Vrae oor kos vir GP-hospitale uit Limpopo gekarwei word

Argieffoto bloot ter illustrasie. (Foto: Unsplash)

Die Gautengse departement van gesondheid het reeds R23,6 miljoen bestee om kos vir Gautengse hospitale aan te koop deur – wat die DA beskryf as – ʼn twyfelagtige tender aan maatskappye waarvan sommige nie eens geregistreer is om voedsel te verskaf nie.

Jack Bloom, die DA se woordvoerder oor gesondheid in Gauteng, sê besonderhede oor die kontrak is onlangs in ʼn skriftelike antwoord op sy vrae aan die Gautengse LUR vir gesondheid en welstand, Nomantu Nkomo-Ralehoko, bekendgemaak.

Volgens die LUR het die departement gekies om van ʼn Limpopo- provinsiale regeringskontrak gebruik te maak omdat daar glo tekorte ondervind is, aangesien diegene aan wie kontrakte toegeken is, nie in ʼn posisie was om die ooreenkoms na te kom nie.

Kos wat tot dusver van Limpopo bestel is, sluit in vrugte, groente, suiwelprodukte, vis, eiers en brood.

In antwoord op Bloom se vraag oor hoekom die items nie ingevolge ʼn kontrak in Gauteng gekoop kan word nie, het Nkomo-Ralehoko geantwoord dat die departement “besig is om ʼn kontrak vir voedsel op te stel”.

“Daar is 54 Limpopo-maatskappye as verskaffers van voedsel aan Gautengse hospitale gelys, maar talle is nie in die voedselbedryf nie. Dit sluit in sewe konstruksiemaatskappye,” sê Bloom.

“Waarom verskaf ʼn ingenieursmaatskappy, ʼn sekerheidsfirma en ʼn motorwerkswinkel kos aan hospitale?”

Bloom sê dit lyk of Gauteng by ʼn regeringsbedrogspul in Limpopo aansluit om voordeel te trek uit swak opgestelde kontrakte om moontlike uitbetalings aan ANC-politici te verseker.

“Hoe is dit moontlik dat die departement nie plaaslike maatskappye kan kry om brood en eiers aan hospitale te verskaf nie? En hoekom betaal ons ekstra vervoerkoste vir bederfbare kos?

“Premier Panyaza Lesufi beweer dat hy ʼn voorstander van township-ondernemings is, maar hulle word ook uitgesny.

“Die DA vra dat hierdie kontrak onmiddellik gestaak en dringend ondersoek ingestel word na wie dit gemagtig het en wie daarby baat,” sê Bloom.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

Manie ·

Verstommend hoe slim sommige mense is wanneer dit my skelmheid kom, maar wanneer dit by eerlikheid en harde werk kom, skitter hulle in hulle afwesigheid.

Mariana ·

Maar dit is mos hoe die ANC dinge doen. Daar is geen einde aan die korrupsie nie. Hulle stoom net voort op die spoor van algehele skelmstreke ongeag die belastingbetaler. Dis net hulle, die kaders, wat floreer in die land.

Kokerboom ·

ALLES maar alles waaraan die ANC raak of dink eindig in bedrog/diefstal!!! En nog stem die gesiglose massas vir hul!

Di ·

Die voedsel word seker NIE gelewer nie maar hulle ontvang die betalings daarvoor. TIPIES van die korrupte ANC spul

Pieter ·

plaas dat hulle sommer kos by hierdie pop-up koswinkels op die hoek van elke straat kos bestel man, dis mos vinnig en maklik :)

Jakes ·

Hopelik sal n nuwe regering volgende jaar die land regeer en dan moet die ANC regering en hul spul korrupte kaders vervolg word en baaaaie lank tronkstraf uitdien. Begin sommer by die president.

Bolandse Nooi ·

Wat eienaardig (onverstaanbaar, eerder!) vir my is, is dat die mense op straat almal mor (ons los maar die politici hier uit, want almal is nou daarop uit om goedkoop “brownie points” te kry voor die 2024 verkiesings), MAAR ………. wanneer verkiesingstyd kom, stem die stom, malende massas maar wéér vir die ANC. Hoe werk dit? Jy stamp jou kop teen ‘n baie harde klip en kry seer, maar dan stamp jy jou kop nóg ‘n keer, en nóg ‘n keer en nóg ‘n keer weer teen dieselfde klip?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.