrup en skelm. Hulle is in elk geval deur ons minister van finansies onwettih toegelaat. Stuur hom saam met hulle terug Dubai toe maar kry net eers ons geld terug!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.