Vrae oor verhogings vir huishulpe

besem-mop-skoonmaak

Foto: Orzalaga/Pixabay.com

Die departement van arbeid is laat met die aankondiging van die jaarlikse sektorale verhoging van minimum lone vir huiswerkers.

ʼn Donker Kersfees staar moontlik huishulpe, kinderoppassers en tuiniers in die gesig omdat werknemers in dié bedryf dalk nou eers in die middel van Desember sal uitvind wat hulle voorgestelde loonverhogings komende van die arbeidsdepartement is.

Die bestaande minimum loon het net tot 30 November gegeld en die nuwe verhogings moes reeds Vrydag in werking getree het.

Talle mense wat hulle huiswerkers meer as die minimum loon betaal, gebruik boonop die persentasie styging as ʼn riglyn vir die verhogings wat hulle hul werkers betaal.

Thembinkosi Mkalipi, die arbeidsdepartement se hoofdirekteur van arbeidsverhouding, het aan Maroela Media gesê die aankondiging lê tans by Mildred Oliphant, minister van arbeid, en sy moet dit nog goedkeur. “Ons sal moontlik eers Maandag weet wat die voorgestelde verhogings is, maar dit moet dan nog in die staatskoerant aangekondig word en dan sal die publiek nog daarop kan kommentaar lewer voordat dit amptelik is,” het Mkalipi verduidelik.

Volgens hom het die kommissie lank geneem om ʼn besluit oor die verhoging te neem in die lig van die nuwe nasionale minimum loon wat na verwagting in Mei 2018 in werking sal tree. Dit het die minister met te min tyd gelaat om betyds ʼn aankondiging oor die sektorale verhogings te maak.

Michael Bargraim, ʼn Kaapse arbeidsprokureur en DA-woordvoerder vir arbeid, het gesê hy het reeds talle navrae oor dié verhoging ontvang.

“Hierdie flater kan net toegeskryf word aan die onbevoegdheid van die minister en haar departement. Dit is weereens net die armste van die armes wat in die steek gelaat word omdat die regering net op homself fokus,” het Bargraim gesê.

Hy het gesê die departement moenie die instelling van die nuwe nasionale minimum loon gebruik as ʼn verskoning oor hoekom die sektorale loonverhogings laat is nie.

“Ek dink buitendien nie die nasionale minimum loon sal stiptelik op 1 Mei 2018 ingestel word soos beplan nie. Verder sal huiswerkers aanvanklik net 75% van die voorgestelde loon ontvang, wat op R15 per uur uitwerk. Ek kan nie verstaan hoe dit daartoe kan bydra dat die departement laat is met die aankondiging oor die sektorale verhogings nie. Ek dink hulle was bloot te lui om hulle werk te doen,” het hy bygevoeg.

Jahni de Villiers, ʼn arbeidsregkenner verbonde aan Agri SA, het gesê haar raad aan werkgewers sou wees om eerder voorbereid en oorversigtig te wees.

“Hierdie werkers se minimum loon gaan in elk geval na R15 per uur opgeskuif word vanaf 1 Mei. So, as jy voel jy moet volgens jou ooreenkoms met jou huiswerker nou ʼn verhoging gee, kan jy daardie R15 per uur as ʼn riglyn gebruik. Dit is in elk geval die minimum wat jy sal moet betaal vanaf Mei 2018 as die nasionale minimum loon in werking tree.

“Sou dit nie dan in werking gestel word nie, kan daar later bepaal word dat dit in elk geval terugwerkend betaal moet word; wees daarom eerder voorbereid,” beveel De Villiers aan.

Die publiek sal egter wel nog tyd hê om kommentaar te lewer wanneer die wetgewing hieroor volgende jaar in die parlement voorgelê word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

Eish ·

Wonderlike terminologie wat die DA gebruik om die department se lof te besing!
Flater.
Onbevoegdheid.
Laat.
Lui.
In die steek gelaat.
Dit laat mens maar steeds met n rooi gesig wanneer die staat op al sy silinders vuur!

Leahim ·

Skokkend hulle moet dit n minimum salaris van tien duisend rand maak sodat die lui mense begin om hulle tuin en huiswerk self te doen

Lena ·

Werklik??? Uhmmmm….daar is ma’s en pa’s wat tot laat saans werk. Dit beteken nie dat almal lui is nie!

Stoffel ·

As jy tot laat werk dan hoef die tuin nie mooi te lyk as jy dit nooit sien nie..

Ilse ·

Dis nou ‘n gruwelike veralgemening! In die land vd blindes is die eenoog koning.

Ouma ·

Moenie oor goed praat waarvan jy niks weet nie. Werk jy van 8 tot 5 en is heeldag op jou voete dan praat ons weer.

Uhm ·

Ja natuurlik! Dan kan nog duisende mense sonder werk sit, en die land nog verder in armoede verval. Ek wonder wat sal d werkloosheidsyfer dan wees? 80%???

Noellene ·

Jy het seker nie n werk nie. Daarom dat jy ander wat heeldag afsloof om nkandla te onderhou kan uitjou as lui.
Hou jou maar in jou ou huisie besig. Jy is te lui om te werk vir jou familie se onderhoud.

Renier Lubbe ·

Goeie gedagte. Dink net nog derduisende sonder enige inkomste.

Mel ·

En dan sit al daardie mense sonder enige inkomste. Vir baie families is dit die enigste geld wat hulle per maand kry. Gaan jy dan vir hulle almal sorg?

Swart Piet ·

Die oplossing is voor die hand liggend. Stel n kontrakteurs aan om die huiswerk en tuinwerk tedoen. Minimum loon is nie op hulle van toepassing nie. So kan ‘n vergoedings pakket met die kontrakteur onderhandel word en albei partye is dan gelukkig. Jy is ook dan nie verantwoordelik vir allerhande bpnuse en verlof ens. nie.

SARIE VAN HEERDEN ·

Ek het 2 uitstekende deeltydse werkers, een vir die tuin en een vir die huis. Een is ‘nZimbabwier wie se dokumente almal in orde is en die ander een van Malawie wat dieselfde het. Ek sal bitter jammer wees om van hul ontslae te moet raak omdat ek hulle nie meer kan bekostig nie, en hulle sal ‘n GROOT probleem he as hulle nie meer salarisse verdien nie. Maar jy kan nie bloed uit ‘n klip uit tap nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.