Vrae oor kamera in skool se meisiesbadkamer

Die kamera in die meisiesbadkamer waaroor sommige ouers bekommerd is.

Die skoolhoof van die Hoërskool Warmbad in Bela-Bela, Limpopo, sê die kamera in ʼn meisiesbadkamer op die perseel neem nét die deur af om ʼn rekord te hou van wie in‑ en uitgaan.

ʼn Bekommerde ouer het Maroela Media gekontak nadat sy 18-jarige dogter gekla het oor die kamera in die badkamer. “Die kamera is presies waar hulle aan- en uittrek,” het die ouer gesê.

“Ek is bietjie radeloos. Dit is asof niemand daaroor omgee nie. Wat my ook pla is dat enigiemand na die beeldmateriaal kan kyk, of ʼn opname daarvan maak. In die toekoms kan iemand dalk op die stelsel ingaan en my kind se privaatheid só skend,” het hy gesê.

Die ouer sê sy dogter sukkel nou kort-kort met blaasontsteking omdat sy nie meer die badkamer wil gebruik nie. “As jy wil kyk na iemand wat dalk iets in die badkamer beskadig het, hoe doen jy dit sonder om te sien hoe die meisies aan- en uittrek?”

Die kamera-aansig waaroor sommige ouers bekommerd is.

Paul Liddle, skoolhoof van die Hoërskool Warmbad, het by navraag gesê die kamera fokus nét op die deur. “Daar gebeur soms ongerymdhede in die badkamer, van die kinders kan dalk daar rook, dan wil ons ʼn voet hê om op te staan,” het Liddle gesê.

Volgens hom is dit moontlik dat van die leerlinge met die kamera peuter en dit geskuif word, maar dat dit reggestel word sodra die personeel dit agterkom. Liddle het gesê vrouepersoneel kontroleer gereeld die badkamer as deel van terreindiens.

“Die doel van die kamera is egter glad nie om in die badkamer te kyk nie en as ʼn kind daaraan skuif, skuif ons dit weer reg.”

Volgens hom word die beeldmateriaal veilig in ʼn kantoor gehou waartoe daar nie algemene toegang is nie.

Hy het ook gesê ouers het die reg om vrae te vra – en moet dit ook doen – wanneer dit gaan oor die veiligheid van hul kinders.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

23 Kommentare

jongste oudste gewildste
Marius

Sal ‘n kamera buite die deur nie ook kan sien wie in en uit gaan? Vra namens ‘n vriend.

Blikkantien

Dit is ongehoord. Die onderwyseresse doen mos hulle rondtes.

JohanR

Nee jamer Mnr Skoolhoof…..you can swing this any which way you want to, but that camera comes down! As die kamera nie verwyder word nie dan moet ouers ‘n klag by die polisie stasie gaan le, en as dit nog nie werk nie dan hof toe. Wat het julle daar by daai skool Mnr Skoolhoof….’n klomp lekker afloerders? As julle wil ‘n kamera opsit dan sit hom op die muur buite die ingang na die meisies se toilette, of in die gang af na die meisies se toilette. Selfs binnekant ‘n seuns toilet is ‘n kamera nie aanvaarbaar nie. Sies… Lees meer »

Magda

Sit die kamera butie voor die deur – NIE in die badkamers van die meisies nie – NEE

'n Simpelman

Is daar een in seuns, onderwysers en hoof sin ook.
Is dit op algemene vergadering goefgekeur
Is ouers ingelig
Klink of die hoof soos gesê deel van ‘n afloer groep is.

Skandelik. Die hoof moet onmiddellik geskors word.