Vrae oor toelae, gewelddadige protesaksie

(Foto: UV/Facebook)

AfriForum Jeug het Woensdag ’n brief aan die rektor van die Universiteit van die Vrystaat (UV) gestuur om antwoorde te eis oor die groot bedrag geld wat as toelae aan sommige studente uitbetaal is.

Die organisasie eis ook antwoorde oor die brandstigting ná gewelddadige protesaksie wat ’n beraamde R35 miljoen se brandskade op die Qwaqwa-kampus veroorsaak het.

Dié brandstigting is deel van die oproerigheid wat studente veroorsaak het omdat hulle besware het oor die nasionale hulpskema vir studente (NSFAS) se April-uitbetalings.

René van der Vyver, woordvoerder van AfriForum Jeug, sê in die brief aan prof. Francis Petersen word daar onder meer gevra watter dissiplinêre stappe teen die verdagtes van die brandstigting gedoen gaan word, asook watter maatreëls getref is om die verdere ontwrigting van onderrig te voorkom.

Intussen het UV reeds meer as R71 miljoen bestee aan toelae om die betrokke studente te help terwyl hulle wag vir hul NSFAS-subsidies om uit te betaal.

“AfriForum Jeug vind dit betreurenswaardig dat NSFAS die nodige fondse van behoeftige studente weerhou en vra dat UV regstappe sal doen om te verseker dat NSFAS die geld aan UV sal terugbetaal sodat die universiteit die R71 miljoen kan aanwend waarvoor dit geoormerk was,” sê Van der Vyver.

“Hierdie bedrag word nou aangewend om enkele studente te help terwyl dit veronderstel was om tot voordeel van die universiteit en sy studente gebruik te word. Die universiteit moet sy akademiese verantwoordelikhede teenoor alle studente nakom en sorg dat die handjie vol oproeriges nie die hele kampus se akademiese bedrywighede ontwrig nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

3 Kommentare

jongste oudste gewildste
Spook

Jy praat nou van die Demokratiese Volksrepubliek van Kovsiestan. Die skuldiges gaan heel waarskynlik, soos in die verlede, niks oorkom nie. Dit terwyl die rektoraat vir hulle wegneemetes in die selle aandra en vir almal vertel die misdade is glad nie so ernstig nie.

Christine

Ek slaan my hande saam oor mense wat net kan vernietig en NIKS deur onderhandelings vreedsaam kan uitvoer nie. Dis nou ons leiers van die toekoms.

Carolina

Hoekom moet die UV R71 miloen betaal, die studente moet hul besware gaan uitstort met NSFAS, wat de hel het dit met die Universiteit te doen Ek wens ons kon ook in my dae betaal word om te studeer, die wat se ouders dit nie kon bekostig nie het gaan werk!!