Vrae oor staatspensioenfonds miljoene rande se grond koop

(Argieffoto)

Groot geheimsinnigheid omhul die aankoop van twee plase buite Klerksdorp in Noordwes waarvoor die staatsdienspensioenfonds (GEPF) volgens ʼn kennisgewing in die Landbouweekblad van 31 Januarie R586,5 miljoen betaal het. Die plase beslaan in totaal net meer as ʼn duisend hektaar.

Dit beteken dat sowat R570 000 per hektaar betaal is, terwyl die algemene prys vir soortgelyke grond in dié omgewing minder as R20 000 per hektaar is. Die betrokke plase is gedeeltes van Palmietfontein (403) en (564).

Maroela Media het vasgestel dat die verkoop van die grond ook voor die kompetisietribunaal gedien het en dat dié op 13 Desember verlede jaar die transaksie goedgekeur het.

Dit het voor die tribunaal gedien om vas te stel of die GEPF in kompetisie met van sy ander beleggings in Noordwes sal wees as die grond gekoop word, maar in die uitspraak is bevind dat dit onwaarskynlik is.

Die grond grens aan die N12 en volgens die tribunaal gaan dit ontwikkel word.

Die Matlosana‑munisipaliteit (Klerksdorp) is bewus van ʼn beplande ontwikkeling wat as Klerksdorp-uitbreiding 44-47 bekend sal staan, maar daar is nog geen infrastruktuur vir dorpsontwikkeling op die grond aangebring nie. Dit kan dus etlike jare neem voor dorpstigting kan plaasvind.

Die tribunaal se uitspraak verwys na die verkoper van die grond as die maatskappy ISAGO at N12 Development (Edms) Bpk, wat by die tribunaal verteenwoordig is deur ʼn groep entrepreneurs wat glo ʼn wye kennis van eiendomsontwikkeling het.

Volgens amptelike dokumente is ISAGO egter tans in deregistrasie. Die maatskappy het ook net twee direkteure, Doreen Crause en Rammata Martin Khunou. Khunou is ʼn mediese dokter op Klerksdorp en Crause woon in Pretoria.

Crause is ʼn direkteur van 38 maatskappye waaronder Anglo Saxon Development (Edms) Bpk wat ʼn 74%-aandeel in ISAGO besit. Karoo Boerdery Trust het ʼn beherende aandeel in Anglo Saxon, terwyl Moedi Bosele Investors ʼn 26%‑aandeel het.

Met die verkoop van die grond het die pensioenfonds ʼn 60%‑aandeel in die grond bekom, terwyl ʼn nuwe maatskappy, ISAGO Holdings, die ander 40% besit. Die SA Militêre Veterane (MVA) besit 1% van ISAGO Holdings se aandele.

Maroela Media het intussen bevestiging gekry dat dit eintlik die pensioenfonds vir munisipale raadslede (MCPF) is wat die grond gekoop het. Dit blyk uit ʼn skrywe wat die MCPF onlangs aan die registrateur van pensioenfondse gerig het.

Daarin word verwys na bedrae van etlike miljoene rand wat ISAGO at N12 aan die MCPF skuld en dat die maatskappy by herhaling nie sy verpligting nagekom het nie. ’n Bedrag van R30 miljoen moes in November 2018 betaal word en die balans in Maart 2019. Toe die ooreenkoms nie nagekom is nie, het die fonds met ʼn aansoek vir die likwidasie van die maatskappy voortgegaan.

Intussen sê die VF Plus in ʼn mediaverklaring dat ISAGO at N12 voorheen betrokke was by ’n transaksie waar meer as R200 miljoen van die MCPF in ʼn grondtransaksie gebruik is. In dié geval het ʼn hof bevind dat R110 miljoen meer betaal is as wat die waarde van die grond was en ISAGO is beveel om dit aan die fonds terug te betaal. Die transaksie het daartoe gelei dat die fonds onder kuratorskap geplaas is.

Dit is nie duidelik of dit hierdie hofbevel is wat die fonds nou genoodsaak het om die plaas oor te neem om die skuld te delg nie.

Die VF Plus se woordvoerder oor finansies, Wouter Wessels, sê die kooptransaksie dui op moontlike grootskeepse onreëlmatigheid met geld van die pensioenfonds. Die party gaan nou die Valke vra om ondersoek na die transaksie in te stel.

Die voorsitter van die Vereniging vir die Monitering en Bevordering van die Staatsdienswerknemers-pensioenfonds, Adamus Stemmet, sê sy vereniging gaan daarop aandring dat die raad van trustees van die GEPF persoonlik aanspreeklik gehou word vir verliese wat met roekelose beleggings gely word.

Die waarnemende voorsitter van die MCPF, Elias Msiza, het nie Maroela Media se navrae beantwoord nie.

Die openbare beleggingskorporasie se kommunikasiebeampte het laat weet dat hy later op navrae sal reageer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Org ·

In dié land maak min sin!!
Die regering wil ons plase afneem sonder vergoeding, maar sodra daar ‘n korrupte geldjie te make is, is hulle bereid om minstens R550 000 per hektaar, meer as die marktendense, te betaal.

Ek probeer ‘n 1000ha plaas verkoop vir R5 000 000 en kry nie kopers nie. Vir die geld wat hulle op daardie grond spandeer het, kon hulle 117 soortgelyke plase gekoop het.

Ek kan maar net lag, al wil ek eintlik eerder huil oor die maklike vermorsing, en nog makliker wegkom daarmee van die verkose leiers en hulle maats.

SomeOne ·

tot die kompetisietribunaal is korrup, kan maar net lag, korrupsie sal nie maklik in die piesng republiek uitgeroei word nie

Scalla ·

Hul kan môre my plaas koop @ daardie prys, ek sal vir n jaar kennis deel.

Wondermaarnet ·

‘n Mens kan dink wat jy wil, maar ongelukkig nie altyd sê wat hy wil nie.

Porseleintjie ·

Weereens eerste plek vir SA in korrupsie. Liewe genade. Dis so volop tot ons suurstof ruik al na korrupsie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.