Vrae oor ‘losloperleeu’ in Oos-Kaap

‘n Skermskoot uit die video op sosiale media. (Foto: Twitter)

Die Oos-Kaapse departement van ekonomiese ontwikkeling, omgewingsake en toerisme ondersoek tans bewerings dat ’n leeumannetjie Saterdagaand op die N10 tussen Cradock en Middelburg gewaar is. Die provinsiale departement van vervoer het selfs ʼn waarskuwing hieroor uitgereik.

Die oorsprong en betroubaarheid van die video kon egter nog nie bevestig word nie.

Die video van die leeumannetjie wys hoe die dier rustig in die lang gras langs die pad loop terwyl ’n motoris op sy toeter druk om hom te verjaag. Die video is die naweek op die sosialemediaplatfoms Twitter en TikTok gedeel.

Ncedo Lisani, woordvoerder van die departement, het egter Maandag aan Maroela Media gesê daar word vermoed dat die video nie eg is nie.

“Geen leeu is gevind nie en daar is geen tekens van ʼn leeu wat ontsnap het nie. Nie een van die buurplase [in die omgewing] is daarvan bewus nie en het geen leeu langs die heinings gesien nie.

“Daar is dus in dié stadium niks wat daarop dui dat dit regtig gebeur het nie, maar ons stel ondersoek in,” het Lisani gesê.

Unathi Binqose, woordvoerder van die provinsiale departement van vervoer, het gesê dié departement het nietemin die naweek ’n waarskuwing vir motoriste uitgereik nadat die video versprei is.

“Ons neem dit op onsself om mense te waarsku teen enige moontlike gevare op ons pad. Aangesien die moontlikheid van ʼn losloperleeu ʼn wesenlike gevaar inhou, het ons die waarskuwing uitgereik.”

Binqose het egter óók gesê daar heers nog baie vrae oor die egtheid van die voorval en van waar die betrokke leeu sou kon ontsnap het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

12 Kommentare

jongste oudste gewildste
Lillian

Hierdie video lyk vir my heel eg. Vanuit ‘n trok geneem …

Andries

Stem saam Lillian, lyk vir my ook eg.

Miena

Ja julle… Afika- Suid Afrika in hierdie geval – is nie vir sissies nie. Hier loop die leeus in ons strate . Maar op n ernstiger noot – dis gevaarlik ja vir beide mens en dier indien dit die waarheid is. Hoop maar dat Koning Leeu se kind vinnig opgespoor word en ongedeurd terug besorg word na Leeu Land toe.

Pienkie

Bel “boer soek ‘n vrou” hulle soek mos altyd loslopper mannetjies en vroutjies.

SjN

Misdaad gevalle in daai omgewing sal aansienlik afneem.