Vrae oor top-polisieman by swierige EFF-funksie

EFF-leier Julius Malema by ‘n dinee die afgelope week. (Foto: EFF/Twitter)

Die organisasie Public Interest SA (PISA) het sy diepe kommer te kenne gegee oor berigte dat genl.maj. Feroz Khan, ʼn senior polisiebeampte, een van die BBP-gaste was by ʼn swierige dinee wat as deel van die EFF se tienjaarviering in Johannesburg gehou is.

Khan is tweede in bevel van die polisie se misdaadintelligensie-eenheid.

News24 het vroeër berig Khan het ʼn tafel met die selfverklaarde tabaksmokkelaar Adriano Mazzotti gedeel. Luidens die webwerf het Mazzotti se sakevennoot en goeie vriend van Khan, Mohammadh Sayed, dié kaartjie betaal. Kaartjies vir die formele dinee het glo meer as R100 000 gekos.

Khan het luidens die berig aan News24 gesê hy is daar om te werk – met die implikasie dat hy daar is om die feestelikhede dop te hou – maar die webwerf het ook bevestig dat Sayed vir sy kaartjie betaal het.

Tebogo Khaas, voorsitter van PISA, het Sondag in ʼn verklaring gesê wetgewing verhoed nie polisiebeamptes om vergaderings van politieke partye by te woon nie, maar: “Ons vind die politieke verbroedering van Khan, tweede in bevel by die polisie se misdaadintelligensie-eenheid, met erkende misdadigers en politieke leiers wat tans deur die strafregstelsel ondersoek word as onwenslik, skandelik, ʼn belediging en klap in die gesig van Suid-Afrikaners wat steier onder wydverspreide misdaad.”

Sommige EFF-leiers word betrek by die VBS-skandaal, terwyl Mazzotti luidens berigte vroeër al erken het dat hy en sy maatskappy, Carnilinx, betrokke is by die smokkel van sigarette. Khan is ʼn prominente skenker aan die EFF.

“In die lig van die onlangse bevinding van die appèlhof waarin die finansiële bande tussen Julius Malema, leier van die EFF, en die korrupsie by die nou ontbinde VBS-bank, bevestig word, is die verbintenis ʼn pynlike herinnering vir die slagoffers van VBS-korrupsie van die ongebreidelde straffeloosheid van invloedryke politici, BEE-askari’s en tenderpreneurs,” sê Khaas.

Hy sê hoewel daar dalk geen ooglopende skendings deur Khan is nie, doen PISA nietemin ʼn dringende beroep op genl. Fannie Masemola, nasionale polisiehoof, om ʼn ondersoek na Khan se optrede en sy nabyheid aan diegene in die visier van die strafregstelsel te doen.

“Ons vra die versekering van die polisie dat geen regulasies oortree is nie en dat vinnige en gepaste stappe teen genl.maj. Khan gedoen sal word indien enige wangedrag gevind word,” sê Khaas.

Hy sê in Suid-Afrika se stryd teen korrupsie en misdaad maak dit beslis ook saak hoe dinge lyk en dit maak selfs nog meer saak hoe die optrede van diegene wat openbare mag uitoefen, lyk.

PISA vra ook dat die polisie en ander instellings die opleiding en onderrig van sy senior lede in “etiese leierskap” prioritiseer en dat dié leierskap die hoeksteen van ʼn billike en verantwoordbare samelewing vorm.

“Dit is belangrik dat lede van die polisie en ander staatsinstellings die hoogste vlakke van integriteit, eerlikheid en etiese gedrag handhaaf. Deur dit te doen, sal hulle vertroue vestig onder lede van die publiek en ʼn kultuur van diensbaarheid, deursigtigheid en aanspreeklikheid skep,” sê Khaas.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

16 Kommentare

Harley Davidson ·

Integriteit bestaan nie meer in hierdie land nie die eff wat openlik ‘n rasistiese organisasie is maak sportstadions vol met mense wat hulle beleid ondersteun en die meerderheid van daardie mense word finansiële ondersteun deur die mense wat hulle haat .

annie ·

Kahn en Sayed is goeie vriende… SA is so dankbaar en gelukkig om nou skoon te wees van Mafioso en allerhande groepe met hoofkantore in Dubai en so aan. Tja!

Katinka ·

Vir wie stem ‘n mens, die DA het van die wal afgeval, is EFF dalk ‘n opsie wonder ek. Hulle kani nie erger as die ANC wees nie.

Heinrich ·

Juju het sy politieke opleiding in die ANC se politieke skool gekry as leier van die jeugliga, en op daardie basis dit na die ekstreme vlak gevat met die party wat hy toe geskep het. So ja, hulle het klaar gewys hulle is veel, veel erger.

Koos 100 ·

As daar vir hom betaal is deur ‘n ander party dat hy daar kon gaan werk, moes sy bevelvoerder dit gemagtig het. Hierdie klink na ‘n bog antwoord. Van optrede deur die top bestuur van die SAPS verwag ek nie veel nie.

Di ·

Die Polisie en die Regering is vrot van bo to onder! Meeste van hulle wat ‘n hoe poste sit, is in elke geval self kriminele. Geen wonder ons land is een KRIMINELE NES.

Lillian ·

Polisielede is trots daarop om te wys watter politieke partye hul ondersteun, sit daai rooi beret op hul blou uniform…. Én dit suig ek nie uit my duim nie, ekt dit self gesien.

Jaco ·

Laat my dink aan die Franse revolusie – As die mense nie brood het om te eet, laat hulle koek eet. En ons weet wat met die een gebeur het wat die opmerking gemaak het.

anko ·

Sal graag wil weet of daar opgetree gaan word want malletjies maak net wat hy wil en kom weg daarmee terwyl ander gestraf word. Dis tyd vir optrede

Republikein in die Wes Kaap ·

Die EFF is hard besig om kriminele en hoë koppe in die staat van die ANC weg te rokkel. Die res van kan maar net toekyk. Basies is ons gedoem.

George ·

Want as daar nou een ding is wat wys “ons baklei vir armes en die gewone man op straat” is dit n dinee van R100 000 +

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.