Vrae oor Mabuza se gesondheid neem toe

Adjunkpresident David Mabuza (Foto: Motshwari Mofokeng, ANA)

Daar is al meer vrae oor die gesondheid van adjunkpresident David Mabuza, en sy vermoë om sy ampspligte uit te voer.

Die adjunkpresident moes Donderdag vrae oor korrupsie tydens die algehele landwye afsondering antwoord in die Nasionale Vergadering, maar sy kantoor het laat weet hy is te siek om dit te doen.

Dit is nie die eerste keer dat Mabuza se gesondheid inmeng met die uitvoering van sy amptelike pligte nie. Hy is vroeër lank in Rusland behandel, en het sy mees onlangse verskyning in die Nasionale Raad van Provinsies ook afgestel op grond van ongedefinieerde siekte.

Navrae oor die aard van hierdie siektetoestand deur joernaliste en opposisiepartye het egter nog net ontwykende antwoorde opgelewer.

Nou het die DA besluit om dit aan die groot klok te hang, veral nadat amptelike navrae aan die presidensie deur DA-LP Solly Malatsi die skriftelike antwoord opgelewer het dat daar niks met Mabuza se gesondheid skort nie.

Malatsi het aangedui dat pres. Cyril Ramaphosa moet ingryp en optree as Mabuza nie sy werk kan doen nie.

Die ander moontlikheid, het Malatsi voortgegaan, is dat die presidensie die waarheid praat en dat Mabuza bloot beweer hy is siek sodat hy nie verantwoordbaar gehou kan word vir korrupsie tydens die grendelstaat nie, en dat dit ʼn slap poging is om korrupsie toe te smeer.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

15 Kommentare

Sobymykoolkop ·

Glo my, dis laasgenoemde, hy KAN NIE die werk doen nie. Oorbetaalde kader.

Persheks Adri ·

Onbevoegdheid op sy beste! Die hele klomp is onbevoegd en word heeltemal te veel betaal vir NIKS doen nie en skep met!

LD ·

As hy werklik siek is, moet dit ñ baie ernstige siekte wees om in Rusland behandel te word! Maar nou ja, niks is meer absurd in SA nie, dalk het hy gewone winters griep en te veel geld en daarom kan hy bekostig om die “behandeling” (paar griep pille) daar te ontvang. Ons gewone middelklas mense moet maar tevrede wees met die gesondheidstelsel en die behandeling wat ons hier kry anders is dit tickets met ons!

Sobymykoolkop ·

Geen geld betrokke nie LD, hy en sy gevolg vlieg verniet en gratis op jou en my belasting geld. Ja, kos en drank ingesluit. Dis hoe die Nasionale Gesondheid Sorg gaan lyk. Ons staat. En hulle word vir die beste diens rondgevlieg

Grassie ·

Die Rusland storie – hy het destyds saam met die Guptas Rusland toe gevlieg. Kos en drank was natuurlik oorvloedig en gratis. Hy het met so ‘n hewige kopseer in Rusland aangekom dat hy in n hospitaal opgeneem is. Ek wonder of sy siekte nie dalk te doen het met iets wat jou die volgende oggend ‘n ma van ‘n kopseer gee nie.

Gemaskerde Sopbeen ·

Hy moes vrae oor korrupsie beantwoord. Skielik is hy “te siek”. Skielik was hy die vorige keer in Rusland vir behandeling. Klink vir my eerder na vrees en onbevoegdheid, dalk onvermoë om die vrae te beantwoord. Raak dit nou te warm Mnr Mabuza?

Wielspore ·

Volgens inligting is David Mabuza se aanstelling as Adjunk president nie die keuse van CR maar eerder ‘n gedwonge aanstelling vanuit die binnekring van die ANC. Mabuza is ‘n Zuma ondersteuner en was vermoedelik deel van die voordeeltrekkers uit “state capture” sage. Kry hom terug in SA sodat dat hy kan pa staan vir die aanklagte teen hom.

Kosie ·

Wie vra die vrae, of hy nou daar is of nie maak nie saak nie, een minder om nonsens te praat en sy eie idees toe te pas

Gawie ·

So wat is fout met ons eie hospitale? As dit volgens die regering dan so goed gaan in ons staatshospitale, waarom Rusland toe gaan vir behandeling?
Ek dink daar moet ‘n wet wees wat regeringsamptenare verplig om alle mediese behandeling in staatshospitale te ondergaan. Dan sal ons sien hoe vinnig word die hospitale opgeknap!

Botterblommetjie ·

Is hy ooit siek… dalk samesprekings in Rusland.. deesdae moet mens die vraag agter die vraag vrae… hier te veel dinge wat nie meer optel na die verwagte antwoord nie…. Ek voel ons mens wat lees en gewone lewe ly word maklik om die bos gelei….

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.