Daar heers drie jaar ná die Hoërskool Driehoek-tragedie stééds kommer oor die stand van openbare Gauteng-skole se strukturele veiligheid.
Adv. Anton Alberts, die VF Plus se nasionale voorsitter en lid van die Gautengse wetgewer, sê hy onthou hoe die Gautengse departement van onderwys en Gautengse departement van infrastruktuurontwikkeling destyds ná die tragedie geskarrel het om aandag te gee aan die infrastruktuur van skole.
Dit blyk egter nou dat die oorsig oor skole se strukturele veiligheid nie voorkeur oor die afgelope drie jaar geniet het nie en dalk weereens ná gebrekkige inspeksies verval het.
Maroela Media het reeds verlede week ʼn navraag aan die Gautengse departement van onderwys en Gautengse departement van infrastruktuurontwikkeling gerig om te probeer bepaal of ʼn oudit van die provinsie se skole-infrastruktuur gedoen is ná die tragedie wat hom op 1 Februarie 2019 by die Hoërskool Driehoek afgespeel het.
Maroela Media het ook die verslag rakende die ondersoek na die destydse voorval aangevra, maar wag steeds op terugvoer.
Die VF Plus het op sy beurt verlede week vrae rakende skole se infrastruktuur tydens ʼn vergadering van die wetgewerkomitee oor onderwys aan die onderwysdepartement gestel.
Die departement was onseker en het belowe om later terugvoer te gee.
Alberts sê nou die party beskou die situasie as kommerwekkend en het daarom verdere skriftelike vrae in dié verband aan die departement gerig om vas te stel of inspeksies gereeld gedoen word.
“Inspeksies is veronderstel om in terme van die Wet op Beroepsgesondheid en Veiligheid, wet no. 85 van 1993, elke ses maande in die eerste twee jaar van enige infrastruktuur se lewensiklus plaas te vind en daarna jaarliks.
“Die Hoërskool Driehoek-tragedie het duidelik uitgewys dat dit nie gebeur nie.”
Maroela Media het destyds berig Angie Motshekga, minister van onderwys, het in antwoord op ʼn parlementêre vraag aangedui dat inspeksies van die loopbrug – wat by Hoërskool Driehoek ineengestort het – sporadies gedoen is en nie volgens sinvolle tussenposes nie.
Die laaste ondersoek wat die jaar voor die tragedie (Julie 2018) gedoen is, was boonop nie deel van ʼn infrastruktuur-inspeksie nie, maar ʼn ondersoek om die skoolgrootte-kapasiteit te bepaal.
Alberts sê dié inspeksies word gewoonlik gedoen om die politieke ideologie van die departement te dryf om Afrikaanse skole wat nie vol is nie, te dwing om anderstalige leerders in te neem wat uiteindelik Afrikaanse skole tot Engelse skole transformeer. “Dit is baie duidelik dat die departement ideologiese mikpunte baie belangriker as skoolveiligheid ag.”
Vier leerders, Roydon Olckers (17), Jandré Steyn (13), Marli Currie (13) en Marnus Nagel (16), is die betrokke dag dood toe ʼn betonblok van die Hoërskool Driehoek se loopbrug op ʼn groep leerders ná ʼn saalopening ineengestort het. Verskeie ander leerders is dié dag beseer.
Hulle wil almal net salaris hê, maar is te lui of te sleg om die werk te doen
Pateties!!!! Soos met alles anders in ons land wys die anc net weer hul onbevoegdheid om te kan regeer.
Asseblief, hoe belaglik. Die hedendaagse tendens is mos dat die skole afgebrand word want dan kan daar nuwes gebou word. Dus “If you can’t beat them. join them” Brand, die ANC het mos ‘n onuitputbare bron van inkomste.
Hoeveel kinders moet nog seer kry